Sarah du Pisanie

Die Suidwestertjie


Скачать книгу

      “Dankie, Magda, maar ek het vir Blommetjie gesê ek sal seker hier teen nege-uur se kant met ’n af nek in die gang lê.”

      Almal lag en Alet vra nuuskierig: “Wat sê Blommetjie toe?”

      “Sy sê as ek my mond toehou en maak asof ek keelseer het, sal ek dalk hou tot halftien.”

      Die meisies skater dit onvroulik uit van die lag.

      “Ou Blommetjie is nogal gevat. Ek kan dit amper nie glo nie.” Sankie lag ongelowig saam met die ander.

      Sarie tel haar handsak stadig op en stap soos ’n vrou wat die wêreld se laste op haar skouers dra na die deur. Sy wuif met ’n slap handjie.

      “Vaarwel, ouens … ek laat my ouers se adres by Blommetjie.”

      “Ek hoop die baas neem jou nog onder hande oor die blouwildebeesstorie,” spot Sankie ongevoelig, maar haar oë is sag toe sy die bedremmelde figuurtjie agternakyk.

      Sarie draai skielik om en staar hulle met groot oë aan. “Hy het niks daarvan gesê nie. Dalk het hy nie gehoor nie.” Sy klink taamlik onoortuigend en lees haar vermoede in die vier paar ernstige oë wat haar sonder ’n glimlag aanstaar. “As julle so ’n roggelgeluid hoor, moet julle weet dit is my laaste asem …” Sy verdwyn stadig by die deur uit en stap met trae voete na haar nuwe kantoor.

      Kantoorwerk is seker maar oral min of meer dieselfde en Sarie snap vinnig wat van haar verwag word. Juffrou Van der Walt raai haar aan om deur die korrespondensie te blaai sodat sy op die hoogte van sake kan kom en kan sien watter soort briewe Hugo Kritzinger dikteer.

      “Kom ons gaan eet, Sarie. Ná ete moet ek terug na my kantoor en dan sal jy alleen hier moet klaarkom. Jy hoef net te bel as jy nog iets wil weet.”

      “Ja, juffrou, en baie dankie.” Sarie se stemmetjie klink bang en verlore.

      Sy stap vinnig saam met juffrou Van der Walt na die kafeteria, maar koop net ’n toebroodjie wat sy sommer in die kantoor sal eet; sy wil nog gou ’n paar lêers deurkyk.

      Hugo Kritzinger moes seker ook uitgegaan het vir ete terwyl sy weg was om die toebroodjie te koop, want sy kantoordeur staan oop en hy is nêrens te sien nie.

      Sarie blaai deur die korrespondensie en oefen ’n bietjie haar snelskrif. Sy tik op die vreemde masjien om haar vingers in oefening te kry en ruim dan die lessenaar op sodat alles netjies is voordat hy terugkom.

      Sy gaan staan voor die venster en staar uit oor die nat stad. Sy wens sy was nou in haar ma se kombuis waar dit na koffie en beskuit ruik; die gesellige, ruim kombuis met sy groot ou stoof wat die hele kombuis verwarm …

      “Juffrou!”

      Sarie spring verskrik om. Hugo Kritzinger gluur haar nors aan vanuit die kantoordeur. Sy het hom sowaar nooit gehoor terugkom nie.

      “Ja, meneer?”

      “Dit is nie veronderstel om ’n maand vakansie te wees nie, juffrou … e …?”

      “Wessels,” help sy hom verskrik reg.

      “Juffrou Wessels, daar staan al my tikwerk nog op my lessenaar. Jy het nog niks gedoen nie. Wil jy dalk hê ek moet vir jou kom wys hoe werk die tikmasjien?” Sy woorde drup van sarkasme.

      Sarie byt op haar tande en tel tot tien, maar sy sien nog steeds rooi kolletjies. Sy lig haar ken beslis en stap sonder ’n woord by hom verby na sy lessenaar waarop ’n mandjie tot oorlopens toe vol werk staan. Vinnig tel sy die mandjie op en stap weer uit.

      “Juffrou!”

      In die deur kom sy vinnig tot stilstand en draai stadig om.

      “Dit is nie nodig om jou te vererg nie. Jy kan mos vir jouself dink dat ek nie die hele dag hier sal sit en niks doen nie.”

      “Ja, meneer.”

      Sarie sien met genoegdoening die onbegrip in sy oë. Hy het natuurlik gedink hy sal haar onkant betrap en haar sodoende dwing om weer iets onverantwoordeliks te sê sodat hy die storie van die blouwildebees kan ophaal. Maar hy het hom misgis. Sy sal haar tong só in toom hou dat nie eens ’n onverantwoordelike kreuntjie oor haar lippe sal kom nie.

