na een van die poppies aan sy arm kyk.
Neethling teug aan sy wyn en sit met ’n salige sug terug in sy stoel. Dis ’n wonderskone dag in Maart en hy is bly om terug in Suid-Afrika te wees. Daar is ’n frisheid in die lug wat beteken hy het die ergste hitte vrygespring. Maar ná die lang, koue Europese winter hoop hy om die aangename Bolandse herfs nog ’n hele rukkie te kan geniet.
“En toe? Is jy nie bly jy’t saamgekom nie? Ek moes darem sukkel om jou sover te kry,” lag sy suster Nicola terwyl haar kamera klik en klik. “Ek is mal oor Fairview. Dis so lekker naby aan die Paarl, maar ’n mens voel asof jy ver weg van al die dorpslawaai is. En hier’s wyn en lekker kaas – ek kan nie verstaan hoekom ek jou moes soebat nie.”
“Jy sal onthou ek het gisteraand eers geland ná ’n lang vlug uit Europa. En niemand anders behalwe jy weet ek is terug nie. Ek wou almal vanoggend gaan verras, maar sal dit nou maar later vandag doen.”
Sy laat haar kamera sak en lag vir hom. “Foeitog, ek het vergeet: jy is mos al oud – kan nie meer so kerjakker nie,” terg sy. “Jy’t wat? Sewe-en-dertig geword in die jaar wat jy weg was?”
“Dis reg, jy moet respek hê vir my,” glimlag hy.
Nicola sit haar kamera neer en lig haar glas op. “Op jou tuiskoms, ek is baie bly jy’s terug. En nou kan jy maar vir my vertel . . . ek wonder nog die hele tyd. Is jy weg Europa toe oor daardie simpel vroumens wat jou so na haar pype laat dans het? Serene, Selene? Ek kan gelukkig nie eens meer haar naam onthou nie.
Neethling glimlag en skud sy kop. “Selene. Nee, ek kan jou verseker my weggaan het niks met haar te doen nie. Ek is baie lankal oor haar. Sy het my eintlik ’n guns bewys, want ek het ’n dure les geleer. My lewe gooi ek vir g’n vroumens weer omver nie.”
“Ek kon nooit verstaan hoekom jy jou skrywery prysgegee het om te gaan klasgee nie, en dít vir haar. Nie dat daar iets fout is met klasgee nie, maar jy is ’n suksesvolle skrywer wie se boeke in hoeveel tale vertaal word. En dit was nie goed genoeg vir haar nie? Ek word sommer weer van voor af opgewerk.”
“Selene wou struktuur in haar lewe hê. En jy weet hoe ek is – wanneer die storie daar is, moet ek skryf, maak nie saak watter tyd van die dag of nag dit is nie. En tantieme betaal nie gereeld elke maand uit nie. Sy wou ’n man hê met ’n agt-tot-vyf-joppie, een wat elke maand geld huis toe bring. Volgens haar kon iemand met ’n doktorsgraad nie net ‘boekies’ skryf nie.”
“Nie een van ons kon verstaan hoekom jy toegelaat het dat sy jou so organiseer nie,” sê Nicola vies.
Neethling lig sy een skouer. “Ek het gedink ek voel iets vir haar.”
“En toe?”
“Toe besef ek op ’n dag wat ek vir haar voel, was niks meer as ’n kortstondige lyflike lus nie.”
“Wel, toegegee, sy is mooi. Maar sy’t sulke koue oë – ek het dit elke keer raakgesien wanneer ek ’n foto van haar geneem het. Ek is bly om te hoor dit is uit tussen julle.”
“Dit was twee jaar voordat ek oorsee is al uit, my liewe sus. Die geleentheid om in Toskane te gaan skryf, was ’n droom – een wat niks met Selene te make het nie. Wat ek wel ook nou weet, is in mý soort bestaan is dit beter om op my eie te wees. Dis beslis nie almal wat so kan of wil lewe nie, en die meeste vroumense hou van ’n man met ’n agt-tot-vyf-werk.”
Oor die ander rede waarom hy weg is, rep hy liewer nie ’n woord nie. Nicola hoef nie te weet hy is weg om ’n ander vroumens uit sy brein te kry nie.
“Dis dan definitief tyd dat jy ’n ander tipe girl ontmoet – een wat bietjie meer tussen die ore het as die blonde, maer goedjies wat jy altyd na ons Sondagetes toe bring. Ek is in elk geval baie bly om te hoor die vroumens is uit jou sisteem. Hoe was Italië toe? Ons het maar min van jou die afgelope jaar gehoor. Hoe ver is jou boek?”
