hy vinnig ’n paar boodskappe stuur.
Hy klik op die splinternuwe e-posadres se ontvangposbus. Nog steeds niks.
Ongeduldig spring die Groot Sadar so vinnig van agter die rekenaar op dat die staalstoel waarop hy gesit het, eenkant toe val.
“’n Bietjie sterk koffie en dadels is wat jy nou nodig het,” mompel die ou Aram en skuifel met die metaalkoffiehouer en ’n bord dadels al agter Sadar aan.
Sadar paradeer op en af in die klein ruimte en gee geen aandag aan die verrimpelde ou Arabier en die koffie nie. Toe hy vinnig omdraai om die mat agter die toonbank weg te trek spat die koffie en dadels wat die ou man na hom uithou, in alle rigtings.
“Daar is nie nou tyd vir koffie nie,” bulder hy onnodig hard in die vertrekkie. Die Groot Sadar druk sy hand onder sy kleed in en trek ’n klein afstandbeheertoestel daaruit. Hy druk twee kleure knoppies op die toestel en geruisloos skuif die valdeur wat onder die mat versteek was oop. Met verbasende ratsheid vir sy grootte klim hy behendig af na onder, nadat hy uitdruklik sy oom Aram beveel het om die voordeur gesluit te hou en vir niemand oop te maak nie.
Nadat Sadar deur die luik ondertoe verdwyn het, skuif dit weer geruisloos toe en die verrimpelde Aram kyk ’n paar oomblikke kopskuddend daarna. Hy maak die koffie wat gemors het skoon en gaan sit wroegend voor die rekenaar. Hy is nou wel oud, maar hy is nie dom nie. Ingedagte glimlag hy en maak ’n versteekte internetrekening op die skerm oop. Hy tik ’n paar sinne, sorg dat hy dit stoor. Toe maak hy die internetbladsy weer toe en begin kamtig verveeld met een van die Amerikaanse rekenaarspeletjies sukkel.
Veel later wip ou Aram soos hy skrik toe die Groot Sadar agter hom praat en draai oënskynlik deeglik omvergegooi na Sadar. Aram vermaan hom, sy ou oom se hart sal gaan staan. Slegs ’n ou man in die Arabiese wêreld mag só met ’n invloedryke en magtige leier praat. “Boonop laat jy my kliënte verloor as ek so helder oordag die kafee moet sluit. Die studente reken op my vir hulle studie en ek op hulle vir my inkomste,” mompel ou Aram verder.
“Ja, toe nou, ou oom. Waar sou jy gewees het as ek jou nie die kafee gegee het nie? Ek het nie vandag lus vir jou gesanik nie. Daar is baie belangriker sake as die studentjies en hulle pornografie.”
Sadar druk ’n klomp note in die ou man se hand. “Vir die verlies van die oggend se inkomste.” Hy sluit die deur oop en storm weer met sy groot lyf die stegie af.
Agter hom lag Aram saggies en kyk hom kopskuddend agterna terwyl hy die geweefde mat voor die glasdeur stadig oprol en na sy speletjie op die rekenaarskerm terugkeer.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.