vroumense so agter jou aan, kaptein?” roep een. “Dis mos heeltemal onregverdig!”
“Dis net altyd die mooistes vir die kaptein!” roep ’n ander. “Ek muit sommer!”
Die tavernebaas lyk asof hy wil begin huil.
“Asseblief, juffrou … gaan liewer huis toe. Gee my net u adres en ek sal die kaptein sê om na u toe te gaan.”
“Dis nie nodig nie,” sê ’n diep manstem skielik reg agter Véronique.
Sy swaai verskrik om en haar hart mis ’n slag toe sy die lenige Spanjaard so plotseling agter haar sien.
Hy glimlag lui.
“Ek sal graag nóú wil weet wat die senorita op die hart het.” Hy kyk na die tavernebaas. “Waar kan ons privaat gesels?”
Die Hollander vee met sy hand oor sy swetende bles.
“Gebruik my kantoor, mijnheer,” sê hy haastig asof dit ’n oortreding is om die kaptein op ’n antwoord te laat wag.
“Ek verkies om hiér met u te gesels,” antwoord Véronique vinnig. Sy wil nie iewers alleen gelaat word met hierdie man nie.
Don Diego kyk af na haar; die lag lê vlak in sy oë.
“Waarvoor is jy bang? Ek het geen vrou nog ooit teen haar sin bemin nie.”
Sy ruk orent.
“U is baie vermetel, monsieur le capitaine!”
Die Hollander trek ’n gesig asof iemand hom geklap het.
“U moet die kaptein asseblief tog nie kwaad maak nie, juffrou …” sê hy half pleitend.
Don Diego draai na hom.
“Bepaal jou by jou nering, senor! Toe, weg is jy!”
Die Hollander maak hom vinnig uit die voete, en dan is Véronique en Don Diego alleen.
“So, senorita, sal ons gaan?”
Sy skud haar kop heftig en kyk vlugtig na die matrose in die taverne wat hulle met belangstelling dophou.
“Ek wil net met u oor my vader praat. Hy was op u skip toe u ongeveer ’n jaar gelede hier aangedoen het.”
Hy aanvaar oënskynlik haar onwilligheid om saam met hom te gaan. “Wie is u vader?”
“Monsieur le comte de Sévigné.”
Sy donker oë vernou.
“Ek weet van hom. Sover ek weet, het hy veilig aan wal gekom.”
Sy sluk hard.
“Hy is nêrens in die Kaap nie.”
Hy haal sy skouers op.
“Hy het dalk weer met ’n ander skip vertrek.”
“Nee, dis nie moontlik nie. Hy sou my laat weet het.”
“Ek is jammer, senorita, maar ek kan u nie help nie.”
Haar moed sak in haar skoene. Hy was haar laaste hoop.
“Dankie, monsieur le capitaine,” sê sy sag. “Ek is jammer dat ek u gesteur het.” Sy draai om en hardloop van die taverne af weg.
“Senorita!” roep hy en kom agter haar aan.
Sy steek vas en kyk om na hom waar hy in die reën staan.
“Wat is dit, monsieur?”
Hy kom tot by haar.
“Ek het ’n hoë agting vir u vader gehad. Ek wou net gehad het dat u dit moet weet.” Hy glimlag op ’n vreemde, geheimsinnige manier, draai om en stap stadig terug na die taverne.
Véronique kyk hom ’n oomblik lank uit die veld geslaan agterna. Sy weet nie of sy Don Diego kan vertrou nie. Sy weet nie of hy regtig niks van haar vader se verdwyning af weet nie.
Met ’n swaar hart draai sy om en begin aanstap na die Kasteel. Sy is nie van haar omgewing bewus nie en baie minder oplettend en versigtig as toe sy gekom het. Dit duur dus ’n hele rukkie voordat sy van die voetstappe agter haar bewus word. Dan gaan sy staan en draai stadig om.