“Dit was ’n ongelooflike ondervinding. Dit het ’n bietjie langer geduur om te skryf as wat ek gedink het, maar ek kon dit uiteindelik klaarmaak. Die uitgewer beplan die boekbekendstelling in Junie in Suid-Afrika en die vertaalde werke in Julie. Ek vlieg dan weer Europa toe vir ’n boekbekendstelling in Nederland.”
“Ag nee, man. Jy was nou net so lank weg,” raas Nicola.
Hy glimlag. “Ek het hard gewerk die afgelope jaar, dis tyd vir ’n bietjie vakansie. Wanneer die bekendstelling klaar is in Nederland, vlieg ek daarvandaan eers Australië toe voordat ek weer huis toe kom. Ek weet nie of jy vir Peet onthou wat saam met my op universiteit was nie?”
Nicola knik haar kop. “Ek dink so. Bietjie windgat as ek reg onthou.”
Neethling lag. “Ag, dis maar sy manier. Hy bly deesdae in Melbourne, Australië, en hy besit ’n boekwinkel. Hy . . .”
“. . . wil graag vir jou daar hê vir die boekbekendstelling. Ja, ja, ek verstaan – my famous broer,” spot sy.
“Ek sien dit as ’n ruskans en wil eintlik net ’n bietjie ontspan . . .”
’n Beweging uit die hoek van sy oog trek sy aandag, en hy draai sy kop. En daar staan sy. Natalie Olivier. Die eintlike rede hoekom hy ’n jaar lank weg was van sy mense, weg was uit sy land. Sy asem raak min. Selfs op ’n afstand reageer sy lyf onmiddellik op haar.
Sy skoonsuster sien hom en Nicola raak, en haar gesig verhelder. Sy fluister iets vir Natalie, en Natalie skud haar kop heftig, maar Amelie gryp haar arm en trek haar met mening in hulle rigting.
“Is dit nou nie die lekkerste verrassing nie?” roep Amelie uit en val Neethling om die hals. “Ek het gedink jy kom eers volgende maand terug. Hoekom het jy niks laat weet nie?”
Hy lig sy een skouer en glimlag. “Dit was tyd,” sê hy. Oor die werklike rede vir sy vervroegde terugkeer, die skielike dringendheid om weer vir Natalie te sien, gaan hy beslis nie praat nie.
“Natalie, kom gee vir Neethling ’n drukkie!” roep Amelie uit en stoot haar vriendin vorentoe. “Ons is mos almal familie. Hoe gaan dit, Nicola?” vra sy, alles in een asem, voor sy gaan sit.
Voor hy hom kom kry, is Natalie teen hom, sy arms om haar en voel hy haar sagtheid teen sy lyf. Haar subtiele sitrusreuk wat hy so goed onthou, vou om hom en vir ’n oomblik wil hy haar styf teen hom vasdruk. Maar hy hoor die klik-klik van Nicola se kamera en gee vinnig ’n tree agteruit. Sy suster het die vermoë om dinge deur die lens van haar kamera te sien wat hy liewer nie aan die wêreld wil verklap nie.
“Natalie,” sê hy met ’n stywe glimlag en gaan sit.
Sy knik haar kop en stap om die tafel.
“Julle gaan darem sekerlik by ons sit?” Nicola trek ’n stoel langs haar uit vir Natalie.
“Natuurlik,” glimlag Amelie. “Chris gaan so vies wees wanneer hy hoor ons kuier sonder hom, maar hy en Ma maak vanoggend tuin by ons,” babbel sy vrolik.
Amelie en Nicola begin gesels, maar hulle stemme raak dowwer. Natalie se oë is op Amelie gerig, en Neethling kan haar rustig bekyk. Sy is nog net so bleddie mooi soos hy onthou en het nog steeds die vermoë om die laaste bietjie suurstof uit sy longe te pers.
Vandag het sy wit skinny jeans aan wat haar lang bene beklemtoon, ’n stywe liggrys toppie met ’n los, dunnerige, wit trui met grys strepe bo-oor. Om haar nek is ’n sagte pienk serp ’n paar keer gedraai en aan haar voete het sy ’n paar pienk sandale. Haar lang, blonde hare hang in ’n dik vlegsel oor haar een skouer. Prentjiemooi.
Hy gryp sy glas wyn en neem ’n groot sluk. Wat de hel is dit met die vroumens? Ja, sy is beautiful, maar hy ken baie mooi vroue. Vroue met opsigtelik minder issues as hierdie enetjie.
Omdat hy weet hoe vinnig sy ma iets kan optel, het hy doelbewus nog nooit een van sy gesinslede oor Natalie uitgevra nie. Vandat Chris getroud is, is dit sy ma se missie om vir hom wat Neethling is ook ’n vrou te kry. So hy maak seker hy praat glad nie oor enige vroumens voor haar nie. Veral ná die eskapade met Selene maak hy ’n punt daarvan om hulle te laat glo hy vry in die bondel en dat daar niemand besonders