man wat suksesvol in sy beroep is. Hy was nog altyd ’n ekstrovert en slaan sonder meer sy arm om Dai se skouers.
“My liewe man! Jy weet nie hoe bly ek is om jou te sien nie! Kom ons gaan gesels! Ek sien suster Saunders het jou toe in ’n goeie toestand hier gekry!” Hy glimlag na Sylvia se kant toe en sy knik net haar kop in erkenning van die ietwat dwarse bedanking vir haar moeite.
Dan verdwyn sy, en die mans gaan sit in die groot en gerieflike spreekkamer. Hulle val dadelik weg met lang en ingewikkelde besprekinge van Charles-Henry se werk. Die kliniek, verduidelik hy, is in dieselfde gebou as die spreekkamers, en bedien ses ortopediste. Dit is volledig toegerus met drie hipermoderne operasiesale en die allernuutste toerusting. Baie van sy erfgeld, erken Charles-Henry, het hierdie dinge moontlik gemaak. Dit heet dan ook die Mounthallow-kliniek. Verder is die personeel hoogs gekwalifiseerd en baie gewillig.
Die gesprek gaan ook oor vooroperatiewe pasiënte, wat nou Dai se verantwoordelikheid word. Hulle is spoedig so verdiep in die nuutste operasietegnieke, wetenskaplike artikels en Charles-Henry se navorsingsprojekte dat die tyd omvlieg, en dis skemer voordat hulle verpoos.
“Wel, daar het jy nou die hele prentjie,” sug Charles-Henry en rek genoeglik met min konsiderasie vir sy Saville Row-pak.
“Ja-nee, ek sal regkom,” stel Dai hom gerus. “Ons is na alles uit dieselfde skool.”
Toe loer Sylvia in om te groet voordat sy huis toe gaan. Sy trek die deur agter haar toe en Charles-Henry leun vooroor.
“Só ’n verstandige meisie daardie. Ek kan nooit genoeg dankbaar wees dat sy dié pos aanvaar het nie . . .”
“Dit glo ek goed,” antwoord Dai. “Maar sê my, hoekom hét sy gekom? En wat maak haar so danig verstandiger as ander van haar spesie?”
Charles-Henry kyk verbaas na hom.
“Wat pla jou, Dai? Jy ken suster Saunders tog? Jy behoort te weet hoe bekwaam sy as operasiesuster was? Hemel, man, tot ou Van Zeust wou niemand anders naby hom hê as hy kom lesings gee in die operasiesaal nie. Jy onthou tog hoe ons as studente daar op die galery ons soms verstom het aan haar buitengewone kalmte en vaardigheid die keer toe Cholms die hartaanval langs die tafel gekry het? Sý was die een wat kop gehou het! Guy’s het ’n week lank daaroor gejuig . . .”
Dai lig sy hand in ’n vredesgebaar.
“Juis, juis! Maar dis presies waarom ek wonder wat haar beweeg het om hiérheen te kom!”
“Dit weet ek self nie. Ek is maar te bly dat sy hier is!”
“Ek begryp . . .”
“Dan is ek bly,” sê Charles-Henry kripties, kyk Dai meteens reg in die oë, en spot fyntjies: “Ek weet jy’s bang vir vroumense, Dai. Ek sou ook gewees het as ek jy was. Jou voorkoms maak natuurlik dat jy heelwat las het van bewonderaars – ’n arme outjie soos ek moet maar op my fantastiese persoonlikheid staatmaak!”
“Gaan vang die haan, hoor!” brom Dai. “As jy weet wat ek moes deurmaak die afgelope tyd, sal jy grys word uit skone simpatie!”
“A . . . jou ma, nè? En die mooi rooikop?”
“Ek het nie geweet dit staan geskryf nie!” sê Dai afgehaal. “In elk geval, dis nou alles verby!”
“Ek hoop so, ou kêrel! Dis nie my saak nie, maar ek dink nie die rooikop sal goed wees vir jou nie! Wat ek netnou wou sê, is dat jy niks te vrese het wat Sylvia aanbetref nie . . . sy . . .”
“Dit weet ek, man!” lag Dai geforseerd. “Ek is nie heeltemal onkundig nie. Ek hou baie van haar. Sê my, waarom is sy nog nie getroud nie? Sy is seker al so agt en twintig, nie waar nie?”
“Ja, maar dit weet ek nou regtig nie. Dit is bepaald nie weens ’n gebrek aan bewonderaars nie!”
“Nee, seker nie,” beaam Dai ingedagte.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.