wat baie van Waterslang en haar steen gehoor het. “Nee, ek moet dit in die hande kry,” sê hy by homself. Dag vir dag gaan hy naby die fontein wegkruip en wag tot Waterslang verbykom. Dan moet hy sy oë nou trek en op skrefies loer, want die steen blits soos die son, en hy sal jou sommer blind maak as jy reguit daarna kyk. Elke dag verdwyn Waterslang om die draai met die steen nog op haar kop, maar elke dag wag die jong man ’n bietjie laer af tot hy die kol palmiet kry waar sy altyd haar steen wegsteek.
Die volgende dag is hy vroeg daar, en hy hou sy lyf gras en bossies sodat Waterslang hom nie gewaar nie en die steen op haar ou plek bêre. Maar sy het haar skaars omgedraai om te drink, toe die jong man nader kruip. Hy gooi ’n karos oor die steen dat dit nie in sy oë moet skyn nie, en hy seil op sy maag weg tot agter die rantjie. Toe hardloop hy tot hy ver genoeg is, en hy begrawe dit onder ’n klip.
Maar kyk, dis darem snaaks. Vroeër was hy net nog ’n jong man. Nou wil almal sy vriende wees. Hulle val eintlik oormekaar om vir hom geskenke aan te dra, en hy word baie ryk en gelukkig. Net saans as die wind van die rivier af stoot en hy Waterslang hoor huil, raak hy onrustig.
Elke dag gaan hy nog langs die rivier waghou om te sien hoe dit met Waterslang gaan, maar haar lyf blink nie meer nie, en haar oë is dof. Maar Waterslang treur nie net nie. Sy wil haar steen hê. Daarom soek sy hulp. Eers vra sy vir Krokodil: “Weet jy nie wie my steen gesteel het nie?”
“Ek het iets geels tussen die palmiet sien roer,” antwoord Krokodil.
Die volgende dag toe Jakkals kom water drink, keer Waterslang hom voor. “Weet jy nie watter geel ding my steen tussen die palmiet gevat het nie?” vra sy.
“Ek het sy spore agter die rantjie gesien,” antwoord Jakkals. “Dis ’n tweebeen-dier.”
’n Paar aande later wei Hasie langs die rivier. “Weet jy nie wie my steen tussen die lang palmietgras uitgehaal het nie?” vra Waterslang. “Dis ’n geel dier wat tweebeen loop.”
“Ek het hom soos die wind sien hardloop,” antwoord Hasie, “met ’n karos in sy hand.”
Toe weet Waterslang sommer dadelik wie se werk dit is. Sy word so kwaad dat sy die hele rivier leegdrink, en toe sy deur die veld wegseil na die mense se vure, rammel dit soos donderweer in haar maag.
Maar die jong man het gehoor hoe Waterslang met die diere gesels en op die spoor kom. Daarom het hy die steen die middag weer stilletjies tussen die palmiet gaan wegsteek.
“Vlug!” skree die mense toe Waterslang haar kop uit die nag steek en die vuur in haar oë weerlig. “Nee, kom ons hoor of ons Waterslang nie dalk kan help nie,” sê die jong man.
“Ek soek my steen,” blaas Waterslang. “Een van julle het dit gevat.”
“Wie sê so?” vra die jong man.
“Krokodil het gesien,” sê Waterslang, “en Jakkals en Hasie.”
“Krokodil is ’n skelm,” sê die jong man. “Jakkals is ’n bedelaar. En Hasie kon nog nooit ’n boodskap reg afgee nie.”
Waterslang weet dat hy die waarheid praat. Daarom laat sy haar kop sak. En haar sugte is ’n stormwind tussen die bossies, en die aarde bewe onder haar trane.
“Moenie huil nie, Waterslang,” sê die jong man. “Moenie sug nie. Kom ons gaan weer kyk. Miskien het jy net sleg gesoek.”
Toe stap hy saam met Waterslang na die palmiet toe, en hy haal die steen uit waar hy dit die middag gebêre het, en hy gee dit vir haar – maar hy sorg dat hy nie daarna kyk nie.
En die mense om die vuur hoor ’n geluid deur die nag soos die lied van baie waters, maar daar is geen wolk in die lug nie. Daarom weet hulle: dis Waterslang wat lag. En toe die jong man weer terugkom, roep hulle almal: “Hy is die beste en wysste man wat daar nog was! Want Waterslang se steen was weg, en hy het dit weer gekry. En Waterslang was kwaad, maar hy het haar stilgemaak. En Waterslang was hartseer, maar hy het haar weer laat lag.” Tot die as koud word en die maan gaan slaap, trap hulle die Dans van die Jong Man en die Waterslang. En hulle pak die jong man toe met geskenke sodat hy nie weet wat om met alles te maak nie.
