ANNELIZE MORGAN
Omnibus 6
Skat van onheil • Goue horisonne • Die einde van die reënboog
Jasmyn
1
Sy staan eenkant op die dek van die skip sodat sy nie in die matrose se pad is nie. So effens droomverlore staar sy uit oor die diepblou water van die baai, wat kalm in die warm oggendson lê en bak. Daar ver langs die wit strand kan sy mense sien, en agter hulle die klein nedersetting met die Kasteel. Dit lyk soos ’n poppedorp en is glad nie wat sy verwag het nie.
Véronique Tredoux frons liggies. Is dít dan die eindpunt van haar lang, vermoeiende reis van Frankryk af? Die dorpie lyk so weerloos in die wilde wêreld wat dit omring. Dít is Afrika, die donker kontinent van die wêreld – nog maar skaars ontdek en beswaarlik verken.
Sy druk ingedagte aan haar raafswart hare toe ’n ligte bries oor haar waai. Haar blou oë bly troebel op die strand gerig. Wat het haar pa besiel om na dié afgeleë plek te kom? Hulle kon in België gebly het. Duisende Franse vlugtelinge het daar ’n heenkome gevind. Die gedagte dat sy haar pa binnekort weer sal sien, maak egter die ontmoeting met die Kaap van Storms nie heeltemal so onaangenaam nie. Sy is baie lief vir haar pa. Sedert haar moeder se dood twintig jaar gelede was sy en monsieur le comte de Sévigné nooit lank van mekaar af weg nie. Sy sou hom nie so gou na die Kaap gevolg het nie, maar sy het ’n hele jaar lank niks van hom gehoor nie. Uit vrees dat hy dalk iets oorgekom het, het sy besluit om haar vertrekdatum met vier maande te vervroeg.
“Hoekom staan u so alleen hier, mademoiselle?” praat ’n man skielik hier naby haar.
Sy swaai verskrik om, en dan ontspan sy.
“O, dis u, monsieur Lorraine! Ek het u nie hoor nader kom nie.”
Hy lag sag.
“Bewonder u u nuwe tuiste?” vra hy en beduie na die strand waar die nedersetters saamdrom. “Kyk net watse aardigheid is ’n skip vir hulle. Ek sal my hoed daarop verwed dat elke boer en skoenmaker en wie ook al daar op die strand is.”
Véronique antwoord nie. Sy voel hoe haar keel toetrek by die gedagte daaraan dat sý dalk ook eendag so na die strand sal hardloop net omdat daar ’n nuwe skip in die baai is. Sal die eensaamheid in hierdie verlate land haar dalk ook daartoe dryf om elke bietjie afleiding wat die Kaap bied, aan te gryp?
Sy sidder liggies en probeer die onderwerp verander: “Ek wonder wanneer daardie ander skip hier aangekom het.”
Lorraine kyk in die rigting van die skip wat voor anker lê. Dit wieg saggies op die deining van die golwe.
“Ek het geen idee nie. Dis in elk geval ’n Spaanse skip.”
Véronique kyk met meer belangstelling daarna. Haar pa het met ’n Spaanse skip na die Kaap van Storms vertrek.
“Ek kan die naam nie van hier af uitmaak nie,” sê sy dan.
“Dit lyk soos … die Marquessa.” Lorraine glimlag ingenome. “My oë is nog goed, al is ek al taamlik naby aan die vyftig!”
Véronique luister nie verder na hom nie. Die Marquessa! Dis die skip waarmee haar pa na die Kaap gekom het. Hoekom het hy haar dan nie laat weet dat hy veilig aangekom het nie?
“Sal sy gou weer vertrek?” vra sy vinnig.
Monsieur Lorraine haal sy skouers op.
“Kan nie sê nie. As die weer hou, kan sy dalk môre al seil. Dis al amper die helfte van Junie, en ons was gelukkig om die Kaap sonder ’n noodlottige storm te haal. Ek glo nie die kaptein van die Marquessa sal dit sommer waag om hierdie tyd van die jaar die reis na Spanje aan te pak nie.”
Sy kyk vinnig na hom.
“U dink dus dat sy nog ’n rukkie sal vertoef?”
Lorraine betrag haar ondersoekend.
