“Nee?” Sy kom orent en draai haar dwars sodat sy hom vol kan aankyk.
Hy maak sy mond oop, sien die skerp vraag in haar oë, laat sy asem met ’n sug uit. En toe: “Nie in hierdie huis nie, my liefste. Ons kan ’n woonstel soek. Dis wel moeilik om te kry, maar ons kan probeer.”
“Maar waarom nie hier nie? Ons kan soveel spaar!”
“En soveel verloor ook.”
Dis uit voordat hy dit kan keer. Hy gryp haar skouers vas en praat met sy gesig by hare asof hy alle weerstand so kan oorkom. “Christine, jonggetroudes wil alleen wees. Ek wil nie soggens vir Fransie en jou pa sien pas nadat ek jou môre gesoen het nie. Ek wil hulle nie nagsê voordat ek saam met jou in die bed klim nie. Huwelike het al hieroor so gestruikel dat opstaan onmoontlik was, glo my.”
Christine wikkel haar skouers onder sy hande, en hy laat los.
Ag hemel, dink hy, laat haar tog net die een keer insien dat ek nie met haar familie wil trou nie. Nooit nie.
Sy sit weg van hom, kruis haar arms voor haar bors en laat sak haar kop skuins, soos wat sy altyd maak as sy dink. Lank sit sy so en staar na die oupahorlosie teen die wit binnemuur wat tik, tik . . . En van agter dié studeerkamerdeur kom die rukkerige staccato van ou Dominee se tweevingergetik, byna soos ’n voël wat pik-pik na sy weerkaatsing in vensterglas. Eben strengel sy vingers saam voor hom en gedagte en gebed raak verstrengel binne-in hom. Ag, Heer, ek het haar lief. Ek wil haar hê en ek wil nie wag nie. Laat sy my kies. Maak dit vir haar moontlik om weg te breek van hulle. Dis tog net van bed en tafel dat ek dit so wil hê.
Uiteindelik lig sy haar kop en daar is trane in haar oë. “Wat moet ek met Pappa en Fransie maak?” vra sy radeloos.
Eben laat sy asem in ’n ongeduldige blaasgeluidjie uit. “Christine, ek vra jou nie om jou rug op hulle te draai nie. Net om saam met my in ons eie plek te gaan woon. Jy kan hulle nog elke dag sien.”
“Jy verstaan nie. Dit sal nie dieselfde wees nie. Vader is so . . . so hulpeloos. En Fransie het my nodig.”
Eben sit ’n rukkie, vat sy geduld mooi saam, en sê toe: “Maar Christine, niks in die lewe bly dieselfde nie. Niks is tog staties nie. Jy kan dinge slegs behou deur self veranderings te maak en jou dan daarby aan te pas. Jou pa en Fransie sal dit gou leer. Maar jý moet die leiding neem.”
“Ek weet, Eben, ek weet. Dink jy werklik dat ek nog nooit hiermee geworstel het nie? Dis net . . . vir my swaar.” Haar mond beef.
“Ek weet,” sê Eben op sy beurt. Hy staan op en trek haar aan haar hande op tot teen hom. “Maar ek kan nie toelaat dat jou pa en jou broer tussen ons kom nie. Hulle plek is naby ons, nie tussen ons nie.” Hy vee met sy lippe oor haar gladde voorkop, druk haar vertroostend vas.
“Goed dan,” sug sy. “Ons kan trou en in ons eie plek gaan woon. Abeedah is immers nog hier.”
“Juis,” antwoord Eben verlig. “Sy was mos nog altyd hier. Dis nie asof die huishouding sal ineenstort as jy weg is nie.”
Christine knik haar kop op en af, maar haar gemoed bly vol. Dis of sy uiting gee aan ’n huil wat lankal iewers gebêre word. Sy rank haar arms om sy nek en snik dit uit. Hy praat sag en mooi met haar, hou haar vas asof sy in diep waters kan wegglip as hy haar sou los.
“Ekskuus tog,” snik-sug sy toe sy oplaas haar gesig na syne lig, “dis nie dat ek regtig hartseer is nie. Ek is eintlik bly, en verlig . . .”
“Toe maar, ek verstaan,” antwoord Eben. “Maar droog af jou gesig, netnou dink jou pa ék is die bron van jou verdriet.”
Dis speels gesê, maar toe sy dit klaar gedoen het, kyk sy ernstig op na hom. “Jy is eintlik, weet jy. Maar dis nie jou skuld nie.”
“Hoe bedoel jy nou?” vra hy verskrik.
Sy lag. “Aag, dis niks vreesliks nie, Eben. Net dat die oorgang van die oue na die nuwe seker maar altyd pyn ook bring.”