So bly die jong man ryk en gelukkig, al het hy nie meer die steen nie. En die rivier loop weer, en die golwe spat teen die oewers, en die son blits op Waterslang as sy om die draai geswem kom met die groot wit steen op haar kop.
Kinders van die waterslang
’n Griekwa-geskiedenis
PIETER W. GROBBELAAR
Meneer wil die storie van onse mense hoor? Ons hier aan die lope van die Gariep? Dis onse wêreld dié, meneer, van my tate se tate se tate af. Die rivier is ons lewe; ons leef saam met die rivier. In hierdie dorre land is dit hy wat vir ons water te drinke bring, en vir ons diere. Met sy water maak ons onse tuintjies nat. En die koning van die Gariep is die waterslang. Maar eintlik is hy nie net een nie; hy is baie, al noem ons hom so met die een naam. En dis nie net die water wat vir hom luister nie, maar die wolke en die wind. So leef ons saam met die rivier en die slang.
Ek het man gevat toe ek een-en-twintig jaar oud was. Ek onthou dit sekuur, want my ma het vir my gesê: “Jy is nou mondig, en jy mag maar jou make maak. Ons kan jou nie keer nie. Maar ek sê vir jou: pasop vir daardie man; hy’s ’n nikswerd.”
As ’n mens nog jonk is, en jou bloed is heet, weet jy nie van werd nie. Jy ken net van die ander ding, en jy dink die lekker gaan nie weer opraak nie. En die kinders het gekom: ’n dogter en twee seuns. Toe sien ek, hei, my ma was reg. Hierdie pa van hulle sal maak dat ons nooit iets het nie. Hy bly dan in die wapad. Ek sê vir hom: “Nee, ek gaan jou los. Dis beter dat ons uitmekaar. Jy is net: Volstruis, waar ek kom, is ek tuis. Maar ek is nie van die volstruisspan nie.”
Ek het met my kinders saam op Middelwater gaan bly, want my hande staan vir niks verkeerd nie, en die plaas se mense was bly om my in die huis te hê. Later is ons na Welgevonden, en daarvandaan het ek ’n huisie hier op die dorp gekry en vir die miesiese gewerk.
Toe my dogter, Dina, se speentjies begin dik raak en dit tyd word vir haar eerste maand-se-dinge, het ek geweet: nou moet hy hok toe gaan dat ons hom vir die waterslang gaan wys sodat sy water oor hom kan kom. Dis nie altyd ’n besonderse hok wat ons iewers bou nie; ons skort sommer ’n hoek van ’n vertrek af, en dis waar die hokmeid moet sit – vir ’n week of twee weke, of vir so lank as wat dit nodig is. Hy eet net pap en dikmelk totdat hy goed uitgevars is, en daar mag g’n jongetjiesmens in die omtrek kom nie. Dis alles uit respekte vir die waterslang.
Ek het die waterslang vir die eerste maal gesien toe ek so opgeskote was en my pa my een Sondagoggend na die rivier toe afgevat het. Die slang staan met sy voorlyf hoog bokant die water, net soos ’n man. “Hy moet so tien voet of wat orent wees,” het my pa in my oor gefluister. Die slang kyk op in die rivier tot daar waar ’n mens se sien opraak, en hy kyk af tot waar hy onder ’n mens se sien uitgaan. Sy kop is net soos ’n perdekop, maar sy ore is kleiner. Op sy voorkop dra hy ’n steen soos ’n diamant met vier punte, en die een punt loop so tussen sy oë in af. Hier op sy rug lê ’n streep net soos ’n dadelboom se blaar, ’n bietjie ligter as sy lyf, en dit verander gedurig soos sy lyf verander, want hy kan allerhande kleure wys: swart of rooi of bruin.
Die regte oggend vir die waterslang maak ons vroue die meisiekind daar in die hok paslik reg. Ons trek vir hom ’n rok aan, driekwartmou. Sy hals het ’n kollertjie wat jy bo toesteek, en die rok se soom kom tot onderkant die knie. En ons blom sy gesig mooi uit met wit klei en rooi klei wat ons van die rivier af gebring het.
Dan vat ons ’n swart kopdoek en ’n witte, en ons vou hulle so inmekaar, en ons vou hulle so en ons vou hulle so, met vier punte soos ’n ster, nes die waterslang se steen. Ons maak die doeke op sy kop vas met die een punt wat afloop tussen sy oë in. En ons hang hom twee stringe krale om: ’n wit string en ’n swarte. En ons gee hom ’n klein skilpaddoppie vol droë boegoeblare in sy hand.