      Sarie sug en sit die mandjie vererg op haar lessenaar neer. Hy kon haar mos maar net gesê het. Sy weet mos nie hy gaar die goed dáár op nie. Sy kners op haar tande en begin die mandjie sistematies uitpak.

      Driftig draai sy papier in die tikmasjien en stadig hoop die briewe en kontrakte aan die ander kant van haar tikmasjien op. Haar blaaie pyn van moegheid en sy kan die branderigheid agter haar oë voel krap, maar koppig hou sy aan. Sy sal hierdie mandjie korrespondensie afhandel, al kry sy ook môreoggend eers klaar.

      Die gebou raak stil. Sarie loer vinnig op haar horlosie. Dit is lank ná vyf en hier lê nog ten minste ’n uur se werk voor. Die tikmasjien kletter onverpoos. Sy mors tyd, want sy moet telkens iets gaan opsoek. Sy troos haar egter daaraan dat dit van môre af beter sal gaan.

      Halfsewe sit sy haar goedjies bymekaar en stap na die aangrensende kantoor. Meneer Kritzinger het seker sy kantoor deur die buitedeur verlaat, want hy is nie deur die ontvangskantoor nie en alles is stil en verlate.

      Sonder om te klop draai sy dus die deur oop en staan dan verskrik terug met die mandjie in haar hande.

      Hugo sit kop onderstebo by sy lessenaar en werk. Hy is dus ook nog nie huis toe nie.

      “Ek is jammer dat ek nie geklop het nie, maar ek het gedink u is al weg.” Sy lig haar ken beslis, stap kop in die lug na die massiewe lessenaar en sit die mandjie daarop neer.

      Hugo kyk verbaas op en staar haar onbegrypend aan.

      Sarie kyk af na die groot man wat nou so moeg en verwese agter die groot lessenaar vertoon en ’n diep jammerte kom nestel ongevraag in haar hart.

      “Ek hoop dit is reg. U moet maar net sê as ek dit op ’n ander manier moet doen.”

      “Jy hoef nie oortyd te werk nie, juffrou.”

      “Die werk was nog nie klaar nie; ek kon dus nie huis toe gaan nie.”

      Hy sit sy pen neer en leun agteroor in sy stoel terwyl hy haar stil aankyk. Hy het vanoggend gehoor wat sy hom noem. Sou dit die mening van die ander werknemers ook wees? Sou hulle almal dink hy is ’n nors, buffelagtige mens? Die waarheid maak onverwags seer, want hy besef maar te goed dat hy nooit juis oorloop van vriendelikheid nie.

      “Is daar nog iets wat ek moet doen, of mag ek maar gaan?”

      “Dit is al vir vandag, juffrou. Jy kan maar gaan.”

      “Tot siens, meneer Kritzinger.”

      Hy antwoord haar nie, knik net en vryf dan moeg oor sy oë wanneer sy die deur sag agter haar toetrek.

      Dit is al sterk skemer toe sy buite kom. Die windjie waai geniepsig om die hoeke en sy trek die rooi reënjas stywer om haar.

      Sy skuil diep in die skuiling by die bushalte. Nog nooit het sy so laat gewerk nie en sy het dus geen benul hoe lank sy sal moet wag vir ’n bus nie.

      Sarie slaak ’n sug van verligting toe die rammelende bus tien minute later om die draai kom. Dit is onverwags warm en gesellig in die skommelende bus en Sarie voel hoe die dag se frustrasie uit haar sypel.

      Die mooi het egter skielik vir haar uit die lewe verdwyn. Môre gaan nog ’n dag wees soos vandag en so sal dit ’n maand lank aanhou … dalk langer. Daar sal geen grappies met die ander wees nie en sy sal elke dag moet vaskyk teen die nors, stuurs gesig met die swart hare en bruin oë wat haar opsommend en afkeurend sal aanstaar.

      By haar woonstelletjie gaan bad sy dadelik en trek haar wollerige kamerjas aan. Sy maak vir haar ’n glas warm melk en ’n dik toebroodjie met roereier op. Sy het vandag nie juis veel geëet nie en voel die hongerpyne aan haar knaag. Haar kop is seer en sy verlang na haar ma. Sy stap beslis na die telefoon, maar trek dan haar hand stadig terug. As sy nou haar ma se stem hoor, gaan sy huil en dan ontstel sy weer die hele gesin.