gretig. “Hoe het hy verdwyn?”
Die ou dame haal haar skouers op.
“Dit weet ek werklik nie. Hier was ’n dokter wat ’n keer of twee na hom kom kyk het, en die derde dag toe die dokter opdaag, het mijnheer Tredoux skoonveld verdwyn.”
Véronique sluk hard.
“Hy is nie … dood nie?”
“Nee, hy is nie … altans, ek glo nie hy is nie. Hy was nie baie ernstig gewond toe hy hier was nie. Hy kon rondloop, maar die dokter het beveel dat hy in die bed bly totdat die wond genees het.”
“Wie was die dokter?”
“Mijnheer Lorraine. Hy woon op Drakenstein. Hy kom nog dikwels hierheen om ook ander siekes te verpleeg. Ek dink nie hy is veel werd as dokter nie, maar die mense glo in sy metodes.”
Dié nuus laat Véronique ’n oomblik lank sprakeloos. Het monsieur Etienne Lorraine dan heeltemal vergeet dat hy haar pa verpleeg het? Dis baie moontlik, want hy verpleeg seker baie mense.
Sy kyk op na die ou dame.
“Ek het nie gedink dat hy nou nog sal verpleeg nie, madame.”
Madame Schoonveld lag opgewek.
“Hy doen dit uit liefde vir die saak, juffrou. Sy baie geld het hom nie die mensdom laat vergeet nie.” Sy kyk nuuskierig na Véronique. “Ken u die graaf van Sévigné?”
“Hy is my pa.”
Die ou dame se oë rek.
“Genade! Dit moes ek ook kon raai het! Ek het van die begin af gesê dat u nie sommer ’n gewone meisie is nie. Daarvoor is u veels te goed opgevoed en u klere is iets besonders. Ja-nee, gisteraand het ek vir my man gesê dat ons vir jou ’n plekkie in die herberg móét hê. Hy wou eers nie, maar ek het aangedring …”
Véronique luister net met ’n halwe oor na die tante se geklets.
Later die oggend neem sy van die Schoonvelds afskeid en stap die ent na die Kasteel terug. Sy moet oor die markplein stap en sy voel baie selfbewus oor haar verkreukelde voorkoms. Dus stap sy vinnig, sonder om rond te kyk.
Halfpad oor die markplein begin iemand op ’n kitaar tokkel en begin die klompie Spanjaarde die ritme met ’n handegeklap hou. Hulle klap ’n wilde, ingewikkelde ritme met uitroepe tussenin. Die kitaarspeler tokkel wilder, lustiger voort – die deuntjie vol onverwagte draaie wat die omstanders betower daarna laat staan en luister. ’n Spaanse meisie in ’n bloedrooi rok begin met wulpse heupgeswaai dans. In haar hare is ’n bloedrooi blom en in haar hande kletter die kastanjette. Soms laat sy dit skril klater en ruk dit dan tot stilstand in ’n enkele klapgeluid.
Véronique gaan staan en luister, ten spyte van haar haas om by die Kasteel uit te kom. Die wilde musiek herinner haar aan die geheimsinnige Don Diego, en haar hart klop vinniger. Sy staan met haar hand oor haar bors asof sy op dié manier haar hart wil laat bedaar. Dan kyk sy op en sien hom waar hy skaars vyf tree van haar af teen ’n boomstam leun en na die dansende meisie staar.
Don Diego is op die oomblik onbewus daarvan dat Véronique hom dophou. Hy staan met ’n halfwas, vreemde glimlaggie om sy mondhoeke en kyk na sy landgenote se vrolikheid. Aan sy sy glinster die swaard met die edelstene in die hef. Sy wit syhemp blink in die winterson, sy hare is effens deurmekaar.
Véronique begin weer aanstap, maar ruk tot stilstand toe hy skielik na haar roep.
“Senorita!”
Sy kyk op, vas in sy donker oë.
“Ja, monsieur?”
