ection>
Dit kos guts om te bly glo
Hoe om in moeilike dae God ernstig op sy Woord te neem
Stephan Joubert
Lux Verbi
Inleiding
Vir sommige Christene is hulle geloof iets wat hulle heeltyd ’n paar sentimeter bokant moederaarde laat sweef. Hulle vertel graag vir ander hoe hulle geloof hulle verander het in ‘senior’ Christene wat van die een geestelike oorwinning na die ander voortmarsjeer.
Natuurlik is dit goed en reg dat gelowiges met ander mense kan (en moet) praat oor alles wat hulle in die Naam van die Here doen. Maar die evangelie het ook ’n tweede vers wat maar min deur gelowiges gehoor word. Die Bybel vertel gereeld vir ons van die ander kant, van die skerp kant van geloof. Ons lees dikwels van gelowiges wat bitter hard moes worstel om kop bo water te hou. Die Bybel praat ook oor ’n paar Godsmanne en -vroue wat die sin van die lewe misgeloop het en toe weer van voor af God se hart moes gaan ontdek, en van gelowiges wat partykeer stroomop moes glo.
Geloof in die drie-enige God kom nie aldag maklik nie. Dit bestaan nie maar net uit ’n paar maklike stappe wat jy moet volg op die kortpad na ware geluk nie. Nee, geloof is dikwels ’n opdraande stryd. Dit verg baie moed om in Christus te glo in ’n wêreld wat nie meer elke dag sin maak nie, veral wanneer die lewe jou ’n slag hard bykom. Wanneer jy voor ’n oop graf moet staan, jou werk of gesondheid verloor of die slagoffer van die hoeveelste rooftog is, voel dit asof God rugkant eerste na jou toe staan. In sulke tye moet jy die hart van die evangelie goed ken om verby al die kitsoplossings te stap wat gewoonlik soos ’n wortel voor jou neus gehou word.
Ware geloof vra natuurlik ook dat jy God nou en dan trompop moet kan nader en eerlik met Hom praat totdat die wolke voor jou eie stukkie son uiteindelik begin wegskuif. Ander kere vra dit weer dat jy teen die stroom sal bly glo, selfs teen die grootste teenstand in. Maar ware geloof bring ook ’n bereidheid om die wêreld vierkant in die oë te kyk. Dit laat jou nooit jou verhouding met die Here as ’n ontsnaproete misbruik nie, maar help jou juis om die lewe met al sy onsekerhede en pyn voluit saam met Christus te beleef!
As jy al ’n slag of wat ernstig gewonder het oor die sin van die lewe, of dalk vuisvoos is vir ’n plastiekgodsdiens wat net kitsantwoorde opdis en heeltyd vertel hoe maklik dit is om in Christus te glo, is hierdie boek vir jou bedoel. Dit wil juis vir jou op daardie kant van die evangelie wys wat ook rekening hou met al die swaarkry, onsekerhede, vrese, skuldgevoelens en pyn van die lewe.
Ek wil graag ’n ruk saam met jou op die pad van geestelike verdieping stap sodat jy kan weet dat daar selfs vir twyfelaars en worstelaars plek by God is, en hieruit vertroosting kan put.
Ons gaan in agt hoofstukke by 30 Bybelgedeeltes stilstaan wat verband hou met ’n geloof wat God ernstig wil opneem en Hom toets. Die laaste een is terselfdertyd ’n samevatting waarin al die drade bymekaargetrek word. Ons bekyk die volgende temas:
• Gewone gelowiges maak ’n verskil (Hoofstuk 1)
• Om God in ’n hoek in te glo (Hoofstuk 2)
• Daar is plek vir twyfelaars by God (Hoofstuk 3)
• Vers 2 van die evangelie: Swaarkry! (Hoofstuk 4)
• Geloof agter die doringdraad (Hoofstuk 5)
• Die moed om in God te glo (Hoofstuk 6)
• ’n Stroomop geloof (Hoofstuk 7)
• Toets God (Hoofstuk 8)
Mag jy baie geestelike seën uit hierdie boek put. Mag dit jou veral help om God van nou af so ernstig op te neem dat jy ook die guts sal hê om Hom aan sy beloftes te toets!
Stephan Joubert
Hoofstuk 1
Gewone gelowiges maak ’n verskil
Doodgewone Christene kan hemel en aarde beweeg!
Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking. Elia was ’n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie. Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer.
