Ter wille van jou eie veiligheid moet jy nie weet nie … Laat dit met rus, senorita – vergeet daarvan om na jou pa te soek. Ek sal nie graag jou begrafnis wil bywoon nie …”
2
Véronique staar na die matroos. Hy draai skielik om en stap van haar af weg. By die deur van die pakkamer gaan hy staan toe hy die ander man gewaar. Dan draai hy half verwilderd om na haar en soek naarstig na ’n uitkomkans.
Die tweede man kom binne en die matroos retireer.
Véronique kyk onbegrypend van die een na die ander, en dan herken sy Don Diego. Sy regterhand rus liggies op die hef van sy swaard.
“Molesteer jy die senorita?” vra hy sag dog dreigend.
Die ander man draai om na Véronique. Daar is naakte vrees op sy gesig te lees.
“Senorita, asseblief …!”
Sy kyk na Don Diego.
“Laat hom maar gaan, monsieur. Hy het net ’n boodskap gebring.”
Don Diego kyk agterdogtig na die matroos.
“Watse boodskap kan hý bring? Hy is ’n skoorsoeker, ’n leeglêer en ’n dief.”
Véronique kyk weer na die matroos wat nou tussen die kiste vasgekeer is. Hy kan nêrens heen beweeg nie. Sy vingers klou krampagtig aan die houtkis langs hom.
“Hy gaan my doodmaak, senorita,” prewel hy hees. “Ek wou u net help.” Die angs is duidelik in sy stem hoorbaar.
Don Diego gaan voor hom staan.
“Wat het jy vir die senorita gesê?” vra hy bars.
Die man wring sy hande.
“Dit was net ’n onskuldige boodskap, senor! Spaar my lewe! Ek mag ’n ellendige drommel wees, maar hierdie keer het ek niks verkeerds gedoen nie.”
Met ’n skerp fluitgeluid trek Don Diego sy swaard uit die skede. Die matroos krimp ineen.
Véronique word bleek en staan effens tru.
“Moenie hom doodmaak nie, monsieur, ek smeek jou …”
“Ek weet hoe om met hom te werk, senorita,” antwoord Don Diego Fernandez sonder om na haar te kyk. “Ek sal ’n antwoord uit hom dwing!” Hy druk die punt van sy swaard teen die matroos se gorrel.
Angssweet slaan op die man se voorkop uit. Sy oë bly vreesbevange op Don Diego gerig.
“Ek het niks verkeerds gedoen nie!” skreeu hy paniekerig. “U móét my glo, senor!”
Véronique druk haarself teen die kiste agter haar.
“Laat hom gaan, senor!” sê sy hard, maar haar stem bewe tog liggies.
Don Diego draai om na haar en laat sy swaard sak.
“U verbaas my, senorita. Ek het nie van u verwag om vir die lewe van ’n skurk te pleit nie.” Sy stem is sag, maar daar is geen vriendelikheid in nie.
“Hy … het my geen leed aangedoen nie, monsieur. Hy praat die waarheid. U het tog alles gesien.”
Die matroos vee die sweet van sy voorkop af. Sy blik rus dankbaar op die meisie. Toe Don Diego van hom af wegbeweeg, spring hy om en hardloop so vinnig as wat hy kan by die pakhuis uit.
Don Diego laat hom begaan. Hy kyk nie eens in die rigting van die vlugtende man nie, maar bly met half toe oë na Véronique kyk.
“Wat het hy vir u gesê, senorita?” vra hy sag.
Sy kyk weg.
“Dis my saak, monsieur. Dit het niks met u te doen nie.” Sy verbaas haarself vir haar manhaftigheid, maar sy is hewig ontsteld oor hoe die kaptein die matroos behandel het. Hoekom was die man so verskriklik bang? Watse soort mens is hierdie duiwel uit Spanje dat iemand hom met soveel naakte vrees kan bejeën?
“Het hy met u oor u vader gepraat?” vra Don Diego skielik.