“Ek het gistermiddag by die Kasteel na jou gaan soek,” sê hy.
“Waarom, monsieur?”
“Die man wat jou in die pakhuis voorgekeer het … is vermoor.”
Sy ruk haar asem in en staar na hom.
“Het jý dit gedoen, monsieur?”
Daar is ’n onpeilbare uitdrukking in sy donker oë.
“Nee.”
Sy bly na hom kyk en wonder of sy hom kan glo. Hoekom was die matroos dan so vreesbevange toe hy sien wie hom agtervolg? Hoekom was die matroos só bang vir Don Diego?
“Hoe kan ek u glo, monsieur? Die matrose is bang vir u … Almal wat ek teëkom, is bang vir u.”
Hy lag sag.
“U ook, senorita?”
Sy aarsel.
“Non,” sê sy dan uitdagend, “ek is nie bang vir u nie.”
“U verbaas my, senorita. U manhaftigheid is buitengewoon.”
Sy hou haar mantel stywer om haar sodat hy nie die kreukels in haar rok moet sien nie.
“As u nuus oor my vader het, monsieur, kan ons gesels. Nou is ek haastig.” Sy knik net vir hom en wil dan by hom verbystap, maar hy keer haar.
“Ek hét nuus, senorita.”
Sy steek vas en draai om na hom. Sy oë is ernstig en die lag het van sy mond verdwyn.
“Watse nuus, monsieur?” vra sy asemloos.
“Hy is ontvoer.”
Sy staar na hom.
“Hoe weet u dit?”
“Ek het my metodes om uit te vind.”
Sy ril liggies.
“Dit kan ek my voorstel.”
“As ek meer uitvind, sal ek u daarvan sê.”
“Ek sal nie by die Kasteel wees nie, monsieur,” antwoord sy. “Ek … ek gaan as kamermeisie by monsieur Etienne Lorraine werk, op Drakenstein.”
Sy oë vernou.
“Die skeepsdokter?”
Sy knik.
“Ek moes werk kry om aan die lewe te bly totdat ek my vader kan opspoor. Daar was niks anders nie.”
“U kon as die kommandeur se gas in die Kasteel aangebly het.” Hy frons skielik. “Het u al by hóm probeer uitvind wat met u vader gebeur het?”
Sy skud haar kop.
“Ek wil nie die kommandeur met my probleme lastig val nie.”
“Hy is ’n goeie man, senorita. Ek weet dat die Franse nie baie van hom hou nie, maar hy doen baie vir die nedersetting.”
Sy lag sag.
“U het gelyk, monsieur, hy is nie baie gewild by die Franse nie, maar ek sal tog na hom toe gaan. Miskien kan hy my help.”
Hy antwoord nie dadelik nie, en Véronique loer onderlangs na hom. Sy wonder waarom hy so begaan is oor haar vader se welstand. Hoekom bemoei hy hom met haar soektog na haar pa? Skuil daar nie dalk iets agter sy belangstelling nie? Weet hy nie dalk meer as wat hy wil voorgee nie?
“Ek moet regtig nou gaan, monsieur,” sê sy toe hy steeds niks sê nie.
Hy kyk na haar.
“Doen wat ek u gevra het, senorita; die kommandeur sal dalk kan help. Goeiedag.”
Sy groet en stap dan stadig verder. Sy sien nie hoe hy haar ingedagte met ’n diep frons agterna staar nie.
Die Spaanse meisie bereik die einde van haar wilde dans. Haar rooi rok fladder en waaier in die lug, haar voete klop die ritme uit en haar kastanjette skril deur die oggendlug. Die kitaarspeler se hare val oor sy oë soos hy oor die instrument buig, en sy vingers flits oor die snare tot die laaste, harde, singende akkoord.
Dan is dit skielik stil en bars die applous los.
By die ingang van die Kasteel loop Véronique vir Claude, haar jong reisgenoot, raak. Hy kom haar haastig tegemoet.
“Waar