Véronique se hart hamer in haar keel. Sy verwyt haarself dat sy dit alleen in dié gebied gewaag het. Daar is min mense buite in sulke weer. Agter haar het haar agtervolger gaan staan en maak asof hy na iets oorkant die pad staar. ’n Lang ruk kyk sy na hom, probeer sy gesig eien, maar sy ken hom nie. Dan draai sy vinnig om en begin hardloop.
Die reën val nou onophoudelik en die wind huil om die hoeke van die geboutjies. Dit waai haar byna van haar voete af toe sy om ’n hoek hardloop, met die man kort op haar hakke. Te laat besef sy dat sy haar in ’n kort doodloopstraatjie bevind. Tog bly sy voorthardloop met die hoop dat daar iewers ’n deur sal wees waar sy kan inglip.
Die man agter haar loop nou stadiger en dit maak haar paniekerig.
Teen die muur waar die straatjie doodloop, gaan sy hygend staan en soek naarstiglik na ’n uitkomkans. Links van haar is daar ’n deur wat op ’n skrefie oopstaan. As sy daar kan inglip, sal sy dalk kan wegkom.
Net voordat sy in die rigting van die oop deur wil hardloop, gewaar sy deur die digte sluier reën ’n tweede figuur by die ingang na die straat. Haar hart hamer wild in haar keel. Nou is hulle twee, en sy sal geen kans teen hulle hê nie. Dan draai sy vinnig om en hardloop na die oop deur.
Agter haar storm haar eerste agtervolger nader en volg ’n paar sekondes na haar. Sy hoor hom binnekom, waar sy diep agterin die pakhuis skuil. Dan sien sy hom om die houtkiste gestap kom, en met sy oë op skrefies getrek om hom tuur.
Dis nie baie lig in die benoude vertrek nie. Daar is net twee klein venstertjies hoog bokant die opgestapelde kiste. Solank sy geen geluid maak nie, sal die vent haar skuilplek nie ontdek nie. Dus bly sy doodstil sit, en met ’n kloppende hart sien sy hoe hy al hoe nader kom. Die ander man het in die deuropening verskyn, maar sy kan nie nou aandag aan hom gee nie. Sy moet op die eerste konsentreer, want dié het intussen tot hier by haar gevorder.
’n Rot skarrel oor die vloer in Véronique se rigting. Sy druk haar hand in haar mond om nie te gil nie, maar bly met groot oë na die diertjie staar. Hy sit haar met blink kraalogies en bekyk. Dan skuifel hy ’n paar treetjies nader tot by die soom van haar mantel.
Véronique se hart bons in haar keel. Sy kyk versigtig weg van die rot na die donker gestalte wat nou net deur een kis van haar geskei word.
Hy draai skielik om en sien haar raak. ’n Aaklige grynslag breek oor sy ruwe gesig.
“Aha!” roep hy triomfantelik uit. “Jy het ’n slegte plek gekies om weg te kruip!”
Véronique spring op en probeer eenkant toe padgee toe hy nader kom.
“Los my!” gil sy. Hulle is twee! dink sy paniekerig en kyk vlugtig in die rigting van die ander man wat nog in die deur van die pakhuis staan.
Die man spring vorentoe en gryp haar aan die arm voordat sy kan losruk.
“Wat soek jy hier in dié omgewing?” sis hy.
“Laat my gaan!” gil sy paniekerig. “Los my uit!” Sy ruk en pluk, maar sy hand bly in ’n staalgreep om haar arm.
“Nie so gou nie, meisie … ek het iets om aan jou te sê.”
Véronique hou op met spartel en kyk met groot oë na hom.
“Wat … wat wil jy vir my sê …?” vra sy hees.
Hy aarsel.
“Ek weet waar jou pa is.”
Véronique ruk orent.
“Jy weet … waar my pa is?” vra sy ongelowig.
“Ja, maar …”
“Waar is hy? Jy móét my sê!”
Hy skud sy kop.
“Moenie