Helene de Kock

Gruispad na Tóg Wat


Скачать книгу

      

      Gruispad na Tóg Wat

      Helene de Kock

      Human & Rousseau

      1

      Dis doodstil rondom hom. Die oggendgrou is maar pas verdryf en die wêreld slaap nog. Waar hy staan, is dit ruig, begroei met dik somergroen grasse en jong lote, en dieper in staan die populiere dig met blare blink-fladderend in die môreluggie. Maar voor hom, sover as wat die oog kan sien, rol die bultende, geelryp koringlande van Tóg Wat, erfplaas van die Nienabers. En hy is Pierre Nienaber . . .

      ’n Nienaber van die Nienabers, soos die mense sê. ’n Rasegte Riemlander uit die room van die Vrystaat. Enigste erfgenaam van ou Koot Nienaber; oogappel van sy moeder Susan; aanstaande skoonseun van ou ryk Giel . . . en die joos weet wát nog alles van wát, dink hy, en verbaas hom dadelik dat so ’n banaliteitjie kon uitglip uit sy andersins so gedissiplineerde gedagtegang. Vanwaar tog ’n mens se gedagtes? wonder hy met deesdae se nuwe soort verlange; vanwaar ook jou begeertes? Waarom staan storm en drang sommer een oggend saam met jou op en dwing jou soos ’n kopsku resiesperd ál weg van die gekarteerde baan af?

      Sy oë dwaal na waar ’n grys rokie bo die werkershuise begin spiraal, en hy sien ’n paar kinders uitkom om kroeserig teen ’n oostemuur in die sonnetjie te gaan sit – die vaak nog meester oor hulle. Dis net hy wat geen slaap in hom het nie, wat geen rus deur die nag kon kry nie, en nou ook geen frisheid in die oggend nie.

      Waar, wonder hy vir die soveelste maal, gaan soek ’n mens die oorsprong van ’n gedagte, of die bron van ’n vae onrus – iets wat jou soos klam mis oortrek en wat jy nie kan raak vat nie? Hierdie swart bedruktheid betas hom nou al ses dae lank vanuit ’n donker hoek, en dis al asof hy nie self lig daarop wil werp nie. Bang? vra hy homself af. Ja, dalk tog ’n bietjie bang! ’n Mens lê nie graag die vinger op ’n ding wat soos ’n ploeg die gladde oppervlak van jou lewe kan kom omdolwe nie.

      Dit het begin kop uitsteek verlede Saterdag toe hy en sy pa ’n paar laaste draaie by die stropers in die lande gemaak het, en Koot Nienaber hom op sy kortaf manier na sy seun gewend het, pas nadat hulle in die bakkie teruggeklim het.

      “Wanneer,” het hy gevra, “besluit jy en Lizette waar ons julle opstal moet bou?”

      Miskien was dit die blote vraag, of dalk die manier waarop sy pa homself en al die ander belangstellendes ingesluit het by die bouery van sy en Lizette se huis, hy was nie seker nie – maar verset het soos ’n skielike sooibrand in hom opgestoot. Hy het die venster aan sy kant afgedraai en vir die eerste keer geïrriteerd gevoel dat sy pa hom nooit toelaat om te bestuur as hulle twee alleen is nie. Hoog tyd ook, het hy besluit, vir ’n man wat die honneursgraad in landbou met lof gekry het, om krapperig te raak oor dingetjies. Hy het sy oë gehou op die geel stroper wat soos ’n gulsige, monsteragtige sprinkaan deur die koring vreet, en ongeërg, onbelangstellend gevra: “Hoe bedoel Pa nou?”

      Hy kon aan die besliste manier waarop sy pa die bakkie in rat sit, en die gewoer van die agterwiele toe hulle wegtrek, hoor dat hy hom kwaad gemaak het. Sy pa hou nie van woordspeletjies nie; hy hou daarvan om tot ’n punt te kom en sy make te maak.

      “Ek bedoel,” het die ouer man nietemin geantwoord, “dat julle darem nou al lank sloer. ’n Mens begin wonder of julle ooit nog wil?”

      Dit was sy beurt om kwaad te word – ’n kwaad wat ontspring het uit sy aanvanklike verset, en smeulend ontvlam het in sy woorde. “Ons sloer nie, Pa, ons leer mekaar ken. Ons jonges spring nie in ’n ding soos . . . soos júlle . . .”

      “Pierre!”

      Die enkele woord was genoeg. Hy het goed geweet hy’t te veel gesê, maar hy het ook geweet dat hy rede had om seer en kwaad te voel. Al het sy pa se woorde ook hul oorsprong in opregte vaderliefde gehad. ’n Man moet tog sy eie ding kan doen sonder deurlopende kommentaar van buite! En hy wás jammer dat hy na sy pa se mooi verhouding met sy ma in daardie verband verwys het. Hoe sal sy pa tog ooit verstaan dat hy en Lizette wat mekaar van kindsbeen af ken en liefhet, tóg nie oorhaastig is om te trou nie? En nie net dit nie: hulle is nie rég vir ’n huwelik nie. Sy pa, wat net op ’n dag sy ma in ’n vol straat sien loop, haar agterna gesit, en homself aan haar voorgestel het; sy pa, wat met haar getrou het net drie maande ná daardie onkonvensionele ontmoeting en dit, dank die hemel, nog nooit berou het nie – hoe sal hy kan verstaan dat hy wat Pierre is, Lizette ook werklik liefhet, maar tog geen begeerte voel om hom en haar nou al te bind nie?