Sy kyk vinnig na hom.
“Miskien …”
Hy aarsel voordat hy sê: “U vertrou mense te maklik, senorita. U soek na moeilikheid en daar sal nie altyd iemand wees om u te help nie. Waarom het u alleen na hierdie deel van die dorp gekom?”
Haar hartslag begin effens bedaar noudat sy besef dat hy haar geen leed wil aandoen nie.
“Ek was desperaat, monsieur. Niemand weet wat van my vader geword het nie en ek móét hom vind.”
Hy druk sy swaard terug in die skede.
“En waarom is dit so belangrik dat u hom só gou moet kry?”
Sy haal haar skouers liggies op.
“Hy het alles wat ons besit het by hom gehad. Sonder hom het ek geen heenkome in die Kaap nie.”
Sy blik rus ’n oomblik lank donker en onpeilbaar op haar.
“Ek verstaan,” sê hy na ’n lang stilte. “Maar u moet besef dat dit ’n wilde plek is hierdie. Die Kaap is vol gevare – gevare wat ’n storm op see nie eens kan ewenaar nie. Hier is meer moordenaars en struikrowers as wat daar in die hele Frankryk is!”
Sy kyk op na hom.
“Ek kan nie vir altyd in die Kasteel aanbly nie, monsieur. Ek moet my vader vind, want sonder hom het ek geen heenkome en geen tuiste nie.”
Hy knik stadig.
“Ons sal hom vind, senorita, dit belowe ek u. Ek is nie verantwoordelik vir wat gebeur het nie, maar hy was op my skip en ek sal u help om hom weer te vind.”
Sy kyk onbegrypend na hom. Waarom wil hy haar dan help? Kan sy hierdie Spaanse duiwel vertrou? Dis dalk beter om sy vriend eerder as sy vyand te wees, maar die gedagte stel haar geensins gerus nie. Sy besef egter ook dat hy haar baie sal kan help as hy wil, want almal het ontsag vir hom en sal hom geen inligting kan weier nie. Sy stem net nie saam met sy metodes nie.
“Merci, monsieur,” sê sy eindelik, skaars hoorbaar. “Ek het niemand anders op wie ek kan vertrou nie.”
Hy skik die valle van sy mansjette om sy polse.
“U sal weer van my hoor, senorita. Nou gaan ek u eers net tot buite dié deel van die dorp begelei. Ek wil u nie weer hier sien nie.”
Sy knik.
“Oui, monsieur, en baie dankie.”
Hy neem haar tot naby die Kasteel en laat haar dan alleen daar om die entjie na die ingang te stap.
Véronique voel nog bewerig van ontsteltenis. Sy is bly dat die Spanjaard haar teruggebring het, maar sy is nog steeds onseker of sy hom wel kan vertrou. Sy het nog nooit met iemand soos hy te doen gekry nie. Sy wonder hoekom almal die aantreklike Spanjaard so vrees. Is dit oor sy dinamiese persoonlikheid of is hy dalk ’n besonder goeie swaardvegter? Is hy werklik so gewetenloos as wat monsieur Lorraine vir haar vertel het?
Sy sidder liggies en probeer die herinnering aan hom van haar afskud, maar sy kan nie. Sy donker oë en lenige gestalte bly by haar …
Voor haar kamerdeur wag Claude le Vau haar in. Hy kom lomp op aandag toe sy hom bereik, en grinnik.
“Ek het vir u gewag, ma’mselle.”
Sy glimlag.
“So sien ek, Claude. Wat kan ek vir jou doen?”
“’n Sekere monsieur Lorraine het na u kom soek.”
Sy steek vas en kyk na hom.
“Monsieur Lorraine? En wat het hy gesê?”
“Hy het gesê dat hy u môreoggend kom haal na Drakenstein en dat hy iets met u wil bespreek.”
Sy lyk verlig.
“Dankie, Claude. Ek dink ek sal die uitstappie nogal geniet.”