ja, dink Bernard, hy is seker maar bekommerd oor Grieta. Dalk is sy selfs sieker as wat hy sê. Hy probeer nogtans weer: “Jy sal moet spuit, Hendrik. Die aaropbrengs gaan kwaai benadeel word as jy dit nie gou doen nie.”
“Natuurlik, natuurlik,” sê Hendrik gejaag. “Nou ja, dankie, dok. Ek voel nou beter oor die draad en die koring. Ek wil maar liewer huis toe om te hoor wat die dokter sê,” en hy stap haastig weg.
Terug in sy eie kantoor vergeet Bernard van die Malans. Die inhokkie op sy lessenaar staan toringhoog en hy spring aan die werk om alles weer weg te kry. Daar is ’n kragonderbreking by een van die groeikabinette en hy moet ’n paniekbevange student help om die noodkragopwekker weer aan die gang te kry of maande se werk aan sy proefskrif kan binne tien minute daarmee heen wees.
Die middag ontvang hy ’n besoekende professor van die Oregon-staatsuniversiteit en eers toe dié weg is, kan hy weer aan sy eie werk aandag gee. Hy werk tot sy skouers stram en sy oë moeg is.
So ja, dink hy tevrede, nou kan ek rustig ’n vleisie op die kole gooi en agteroor sit. Dalk roei ek nog ’n entjie op die dam. Dit sal nog lank lig wees. Dit is dan nou eers sesuur.
Maar dit is toe hy met ’n skimp die onpersoonlike digitale syfers van sy lessenaarhorlosie sien dat hy doodstil bly staan. Dit is nie net sesuur nie, sien hy, dit is ook vandag die vyftiende dag van die elfde maand, die dag waarop hy veronderstel is om Lindie van Velden te vergesel na die muurbalklub se jaarlikse geselligheid.
Sy voete kry vlerke. Hy hol die leë gebou uit, al met die pad af huis toe en vergeet skoon om soos ander aande te kyk na die wonderlike uitsig oor die skemerpers dam. Hy sien nie die hadidas wat verskrik en skreeuend opvlieg van die groot grasperke toe hy verbyhardloop nie. Hy is skoon die kluts kwyt. Hy gaan laat wees en boonop het hy vergeet om vir die meisie ’n blommetjie of iets te bestel. Nou sal hy nog by die kafee ook moet stilhou om vir haar ’n doos sjokolade te koop.
Teen die tyd dat hy voor die siersteenkoshuis van die groot skool teen die rantjie stilhou, is hy behoorlik omgekrap. Hy verafsku dit om dinge te vergeet en om te jaag. Nou is hy ruim twintig minute laat ook. Genoeg om enige meisie se bloed te laat kook.
Hy is oneindig verlig toe hy haar in die koshuisportaal inwag en sy met ’n glimlag te voorskyn kom. Sy lyk baie mooi. Haar swart hare lê blink om haar kop en haar donker oë kyk hom vriendelik aan.
“Hallo, Bernard. Moenie so skuldig lyk nie, hoor! Ek wed jy het ons afspraak vergeet.”
“Ek het, ja,” erken hy eerlik. “Dis onvergeeflik van my.”
“Nou ja,” lag sy spottend, “solank jy berou het, is alles reg. Altans, dis wat my ma altyd gesê het wanneer ek stout was.”
Hy lag net, neem haar aan die arm en stap uit voor die groepie nuuskierige toeskouers verder kan aangroei. Toe hy haar in die motor help, sê hy: “Jou ma het jou baie mooi grootgemaak. So vergewensgesind en tegemoetkomend. Sê my, is jy altyd so?”
Sy oordink die vraag; antwoord eers toe hulle by die skoolhek uitry.
“Ek dink dat ek altyd tegemoetkomend is, ja. Maar wat vergewensgesindheid betref, het ek nog nie by sewentig maal sewe gekom nie. Miskien kry ek dit eendag reg as die genade baie groot is . . .”
Hy blik verras na haar. Dan is sy nie net oulik nie, dink hy, maar diep ook, en hy lig sy hand van die stuurwiel en raak haar wang vlugtig aan.
“Ek hou van jou, Lindie van Velden.”
“Dankie,” glimlag sy ingenome en strengel haar vingers inmekaar op haar skoot.
“Jy lyk baie mooi ook, juffrou Van Velden. Rooi pas jou. Agter op die sitplek lê daar vir jou ’n doos sjokolade waarmee ek jou guns wou koop. Dankie dat ek dit nie hoef te doen nie.”