“Nou’s jy negatief, my skat. Maar dis ook niks. Ek sal die pyn en trane wegneem, dit beloof ek jou. Kom ons gaan verwittig jou pa dat ons twee verloof raak.”
Christine se mond gaan huiwerig oop. “Ek wil nie verloof raak nie,” sê sy bot. “Mense verbreek heeldag hul verlowings. Kom ons trou liewer net.”
Eben lag kop agteroor. “Nou toe dan! Ek sal jou maar die verloofring saam met die trouring gee.”
Christine knik en staan effens tru. “Wonderlik. Maar kom ons wag nog ’n week of so voordat ons hulle sê. Ek wil eers bietjie aanvoorwerk doen voordat ons ’n formele aankondiging doen.”
Nee, wil Eben dadelik sê, nee. Ons doen al aanvoorwerk sedert die eerste aand dat ek hier kom kuier het. Ons verkondig al ons verhouding van die dag dat ek jou hand die eerste maal oop en bloot voor jou pa en broer vasgehou het en hulle al twee byna in hul middagkoffie verstik het. Jou pa was bloot verbaas. Maar Fransie was verwoed. En sy woede het nie afgeneem nie en sal ook nie solank ons katvoet om hom loop nie. Kan jy dit dan nie insien nie?
Maar hy swyg. Glimlag net. “Nes jy wil, Christine. Maar net ’n week lank gaan ek wag. Volgende Sondag gaan ek vir jou pa van ons planne sê. En ek wil dan so gou moontlik trou, Christine. ’n Man bereik ’n stadium dat hy weet wat hy wil hê. En ek wil jou nou hê. Ek wil elke beskikbare oomblik by jou wees.”
“Ek voel ook so, Eben,” antwoord sy sag en reik weer uit na hom. “Dis of daar iets haper as jy nie by my is nie.”
En toe hy haar weer soen, is haar oorgawe sag en volkome, asof daar nooit ’n strydige woord gesê is nie.
“Chrissie?” klink Abeedah se stem in die gang, en Eben laat haar traag gaan. “Die ete is op die tafel!”
Toe hulle in die gang af stap, raps Christine met haar vinger teen die studeerkamer se deur. “Kom, Pa!” roep sy goedig, en hulle hoor die geskraap van die ou man se stoel soos hy opstaan agter sy swaar lessenaar.
In die eetkamer waar Abeedah reeds die lig aangeskakel het, gaan staan hulle by hul stoele, en toe dominee Delange binnekom, groet Eben hom warm met die hand.
“Naand, dominee.”
Dominee het dit gebly, en dit pla hom ook nie. Die titel pas waarlik by die waardige ou mens, spierwit van haar en broos van been in die effens verslete donker pak wat hy weeksdae dra.
Sondae vat hy hom uit in ’n pikswart pak en neem plaas net agter die ouderlinge, waar hy roerloos deur die erediens sit. Soms skyn dit asof hy meer mymer, dalk meer herroep, as wat hy luister. Maar van hom hou Eben tog, al begryp hy hom nie aldag nie.
Ook nou, nog vasgevang in die betowering van sy en Christine se omhelsing, kan hy met groot deernis na haar pa kyk. Al is dominee Delange, emeritus, skynbaar blind vir die rede waarom Eben Malan, lektor in die regte, al twee jaar lank so knaend aan sy tafel sit.
“Naand, Eben,” groet hy met sy droë vriendelikheid en gaan sit op sy stoel aan die bopunt van die tafel. “Jy skep ook seker asem vandat die studente weg is, nè?”
“Inderdaad, ja,” glimlag Eben. En dink: ek hou asem op as ek dink wat ek u wil vra, dominee. Want u sien my as ’n toevoegsel tot hierdie huishouding. En dit is ek nie.
“En Fransie?” vra dominee, en kyk soos al die ander kere dat Eben aan hierdie tafel geëet het, vaag in die rondte asof hy verwag dat die seun skielik sy kop bo die tafel sal uitsteek.
“Ek gaan hom gou roep,” sê Christine haastig.
Hulle hoor haar voetstappe op die gang se kraakvloer, haar klop aan Fransie se kamerdeur. ’n Dralende stilte, en dan hul stemme, eers sag en dan stygend in toon en tempo.
“Mens kry hom moeilik aan tafel as hy eers aan ’t lese is, “ sê dominee, maak heserig keel skoon en voel-voel na sy servet in die kleinbordjie langs hom. Eben leun vooroor en lig die deksel van die groot pot in die middel van die tafel af. ’n Smullekker kerriegeur trek daaruit. Hy hou sy hand uit na die dominee se bord. Sonder