lonende proposisie wees nie. Is daar nie ’n paar eerste uitgawes of kosbare antieke boeke wat jy van die hand kan sit nie?”
“Daar is, meneer Botha, maar ek sal hulle nie verkoop nie. Dit sou nie my oupa se begeerte gewees het nie.”
“Is daar darem aantreklike jong boere in die omgewing?” terg een van die jong onderwyseressies, dog Hennie skud haar kop.
Daar is nog talle vermanings en goeie raad van die ander personeellede. Hennie luister hoflik daarna, maar sonder dat dit haar van plan laat verander. Goed, as almal dan reg is en sy kan na ’n jaar nie meer siel en liggaam aanmekaar hou nie, of sy is te eensaam, kom sy terug stad toe, hou weer skool of gaan werk in een van haar pa se winkels of kantore. Maar dan het sy darem ’n jaar van kosbare vryheid gehad, wat sy as goeie ondervinding kan regverdig. Dit, en dalk ook ’n paar kortverhale en ’n boek agter haar naam. Is dit die erfenis wat oupa Hendrikus aan ’n geesgenoot wou nalaat?
“En, Hennie, sal jy nie bang wees so alleen in daardie woonstelletjie agter die biblioteek nie?” vra die huishoudkunde-onderwyseres.
“Nee, mevrou Wolmarans. Ek is nie van nature ’n senuweeagtige soort mens nie. Daar is ’n telefoon en ek besit ’n rewolwer. Ek is in elk geval net ’n hanetreetjie weg.” Hennie glimlag. “Ek sal kan bel, skiet, skree, my kwaai hond op die inbreker sit of in my motor spring en wegjaag.”
“Sal dit nie beter wees om tot einde van die jaar te wag voor jy besluit om uit die onderwys te bedank nie, Hennie? So ’n oorhaastige besluit is nooit ’n goeie ding nie.”
“Dit was nie oorhaastig nie. Sedert ek ’n paar weke gelede die brief van my oupa se prokureurs gekry het, loop ek met die gedagte in my kop. Dis in elk geval nou te laat om te skrik. My bedanking is reeds by die Departement. Gelukkig is ek op die tydelike aflospersoneel en hoef ek net agt-en-veertig uur kennis te gee. Nee, Mevrou, ek het alles baie deeglik deurdink voor ek besluit het om Sesdorings toe te gaan.”
“Hoekom soek jy nie liewer vir jou ’n ryk man wat spanne bediendes kan bekostig sodat jy net by die huis kan sit en boeke skryf nie?” terg Christa.
“Nee dankie, van mansmense het ek ’n oordosis gehad. Ek gaan juis bosveld toe om van hulle te ontsnap.”
Hennie is dankbaar toe die klok ’n einde aan die pouse en ook aan die gesprek maak. Sy sluk haastig haar laaste mondvol koue tee, gryp haar tas en stap met die trappe op na die biblioteek, waar die lawaaierige standerd 8E-klas vir hulle periode van boekopvoeding wag. Hoekom het sy gedink dit sal lekker wees om skool te hou? Hoekom het niemand haar gewaarsku dat skoolhou uitputtend, frustrerend en hartbrekend is nie? Sy het met sterre in haar oë by die Hoërskool Hoëveld aangekom. Nou is die sterre weg. Nou sien sy net die luidrugtige rye leerlinge, die taai bolletjies kougom wat tussen die boeke ingedruk is, die lekkergoedpapiertjies wat oral rondlê, die uitgeskeurde bladsye uit die kosbare boeke en die skurwe woorde wat oral in die tydskrifte gekrap is. Dis nie dat sy ’n swak onderwyseres is of nie dissipline kan handhaaf nie. Dis net dat sy die kinders nie kan begryp nie en nie die energie, die entoesiasme of die begeerte het om heeldag – tien periodes lank, en een teen ’n oormag van dertig, veertig tienderjariges – te raas en te baklei en ’n klomp moedswillige leerlinge respek vir boeke en liefde vir letterkunde in te hamer nie. Hulle stel eenvoudig nie belang nie. Terwyl sy liries raak oor N.P. van Wyk Louw en Opperman en Watermeyer, sit hulle net en wonder hoe lank dit is voor die klok lui, hoeveel geld en tyd hulle vanmiddag by die slotmasjiene kan gaan mors en wat die jongste popmusiek is.
Sy is nie ’n gebore onderwyseres nie, dink Hennie vir die soveelste maal toe sy ’n boek optel en gereed maak om ’n paar gedagtes in die 8E’s se midde te lê oor die musiek van die geskrewe woord.
“Ag nee,” trek Bert Kruger ’n suur gesig. “Tog nie weer ou simpel Raka nie, Juffrou. Kan ons nie iets meer modern lees nie?”
“Ja, ’n skop-skiet-en-hoogspringding!” roep een van die ander.
“Of huiswerk, Juffrou? Kan ons nie hierdie periode liewer huiswerk doen nie? Boeke is tog nie belangrik nie en ons skryf mos nie eksamen in boekopvoeding nie.”