“Doktor Linde,” antwoord sy met haar mooi, welluidende stem, “as dit elke keer so aangenaam is om jou te vergewe soos dié keer, sal ek dit stellig aanhou doen.”
Maar hy skud sy kop heftig.
“Dit sal nie nodig wees nie. Ek sal van nou af altyd betyds wees.”
“’n Man van haastige beloftes,” terg sy hom toe hulle voor die Royal-hotel stilhou, en die woorde kwets hom so dat hy liewer niks verder sê nie. Sy is dalk reg. Hy praat asof daar nog ’n klomp kere gaan wees. En waarom nie? vra hy homself ergerlik af. Ander mans van my ouderdom is lankal getroud. Party is al pa ook. Ek kan ook ’n verhouding met welslae aan die gang hou, veral as my ma in Pretoria is en nie kort-kort sake probeer vooruithelp nie.
“Kom,” sê hy net toe hulle uitklim. Toe hulle by die voordeur van die hotel instap, onthou hy met ontstellende helderheid hoe hy die vorige aand die vreemde vrou se tasse vir haar hier ingedra het. Hy verbeel hom dat hy weer die geur van haar parfuum kry – warm en fluweelsag. ’n Mengsel van frangipani en ander blomgeure, het hy toe gedink. ’n Eksklusiewe geur.
’n Oomblik lank het hy die behoefte om Lindie van haar te vertel. Maar hy stuit die woorde betyds. Wat is daar nou om te vertel? flits dit deur sy kop toe hy saam met haar deur die portaal na die onthaalvertrek stap. Daar het eintlik niks gebeur nie. Niks wat ’n oorvertellery regverdig nie.
Toe hulle almal gegroet het en elk met ’n glasie sjerrie in die hand staan, leun hy oor na haar.
“Hou jy van parfuum?” vra hy onverwags.
Sy is klein en moet haar kop lig om mooi in sy gesig te kyk. Sy lyk effens uit die veld geslaan.
“Waarom wil jy weet?”
“Nou ja . . . ek wil maar solank vasstel waarvan jy hou. ’n Mens weet nooit wanneer verbreek ek dalk weer my belofte en moet ek jou guns probeer koop nie.”
“Haastige beloftes, nè?” sê sy weer en wys speels met ’n vinger na hom. “En waarom juis parfuum? Wat weet jy buitendien daarvan?”
“Nogal baie,” antwoord hy gemaak gekrenk. “Ek is die enigste kind en my ma het tyd gehad om my baie dinge te leer.”
“Ag so? Dan is jy nie net ’n akademikus nie; nog ’n fynproewer ook?”
“Jy kan maar so sê, ja,” knik hy plegtig.
Haar wenkbroue lig en sy pruil.
“Ek sien jy glo my nie, Lindie. Ek sal dit maar moet bewys. Kyk, die jongste parfuum op die mark, dis nou van die huis van Jean-Louis in Parys, is Angelique. Stry?”
Haar mond gaan van verbasing oop.
“Nee, ek stry nie . . .”
“En nog meer: Angelique is natuurlik so genoem om iets engelagtigs in die samestelling van ’n vrou te suggereer. Boonop is dit ’n baie subtiele mengsel van frangipani, magnolia en sekere seldsame naglelies. Almal wit blomme. Die idee wat dit moet oordra, is dié van reinheid en onaantasbaarheid.”
“Wag!” roep sy halt met ’n klein handjie in die lug. “Het jou ma jou dit geleer?”
“Ja, sy het die proses aan die gang gesit. My alles van reukwater vertel. Op ’n toer saam met haar en my pa het ons een keer die suide van Frankryk besoek. Grasse se laventelvelde en dies meer. Daar het my eintlike belangstelling ontstaan. Daar is ’n hele sielkunde verbonde aan die parfuumbedryf, weet jy?”
“Hm, dis gewis interessant. Maar gaan iets van die misterie van parfuum nie verlore nie as jy dit so . . . so klinies ontleed?”
“Kom ons dink daaroor na,” sê hy ernstig. “Ja, tog. Vat nou maar koring. Dis ’n gewas wat my bekoor. Om in ’n geelryp koringland te staan met die son op jou vel, is wonderlik. Dan moet die wind nog net opsteek sodat die are begin golf en jy die geur van ou hout kry. Ek sê jou, dis ekstase.”
“Sien!” sê sy triomfantlik en haar donkerbruin oë glim, “jy het dit nie ontleed nie. Jy het jou net oorgegee aan die herinnering van so ’n oomblik in ’n goue koringland.”
Hy blik haar effens verbaas aan.
“Ja,” sê hy