JAKOBUS 5:16b-18
Geloof is inderdaad nie aldag ’n maklike saak nie. Partykeer moet jou geloof jou stroomop kan laat swem. Ander kere moet dit jou die onmoontlike laat vermag – berge laat verskuif, soos Jesus op ’n keer gesê het.
Miskien sal jy dadelik hierop reageer deur te sê: “Maar ek speel nie eintlik in daardie senior geloofsliga nie. Ek hou skaars kop bo water wat my eie verhouding met God betref. Hoe kan daar van my verwag word om die onmoontlike reg te kry?”
As jy so oor jou geloof voel, bevind jy jou in uitgelese geselskap. Baie mense van wie ons in die Bybel lees, het ook al ’n slag of wat so oor hulle geloof gevoel, soos jy nog sal sien. Maar ongelukkig los dit nie ons probleem op nie.
Dit is wel vertroostend om te weet dat ander mense soms ook sukkel om te glo. Maar hoe glo ’n mens dan nou rég? Hoe glo jy op so ’n manier dat selfs die berge begin rondskuif? Miskien lê die antwoord op hierdie soort vrae op ’n heel ander vlak. Kom ons kyk in Deel 1 na ’n paar vergete aspekte van geloof om duidelikheid op hierdie vrae te kry.
Die meeste van ons word groot met die gedagte dat daar mense met ’n ‘groot geloof’ en mense met ’n ‘klein geloof’ is: junior en senior Christene. Van kleins af hoor ons mos van oom So-en-so of tannie Sus-en-so wat sulke ‘diep gelowiges’ is.
Ek onthou hoe my oupa altyd vertel het dat hierdie ‘teer kinders van die Here’ sommer direk hemel toe gaan wanneer hulle die dag doodgaan. Natuurlik het hierdie opmerkings my jong gemoed ontstel. Dit het my baie aande benoud tot God laat bid dat ek asseblief ook direk hemel toe kon gaan soos al daardie ooms en tannies wat so opreg glo en al die lang gebede by die bidure bid. Diep in my hart het ek gevoel dat ek heeltemal te kort skiet, dat ek eers ’n paar draaie tussen hemel en aarde sou maak voordat ek daar aanland.
Desperaat het ek die Bybel aandagtig begin deurlees om agter te kom wie die ‘groot’ en ‘klein’ gelowiges in God se oë is.
Ek het tot my verbasing – en vreugde – vasgestel dat Hy glad nie sulke onderskeidings tussen sy kinders tref soos wat ons doen nie. Nee, al sy kinders is in sy oë gelyk. Hy het regtig nie witbroodjies nie. God het ons almal ewe veel lief, want sy Seun se bloed het immers ewe veel vir ons almal gevloei. Of jy nou deel van daardie halsstarrige groepie gelowiges in die gemeente in Korinte is wat Paulus soveel kopsere besorg het of behoort tot sy modelgemeente in Tessalonika, en of jy as Christen in Suid-Afrika leef, jy bly steeds een van die heiliges, ’n tempel van die Heilige Gees.
Alle Christene staan ewe naby aan God, net soos al die punte op ’n sirkel wat ewe naby aan die middelpunt is. Dit is net in die wêreld waar mense in rye wil staan en elkeen heel voor wil wees. Oud en jonk, gewone lidmaat en geestelike leier, is egter vir God ewe kosbaar.
“Nou maar wat op aarde het hierdie dinge met geloof te maak wat berge kan verskuif?” sou jy seker kon vra.
Wel, ten minste wil dit vir ons sê dat ons ’n slag reg oor ons eie geloof moet begin dink. Miskien hoor ons deesdae te veel van al die groot heldedade van ander Christene, sodat ons aan geestelike minderwaardigheidskomplekse begin ly. Later is dit ook net daardie Christene wat groot projekte vir die Here aanpak, oorsee gaan sendingwerk doen, kragtig getuig en ander wonderlike dinge doen (hoe dankbaar ’n mens ook al vir sulke mense se ywer en toewyding is) wat volgens ons eie maatstawwe die eintlike groot gelowiges is.
God sê egter dat ons almal in sy oë gelyk is. Jakobus het hierdie gedagte goed gesnap. Daarom skryf hy vir sy lesers in Jakobus 5:16-18 dat doodgewone gelowiges se gebed ’n groot uitwerking op God het. Dit verskuif soms nie net berge nie, maar laat die wolke selfs reën gee óf terughou. Hy verwys dan na Elia as voorbeeld: Elia was volgens Jakobus 5:17 ’n gewone mens, net soos ons. Maar sy gelowige gebed het die hemel se sluise drie en ’n half jaar lank agter slot gehou en