lid van die studenteraad en ook lank lid van die huiskomitee, het hy respek op alle vlakke afgedwing.
“Pierre!” roep mev. Van Greunen uit toe sy die deur vir hom oopmaak, “maar dis gaaf dat jy kom kuier het!”
Maar hy skud sy blonde kop. “Ek kom nie net kuier nie, mevrou,” sê hy toe hy gaan sit in die bekende sitkamertjie van hul woonstel aan die koshuis. “Ek kom verder studeer.”
“O?” Sy probeer nie eens haar verbasing verbloem nie, en lyk verlig toe haar man se studeerkamerdeur oopgaan en hy binnekom.
“Pierre – dag, man!” groet die gryskopman met ’n breë glimlag. “Ek wou sê dis jou stem wat ek hoor. Nou waar’s Lizette?”
Nes altyd! dink Pierre. Prof. van Greunen slaag steeds daarin om sy vinger rég op ’n seerplek neer te sit. Wonderlike vermoë wat dié man het om reg deur ’n mens te kan sien, soos menige student al moes ontdek.
Pierre groet hom met die hand en antwoord reguit: “Sy het verlede week begin skoolhou op Bethlehem.”
“Ek sien,” sê die professor net, gaan sit langs sy vrou op die bank.
“Jy kom seker terug koshuis toe?” vra mev. Van Greunen. “Hier is heelwat opseggings en ek is seker ons sal dit kan reël; jy weet mos ons is altyd maar te bly oor die meer senior studente.”
“Nee, mevrou,” antwoord Pierre met ’n stram laggie, “ek dink tog nie so nie, maar baie dankie.”
Dié slag sit die professor vorentoe. “Waarom nie?” vra hy, en dis ’n vraag wat ’n antwoord wil hê.
Pierre weet ook beter as om nou ompaadjies te loop. En hy sê: “Ek wil nie weer op die ou paaie loop nie, professor.”
“Hmf! Klaar met die dinge van ’n kind, nè?” spot die ouer man fyntjies en merk die gloed wat in die sterk, jong nek klim. “Wel, hier is nogal heelwat losiesplekke in die omtrek. Jy sal seker nie te ver van die universiteit of die proefplaas wil wees nie?”
“Nee,” skud Pierre kop, “u het dit reg, ek wil graag sommer hier naby woonplek kry.”
“Nou ja, dan het ek net die plek vir jou,” sê mev. Van Greunen. “Hier is ’n ouerige vrou wat kamers uithuur aan nagraadse studente. Daar is ook ’n paar mediese studente, maar almal so van hul vierde jaar af. Dit gaan glo stigtelik, hoor ek.”
Die uiteinde van die saak is dat mev. Van Greunen sommer dadelik dié mev. Postma bel en een van die twee laaste kamers wat nog beskikbaar is, vir Pierre in die hande kry. Pierre is haar innig dankbaar, want in der waarheid het hy vir ’n kamersoekery nie juis die hart nie. Hy verlang ineens so na Lizette, na haar fisieke nabyheid, dat sy keel skoon wil toesnoer by die gedagte dat dit hy is wat hom op hierdie weg begeef het, wat, soos dit vir hom voel, al verder van haar af weglei.
Nadat hy saam met die twee ouer mense tee gedrink het, en beloof het om gereeld te kom inloer, groet hy hulle en vertrek na die adres wat mev. Van Greunen aan hom gegee het.
Hy is skaars uit sig of mev. Van Greunen draai bekommerd na haar man. “Wat dink jy, Klaas? Is daar fout tussen hom en Lizette?”
Hy vryf ingedagte oor haar skouer. “Nee . . . Nee wat, ek sou nie so sê nie, maar ek dink dat ons in die tyd wat kom, baie aan Pierre Nienaber sal moet dink. Hy is ’n algehele individualis, en hy het homself nog nie gevind nie. Hy was nog altyd ’n gedrewe soort mens, maar die laaste paar jaar was Lizette hier om hom te laat vergeet van sy soeke. Sy is mooi en intelligent genoeg daarvoor, jy weet dit tog.”
Sy knik.
“Maar nou is sy nie hier nie; ek wil haar amper krediet daarvoor gee dat sy hom teruggestuur het.”
“Ek stem saam,” sê mev. Van Greunen, “maar ek glo tog nie Pierre laat hom heeltemal deur haar lei nie.”
“Nee, natuurlik nie, my vrou! Nie hý nie, hy behoort aan homself, maar hy het haar lief!”
“Ja, o ja . . . Dit kon ’n mens sien elke keer dat hulle hier by ons kom tee drink het. Ek sal hulle mis. Hulle was van dié wat gereeld hier gekom het.”
