Deon Meyer

Infanta


Скачать книгу

      Infanta

      Deon Meyer

      Human & Rousseau

I Christine

      1

      Net voor die leraar die bokant van die kartonboks oopvou, staan die wêreld vir ’n oomblik stil en sy sien alles met ’n groter helderheid: Die forse man in sy middeljare met die diamant-geboortemerkie op sy wangbeen, soos ’n misvormde, ligroos traan. Sy gesig is hoekig en sterk, sy hare yl en agtertoe gekam, sy hande massief, ru, soos dié van ’n ou bokser. Die boekrak agter hom dek die hele muur in ’n mosaïek van afwisselende rugkantkleure. Die Vrystaatse laatmiddagson gooi ’n ligskag op die lessenaarblad, ’n magiese kollig op die boks.

      Sy druk haar palms liggies teen die koelte van haar kaal knieë. Haar hande sweet, haar oë soek betekenis in die fynste verandering op sy gelaat, maar daar is net kalmte, dalk onderdrukte, goedige nuuskierigheid oor die inhoud van die karton. In die oomblikke voor hy die panele van die deksel lig, probeer sy om haarself te sien soos hy haar sien – ’n evaluasie van die indruk wat sy wil skep. Die dorp se winkels het niks opgelewer nie, sy moes gebruik wat sy het: Haar hare lank en reguit en skoon, die bloes veelkleurig, mouloos, dalk net te styf vir hier, vir hom? ’n Wit romp wat nou, soos sy sit, tot net bokant haar knieë opgeskuif het. Haar bene glad en mooi. Wit sandale aan haar voete. Klein goue gespes. Haar toonnaels ongeverf, daarvan het sy seker gemaak. Net ’n enkele ring, ’n dun goue band aan haar regterhand. Haar grimering lig, ’n noukeurige onderbeklemtoning van die volheid van haar mond.

      Niks wat haar kan verraai nie. Behalwe haar oë en haar stem.

      Hy lig die flappe op, die een na die ander, en sy besef sy sit op die punt van die leunstoel, effens vooroor. Sy wil skuif, maar nie nou nie, sy sal moet wag vir sy reaksie.

      Die laaste paneel is weggevou, die boks oop.

      “Goeie genade,” sê hy en kom halforent.

      Hy kyk na haar, maar dit is asof hy haar nie sien nie en dan is sy aandag terug by die inhoud. Hy steek een van sy groot hande dieper in. Hy haal daarvan uit, hou dit in die sonlig.

      “Goeie genade,” herhaal hy, sy hande voor hom. Sy vingers toets die egtheid.

      Sy sit roerloos. Sy weet sy reaksie sal alles bepaal. Haar hart klop, sy kan dit hoor.

      Hy plaas dit stadig terug, trek sy hande uit, vou nie weer die panele toe nie. Hy gaan sit, haal diep asem, asof hy tot verhaal wil kom en kyk op na haar. Wat dink hy? Wat dínk hy?

      Dan skuif hy die karton eenkant toe, asof hy dit nie tussen hulle wil hê nie.

      “Ek het jou gister gesien. In die kerk.”

      Sy knik. Sy was daar, om hom te meet. Om te kyk of sy herken word. Maar dit was onmoontlik, want sy het in elk geval aandag getrek – ’n vreemde jong vrou in ’n klein dorpie se kerk. Hy het mooi gepreek, met deernis, met liefde in sy stem, nie so dramaties en afgemete soos die predikante van haar jeug nie. En toe sy uitstap, was sy seker dit sou werk om hierheen te kom. En nou weet sy nie meer nie … Hy lyk ontsteld.

      “Ek …” sê sy, haar gedagtes wat skarrel agter die regte woorde aan.

      Hy leun vorentoe. Hy wil ’n verduideliking hê, dit kan sy verstaan. Sy arms en vingers maak ’n reguit lyn op die rand van die lessenaar, van elmboog tot vingerpunt plat voor hom op die blad. Hy het ’n oopgeknoopte dashemp aan, ligblou katoen met ’n fyn rooi strepie daarin. Sy moue is opgerol, sy voorarms harig waar die son dit vang. Buite klink die geluide op van ’n weeksagtermiddag op ’n klein dorpie – die Sotho’s wat oor straatbreedtes heen groet, die munisipaliteit se trekker wat doef-doef-doef versnel af na die magasyn toe, die sonbesies, die gekap van ’n hamer teen ’n wielvelling en twee honde wat dit afwissel met ’n sinnelose geblaf.

      “Daar is baie wat ek jou moet vertel,” sê sy en haar stem klink klein en verlore.

      Eindelik beweeg hy, sy hande vou oop.

      “Ek weet nie waar om te begin nie.”

      “Begin by die begin,” sê hy sag en sy wil die empatie daarin omhels.