      “Goed dan,” het sy pa weer probeer, “wanneer julle mekaar dan goed genoeg ken, moet jy my laat weet waar julle die huis wil hê – bo-op die bult naby die rooi land, of onder by die klofie en die populierbos. Dis nogal mooi dáár.”

      So gaan dit, het hy wrang gedink. Op Tóg Wat is dit Pa wat neul oor my en Liz, en op Sterk Water is dit oom Giel wat sit en droom oor die dag wanneer ek met sy enigste ooilammetjie trou. Die rede is natuurlik voor die hand liggend: Tóg Wat en Sterk Water grens aan mekaar, en na die troue sal Koot en Giel kan agteroor sit en rus. In teorie, natuurlik. Dis die ou klassieke situasie waar ouers graag hul kind met die geskikte – wat dit ook al beteken – lewensmaat getroud wil sien. En in dié geval is daar ook ’n hele paar byvoordele: ’n gesamentlike boerdery in die samesnoer van twee groot erfplase; ’n duur droogoond met slegs een eienaar (in teorie!) pleks van twee . . . Eintlik behoort ek rasend van dankbaarheid te wees, het hy skaam gedink; nie elke landboustudent kan gaan boer nie, en dan boonop op só ’n skaal en met geen skuld nie! Ek en Lizette sal ’n splinternuwe huis betrek, een wat ongetwyfeld elke luukse sal hê, en ek sal ’n boer met bates wees – nie net die ooglopende bates nie, maar ook dié waarvan die banke alte graag sal wil weet. Miskien sal dit na alles nie so sleg wees nie. Miskien . . .

      Dit het hom meteens laat dink aan die oorsprong van die plaas se naam, Tóg Wat. Volgens oorlewering het van die eerste Nienabers hier aangekom, die tóé nog wilde graswêreld bekyk en gemeen dat hulle miskien, miskien hier ’n bestaan sal kan maak. En hulle het terstond hul plek afgebaken en dit Miskien Tog gedoop. Ná twee jaar van wonderlike oeste en sonnige voorspoed is die plaas blymoedig herdoop na Tóg Wat. Nou ja, het hy mismoedig gedink, miskien sal ek tóg hier kan leef en gedy.

      Sy pa moes sy swye as ernstige en positiewe nadenke vertolk het, want hy het hom lig op die skouer geklop toe hulle langs die droogoond by die skuur stilhou.

      “Ja wat, dink maar daaroor. Jy het nie net teenoor jouself ’n verantwoordelikheid nie.”

      “Hm,” het hy nog half ingedagte geantwoord, “teenoor Lizette seker ook.”

      “En teenoor Tóg Wat. Daar moet ’n erfgenaam wees vir Tóg Wat én Sterk Water.” Die gedreun van die oond vlakby het sy woorde gedemp laat klink.

      Dis tóé dat Pierre wawyd nugter geword het, en – koud geskrik – na sy pa bly staar het. Op sy pa se bruin, verweerde gesig kon hy duidelik sien dat dit ’n kwessie is wat al lank by hom spook. Dalk by oom Giel ook. En by wie nog . . .?

      “Pa!” het hy gesê, sy stem sidderend van skielike erns. “Ons is nog nie eens verloof nie!”

      En toe het sy pa se onderliggende ongeduld deurgebreek: “Nou ráák dan verloof, magtig, man!”

      Die bakkie het vir hom te klein geword; dit het kompleet gevoel asof die staalkajuit soos ’n vuis om hom saamtrek, en hy het uitgespring, die deur onsag toegemaak en blindweg aangestap droogoond toe – die dreuning van die masjien op dieselfde frekwensie as die woede-vibrasie in sy liggaam. Hy het verby die stilstaande trekker geloop, waaraan die masjien van die droogoond gekoppel word, tot by die groot silinder waarin die nat, vars gestroopte koring drooggeblaas word, en met sy hand aan die werker beduie dat hy maar kon loop; hy sou sy dienssessie by die oond oorneem. Die man het geglimlag en verkas, en Pierre het ’n vinnige, geoefende oog oor die oondtemperatuur gegooi en gaan sit, toegelaat dat die brul van die masjinerie sy denke verswelg en dreunend die emosie by hom oorneem. Dit was tóé dat hy met soveel bedruktheid begin dink het aan sy mooi toekoms, met soveel sorg vir hom uitgelê deur sy pa, sy ma, oom Giel. Net Lizette het nog nooit teenoor hom ’n woord gerep of ’n vinger gelig om sy aandag te vestig op hul toekoms saam nie.

      Lizette, lieflike Lizette, dink hy waar hy nou na die oggendlig staan en kyk. Sy Lizette met die swart hare en dromerige blougroen oë.