“Ja,” beaam die professor, en voeg by: “Ek sê dit nie maklik nie, maar vir Pierre Nienaber is daar net een vrou, en dit is Lizette de Wet. Ek hoop net hy kom ook iewers langs die pad tot dié slotsom.”
“Ek gaan ’n ogie oor hom hou,” besluit mev. Van Greunen dadelik. “Ek het hom mos darem voor my oë sien mens word hier.”
“Jy doen dit nie,” belet die professor haar. “Hy wil nou ’n mán word, wat triomfantelik uit die stryd tree, en hy gaan nie daarvan hou as sy ma saamgaan oorlog toe nie!”
“Nou praat jy in raaisels!” beskuldig sy.
“Glad nie. Wat se skielike gestudeerdery is dit met hom? Dit was nie nodig dat hy hiérheen kom vir sy meestersgraad nie. Met spesiale vergunning kon hy net daar op Tóg Wat aan sy tesis gewerk het, en af en toe ingekom het universiteit toe vir kontrolering. Nee, hy wou wég, en ek dink nie hy weet self waarheen nie. Ek ken hom mos.”
Sonder baie soek, kry Pierre mev. Postma se huis. Dis ’n groot ou plek, net ’n paar blokke van die proefplaas af, in ’n erf vol jakarandabome. Toe hy uit die motor klim en eers ’n rukkie bly staan, is daar ’n suisende stilte om hom. Hy kom oomblikke later agter dat dit die wind in die kantagtige blare van die jakarandas is. Dis so rustig, dink hy, en dit stel hom ook gerus. Ook die aanskoue van die kalm ou huis met die groot houtluike, toegemaak teen die warm son, laat die gefladder op sy maag bedaar. Dis ’n gewone huis, geen Sodomsplek nie, dink hy, en kry toe lag vir sy eie grondelose vrees. Waarom dink hy ook nou juis dat hy gebyt gaan word vandat hy sy kop in die ding gesteek het? wonder hy. Gee toe aan homself dié lawwe antwoord: omdat ek ook maar altyd meer astrant as dapper is! Watter verstandige siel sal ’n meisie soos Lizette van hom af laat weggaan en self in ’n windrigting laat spat as hy met haar kon getrou het en in ’n betaalde huis op ’n erfplaas kon gaan woon? Miskien lê hierin juis die toets van sy verstandigheid . . .
Hy laat die oop motordeur onder sy hande met ’n slaggie toeklap en skrik effens toe die voordeur skielik oopgaan en ’n klein bondeltjie meisiekind met ’n bos heuningkleurige hare uitgewaai kom. Sy steek op een been op die stoeptrappie vas, skud die skouerlengte hare uit haar oë en kyk ietwat verbaas na hom, spring toe weer weg soos ’n klein wilde perdjie om die hoek van die huis. Hy wil eintlik lag kry vir die meisiekind se haastigheid. Hy bly half afwagtend staan en kyk lank nadat die fladdering van haar wye geel rok reeds verdwyn het. Toe stap hy met die trappies op en klop aan die voordeur.
Die vrou wat die deur oopmaak, is duidelik in haar vyftigerjare en het ’n kalm gesig. Sy is smaakvol gekleed en sy dra haar gryswit hare in ’n bolla.
“Jy moet Pierre Nienaber wees,” sê sy toe hy nog asemskep vir ’n groet. “Ek is mev. Postma.”
“Aangename kennis, mevrou.”
Sy nooi hom in en hy stap saam met haar deur die ruim voorportaal met sy blink kleiteëls na die sonnige sitkamer waar gemakstoele in groepe van drie of vier gerangskik is. Ronde koffietafels met potjies blomme op voltooi ’n mooi prentjie. Hulle gaan sit naby ’n groot venster, wat op die voortuin uitkyk, en mev. Postma stel hom sommer dadelik gerus: “Jy behoort daarvan te hou hier, mnr. Nienaber. Almal wat ek inneem, is ernstige studente en hier is nooit groot lawaai nie.”
Pierre bedank haar en hulle bespreek nog ’n paar kleinigheidjies. Toe stel sy voor dat hy kom kyk of hy van die kamer hou.
Die kamer is op met die trappe, die eerste deur links. Pierre is aangenaam verras. Dis ’n besonder groot kamer met ingeboude kaste en plankvloere met ’n los mat. Die venster laat baie lig in, en hy kyk slegs vlugtig rond voordat hy aan haar sê dat dit presies is wat hy wil hê.
Dis eers ’n paar uur later, toe al sy goed uitgepak en reg is, dat hy ’n oomblik lank op die enkelbed gaan lê en dut – en homself oopstel vir gedagtes en herinneringe aan Tóg Wat en aan Lizette.
Die laaste paar weke op die plaas was moeilik.