“Vanwaar die skielike belangstelling in die doen en late van die Marquessa, mademoiselle?”
“Ek het ’n jaar en ses maande laas iets van my pa gehoor, monsieur. Hy het met die Marquessa na die Kaap vertrek.”
Hy aarsel.
“Skepe doen nie gereeld hier aan nie, mademoiselle. Skepe vergaan soms langs hierdie barre kus van Afrika … of hulle val in die hande van seerowers. Die Marquessa het ongedeerd daarvan afgekom en dus kan u aanvaar dat u vader niks oorgekom het nie.”
“Dink u werklik so?” vra sy en verligting lê duidelik in haar stem.
“Mais oui! U kan natuurlik die kaptein self gaan vra, hoewel ek u dit nie sal aanraai nie.”
Sy draai na hom.
“Maar waarom nie, monsieur?”
“Hulle is ’n ruwe klomp, mademoiselle. U sal in die moeilikheid kom as u na die kaptein gaan soek. Hulle is wilde kêrels en laat vroue gewoonlik nie met rus nie.” Hy glimlag effens. “U lyk na ’n verfynde dame en ek glo nie u sal onopgemerk tussen die matrose kan verskyn nie.”
Sy glimlag terug.
“Wel, as ek my pa hier in die Kaap vind, dan hoef ek mos nie na die kaptein te gaan nie, of hoe?”
“Natuurlik nie.”
Die onrustigheid groei nogtans in Véronique Tredoux. Sy kan nie verklaar waarom sy so vreemd bang voel vir wat op haar wag nie. Sy bly met ’n frons na die Marquessa staar asof sy dáár die versekering soek dat alles nog in die haak is. Die massiewe skip bly onverpoos op die golwinge dein – donker en geheimsinnig.
Die volgende oggend vroeg word Véronique saam met die ander passasiers in skuite na die strand geroei. Hul bagasie volg in ander skuite, en sy moet ’n rukkie op die strand wag.
Monsieur Lorraine sien haar alleen eenkant staan en kom na haar toe aangestap.
“As u nie regkom nie, mademoiselle, kan ek u dalk van hulp wees.”
Die kommer lê vlak in haar oë toe sy na hom opkyk.
“Dankie, monsieur. Ek kan dit nie verstaan nie. My pa is nie onder die mense wat na die strand gekom het nie.”
Hy glimlag gerusstellend.
“Miskien weet u vader nie dat u op hierdie skip is nie.”
Sy glimlag effens.
“Ja, dis natuurlik ook waar.”
“Het u enige geld by u?” vra hy half selfbewus.
Sy verkleur effens.
“Net twee Louis D’Or en ’n paar Hollandse riksdaalders … dis al.”
Hy skud sy kop.
“As u alleen is, sal u nie baie ver daarmee kom nie. Ek gaan by my broer tuis op Drakenstein. As u nie regkom nie, kom dan soontoe en ek is seker daarvan dat ons u van hulp sal kan wees.”
Sy sluk hard.
“Merci, monsieur Lorraine. Ek waardeer dit baie.”
Hy glimlag en buig so galant as wat sy plaende rumatiek hom toelaat. Dan kies hy koers oor die sand na waar die bagasie uit die skuite gelaai word.
Véronique laat haar blik weer eens oor die omstanders dwaal. Dis met ’n sinkende hart dat sy haar vader nie onder hulle herken nie. Dan volg sy monsieur Lorraine om haar bagasie tussen die ander te gaan uitsoek.
Sy sien die man skielik raak toe sy omdraai. Hy leun teen ’n muur. Sy houding is een van uitdagende onverskilligheid, en dit prikkel haar nuuskierigheid. Sy swart hare is agter in sy nek met ’n fluweelstrik vasgebind; sy wit syhemp hang effens oop en ontbloot sy bronskleurige borskas, waaroor ’n goue kettinkie hang. Sy nousluitende broek raak weg in hoë kaplaarse met silwer gespes.
Véronique staar hom ’n oomblik aan voordat sy vinnig wegdraai om te gaan kyk of haar trommels almal veilig op die strand is. Haar hart fladder onrustig. Wie is hierdie lenige, aantreklike Spanjaard? Wie is hierdie man wat