      “Die begin,” beaam sy, haar stem sterker. Haar vingers skep die lang blonde hare van waar dit oor haar skouer hang en gooi dit terug na agter, met ’n ritmiese, behendige beweging.

      2

      Vir Tobela Mpayipheli begin dit laat op ’n Sondagmiddag, by ’n vulstasie op Cathcart.

      Pakamile sit langs hom, agt jaar oud, moeg en verveeld. Die pad van Amersfoort af lê lank agter hulle, sewe uur se ry. Wanneer hy inswaai by die motorhawe, sug die kind. “Nog sestig kilometer?”

      “Nog nét sestig,” sê hy paaiend. “Wil jy ’n koeldrank hê?”

      “Nee dankie,” sê sy seun en lig die 500 ml-bottel Coca-Cola op wat by sy voete lê. Dit is nog nie leeg nie.

      Hy hou by die pompe stil en klim uit. Daar is nie ’n joggie in sig nie. Hy strek sy ledemate, ’n groot swart man in ’n denimbroek, rooi hemp en drafskoene. Hy loop om die bakkie, kyk dat die motorfietse agterop nog stewig vas is – Pakamile se klein KX 65 en sy groot BMW. Hulle het die naweek geleer om in die veld te ry, ’n amptelike kursus deur sand en gruis, water, heuwels, hobbels en slote en dale. Hy het sy seun se selfvertroue met elke uur sien aangroei, die geesdrif wat soos ’n kool in hom gegloei het met elke: “Kyk, Tobela, kyk wat doen ek.”

      Sy seun …

      Waar is die joggies?

      Daar is nog ’n motor by die pompe, ’n wit Polo – die enjin luier, maar daar is geen insittendes nie. Vreemd. Hy roep: “Hallo!” en sien beweging binne die geboutjie. Hulle kom seker nou.

      Hy draai om, wil die deksel op die bakkie oopsluit, kyk na die westerkim waar die son nou kleinkoppie trek … dit gaan gou donker wees. En dan hoor hy die eerste skoot. Dit weergalm oor die stilte van die vroegaand en hy ruk van die skrik, sak instinktief op sy hurke. “Pakamile!” skree hy. “Lê plat!” Maar die laaste woord word gedoof deur nog ’n skoot, en nog een, en dan sien hy hulle by die geboutjie se deur uitkom – twee van hulle, pistole in die hand, die een wat ’n wit plastieksak dra, hul oë wild. Hulle sien hom, skiet. Koeëls klap teen die pomp, teen die bakkie.

      Hy skree iets, ’n diep geluid, spring op, ruk die deur van die bakkie oop en duik in, probeer om ’n skans te wees tussen die kind en die vuurwapens. Hy voel die lyfie bewe. “Toemaar,” sê hy en hoor die skote en die lood wat kermend bo-oor hulle gaan. Hy hoor een motordeur klap, nog een, en dan skreeuende bande. Hy kyk op – die Polo beweeg pad toe. Nog ’n skoot. Die glas van ’n advertensiebord bo hom spat aan skerwe, reën op die bakkie neer. En dan is hulle in die pad af, die Volkswagen se enjin wat te hoog opgejaag word en hy sê: “Toemaar, toemaar,” en besef sy hand is nat en Pakamile bewe nie meer nie en dan sien hy die bloed oor die kind se buik en hy sê: “Nee, Here, nee.”

      Dit is waar dit vir Tobela Mpayipheli begin.

      * * *

      Hy sit in die seun se kamer, op sy bed. Die dokument in sy hande is sy enigste oorblywende bewysstuk.

      Die huis is grafstil, vir die eerste keer vandat hy kan onthou. Twee jaar gelede het hy en Pakamile die deur oopgestoot en gekyk na die stowwerige binneruim, die leë vertrekke. Sommige ligte teen die dak het skeef gehang, kombuiskasdeure het makeer of oopgestaan en al wat hulle gesien het, was potensiaal, die moontlikhede van hul nuwe huis wat uitkyk oor die Catarivier en die plaas se groen velde in die hoogsomer. Die kind het deur die huis gehardloop, sy sportskoene het spore in die stof gelaat. “Hier’s my kamer, Tobela,” het hy van die gang af geroep. En toe hy onder in die hoofslaapkamer kom, het hy met ’n lang fluitgeluid sy verwondering aan die ruimte te kenne gegee. Want hy was gewoond aan die engte van ’n viervertrekhuisie op die Kaapse Vlakte.

      Hulle het die eerste aand op die groot stoep geslaap. Eers gekyk hoe die son agter die donderwolke wegtrek en die skemer stadigaan verdiep oor die werf, hoe die skadu’s van die groot bome by die hek met die donker saamsmelt en hoe die sterre asof magies hul silwer oë oor die uitspansel oopmaak. Hy en die seun, styf langs mekaar met hul rûe teen die muur.

      “Dis