“Wegjaag?” vra Hennie se pa twee weke later toe hy die verrinneweerde rooi Volkswagen voor die deur sien staan. “Jy loop vir almal en vertel hoe spring jy in jou motor en jaag weg as daar gevaar is of ry huis toe as jy te eensaam is. Maar met daardie dingetjie kom jy nie eers om die eerste hoek nie! Wat nog te sê volgende naweek tot op Sesdorings. Jy is te hardkoppig, Hennie. Eiewys en dwaas. Net soos jou oupa.” Hy skrik en voeg haastig by: “Mag sy siel in vrede rus … As jy dan so siek en sat is vir onderwys, kan jy môre, oormôre by Vermakor instap as winkelassistente of tikster of sekretaresse of wat ook al dit is wat jy sal verkies bo die respektabele werk van ’n onderwyseres. Dis nie nodig dat ’n dogter van my soos ’n armblanke gaan lewe, net omdat dit die laaste begeerte van ’n half kindse ou man was nie.”
“Pa verstaan nie wat …”
“Of as jy dan kwansuis ’n boek wil skryf, hoekom nie hier in jou eie ouerhuis, soos enige ander regdenkende meisie nie?”
“Asseblief, Pappa …” pleit Hennie. “Gun my hierdie kans om te wys wat ek kan doen. Gee my net ’n jaar, dan sal ek terugkom huis toe. Oupa het vir my ’n deur oopgemaak en as ek dit nie benut nie, sal ek my hele lewe lank spyt wees.”
“’n Maand. Ek gee jou net ’n maand, dan hardloop jy druipstert terug. Jy is net so idealisties soos jou oupa. Wat het twintig jaar se kluisenaarsbestaan vir hom gebring? Behalwe ’n plat beursie en ’n hartaanval? Wat het geword van sy kastige drome en lugkastele?”
“Oupa het altyd gesê: moenie arm voel as jou drome nooit bewaarheid word nie, want slegs hy wat nooit gedroom het nie, is werklik arm.”
“Jou oupa was so arm soos ’n kerkmuis. Hy het die kosbare ou familieplaas – wat na mý en uiteindelik na jou en Erik toe moes gekom het – deur sy vingers laat glip. Sesdorings was ’n waardevolle plaas. En wat het oorgebly? Elf hektaar, ’n paar honderd rand en ’n handvol stowwerige boeke. Die Meirings sit met die Vermaaks se erfenis.”
“In die gees was oupa Drik skatryk,” sê Hennie saggies. Sy kyk pleitend na haar pa. “Asseblief, wil Paps nie na my motor kom kyk nie? Kom ry saam met my om die blok en sê vir my ek het ’n winskopie gekoop. Asseblief …”
“Hoeveel het jy vir daardie rammelkas betaal?”
Hennie ken haar pa en sy vra dat die noodleuentjie haar vergewe sal word. Sy noem ’n bedrag wat laer is as die werklike koopprys, maar haar pa is nie beïndruk nie. Hy snork minagtend, stap sonder ’n verdere woord studeerkamer toe en klap die deur hard agter hom toe.
Thelma Vermaak is in die kombuis met aandete besig. Deur die venster sien sy dat Hennie met ’n lap en politoer by die motortjie besig is en daar is onverwagte begrip en deernis in haar hart vir haar mooi rooikopdogter. Sy kan verstaan dat Hennie ’n individualis is, dat sy nie ondankbaar is vir alles wat haar ouers vir haar gedoen het nie, maar dat sy – net soos ander meisies van haar ouderdom – na onafhanklikheid smag. Hoekom kon haar pa nie dieselfde begrip aan die dag gelê het en maar na die motortjie gaan kyk het nie, soos Hennie hom so mooi gevra het? Hoekom kan hy nie, ondanks sy eie beterwete, in Hennie se toekomsplanne belangstel en raad gee, soos ’n goeie vader behoort te doen nie?
Hy aard meer na sy oorlede vader as wat hy self besef, dink Thelma. Twee harde klippe wat teen mekaar gemaal het … En Hennie het ongelukkig nie slegs haar oupa se rooi hare geërf nie, maar ook sy hardkoppigheid en individualistiese sin vir waardes. Wat wag in die toekoms vir hierdie mooi dogter van hulle? Sy weet haar man wou gehad het Hennie moes met ryk Willem Liebenberg trou, en dit was vir hom ’n bittere teleurstelling toe Hennie verklaar het sy verruil Willem liewer vir ’n jaar se rus en vrede op Sesdorings.
Thelma was ook hartseer toe sake tussen Hennie en Wim verkeerd geloop het en sy is ook gekant teen haar dogter se impulsiewe besluit om Sesdorings toe te gaan, maar toe sy sien dat Hennie met die vuil ou stoflap oor haar oë vee, is dit vir ’n moederhart te veel. Sy skakel die stoof af en stap buitetoe.
“Jou Kalahari Ferrari is pragtig