on>
ANNELIZE MORGAN
DIE EINDE VAN DIE REËNBOOG
Jasmyn
1
Colette en oupatjie Jerôme de Villiers staan met hulle trommels en sakke om hulle gestapel op die wit strand van die Kaap van Goeie Hoop. Hulle lyk ietwat verlore te midde van die bedrywigheid om hulle. Die koue, onvriendelike voorkoms van die kasteel en die klein huisies en ander geboutjies daaromheen, is glad nie wat hulle verwag het nie.
“Ja,” sug oupatjie Jerôme, “dis nou ’n gebodder.”
Colette kyk na hom.
“Ons kan nie die hele dag hier bly staan nie. As Oupa nou hier sal bly by die bagasie, dan gaan soek ek iemand om ons hier weg te neem.”
Jerôme vryf sy ken ywerig.
“En waarheen sal hy ons neem?”
“Na ’n herberg of Kasteel toe. Iewers moet ons tog ’n begin maak.”
“’n Begin!” hik die ou man. “Op mý ouderdom moet ek ’n begin maak! Ek en jou oorlede ouma het ons begin sestig jaar gelede gemaak! En drie-en-dertig jaar gelede moes ek wéér ’n begin maak! Nou is ek twee-en-tagtig en ek wil nie wéér ’n begin maak nie!”
“Wag nou, Oupa! Dit sal nie help om hier op die strand te staan en kla nie. Ek gaan nou eers iemand soek om ons na ’n herberg toe te neem. Môre kan ons kyk wat ons kan doen om aan die lewe te bly.”
Toe Colette wegstap, skud die ou man sy kop en gaan voort om hardop met homself te praat.
“Liewe deug! Waarin het ek my hiérdie keer laat beland? Onse klein Colette gaan nog my einde beteken.”
Twee jongmeisies kyk nuuskierig na hom en Jerôme vergeet ’n oomblik van sy penarie. Met ’n skelm kennersoog betrag hy die vietse lyfies en grinnik. “Ek is nog g’n oud nie, Moedertjie,” gesels hy ingenome met sy oorlede vrou. “As ’n man nog kyk en wéét hoekom hy nog kyk, is hy glad nie oud nie.”
Die strand raak vinnig verlate. Na ’n ruk is dit nog net Jerôme wat eensaam op een van die trommels gaan sit het en sy lot bekla. Elke nou en dan snuif hy hard omdat sy hart baie seer is. Die trane bly ook nie weg nie.
’n Bebaarde man staan hom op ’n afstand nuuskierig en bekyk. Na ’n ruk stap hy kopskuddend nader.
“Het hulle jou vergeet, Oompie?” wil hy simpatiek weet.
Jerôme staan stram op.
“Ek is Jerôme de Villiers en niemand vergeet vir Jerôme de Villiers nie, seunie!”
Die man grinnik.
“Nou wat maak Oompie dan so alleen hier? ’n Mens sit mos nie sommer net en grens vir niks nie.”
“Ek het nie gegrens nie!” bars oupatjie Jerôme in sy dun stemmetjie los. “Dis die seelug wat my oë laat traan en my neus laat water. Dis die see, sê ek jou. Ek kon nog nooit naby die see bly nie!”
“Dan moes Oompie nie na die Kaap gekom het nie. Hier is ons altyd naby die see.” Hy lag sag. “Ek is Jacques de Ville, en as ek Oompie van enige hulp kan wees, moet u maar net sê.”
Oupatjie Jerôme is in ’n tweestryd. Die man lyk vir hom heeltemal betroubaar en dit lyk nie asof hy enige kwade bedoelings het nie.
Uit die hoek van sy oog sien hy Colette aangehardloop kom en sug verlig.
“Hier is my kleindogter nou net.”
Colette bereik hulle uitasem.
“Ek kon nie vervoer kry nie, Oupa, maar ons kan verblyf kry in die Goue Kat.”
Jacques maak ’n buiging.
“Ek kan julle soontoe neem, mademoiselle.”
Sy kyk agterdogtig na hom.
“En wie is u?”
Oupa lig sy hande afwerend.
“Hy is nie ’n slegte man nie, chérie.” Hy kyk na De Ville. “Dankie, monsieur, ons sal dit waardeer as u ons met vervoer kan help.”
Colette frons liggies.
“Oupa …”
“Stil nou, meisiekind! ’n Mens moet ’n guns met waardigheid kan aanvaar.”
Sy sug liggies en kyk agterdogtig na die bebaarde man.
“Nou maar goed. Dankie, monsieur.”
Madame Roubaix, die hospita van die herberg, is ’n vriendelike maar ietwat baasspelerige soort vrou. Sy rammel die reëls van die herberg vir die twee mense af.
“Geen drank in die kamers nie en geen gesnuif in die bed nie,” eindig sy. “As julle iets wil hê, moet julle mý daarom vra. Aangename verblyf, monsieur en mademoiselle.”
“Wel!” sê Colette verlig, “nou kan ons aan môre begin dink.”
“Môre … ag, Moedertjie, waarin het ons ons begewe?” kla Jerôme.
“Selfbejammering gaan ons niks in die sak bring nie,” sê Colette beslis. “Oupatjie was vroeër ’n goeie tuiemaker en ons het die gereedskap saamgebring. Môre gaan ons iewers ’n werkie vir Oupatjie soek!”
“Tuiemaker … jy weet nie wat jy sê nie! Dit was twintig jaar gelede! Ek sal my vingers vol gate steek met die els en hoe sal ek daardie skerp messe nog kan hanteer?” Hy hou sy knopperige hande voor hom uit. “Hulle bewe al van die ouderdom! Ek sal nooit weer ’n tuig kan maak nie!”
“Oupatjie,” sê Colette kwaai, “daardie hande bewe niks. Hulle bewe nie eens ’n ou bietjie nie.”
Jerôme kyk af na sy hande asof hy dink dat sy hande hom verraai het. Sy verstand werk in die hoogste versnelling. As hy nou net so ’n ou klein, skadelose siektetjie kan optel, sal sy hande begin bewe en sal Colette hom met rus laat.
Colette bekyk hom agterdogtig. Sy weet dat hy weer iets in die mou voer. Jerôme het nog nooit ’n ding sommer net so aanvaar nie. Hy is altyd vol planne oor hoe om homself uit ’n situasie te wikkel waarvan hy nie hou nie. Hierdie keer, neem sy haar voor, gaan sy vir hom ’n werk kry. Wanneer hy ledig is, doen hy altyd die een of ander onbesonne ding en dan moet sy agterna gaan probeer om hom weer daaruit te kry.
Van die tuiemakery kom daar egter niks. Jerôme kan werklik nie meer ’n tuig maak nie. Die steke van die stikwerk is onegalig. Of hy dit moedswillig gedoen het, weet Colette nie. Dat die ou man al ’n bietjie oud is vir dié soort fyn werk, ly egter geen twyfel nie en sy is ietwat bekommerd toe hulle na die herberg terugkeer.
Sy ingenomendheid laat haar egter op haar tande byt. Só maklik gaan hy nie wegkom nie. Sy kan hom onmoontlik bedags alleen los om te gaan werk. Hy sal net weer in die moeilikheid beland en sy wil dit tot elke prys verhoed.
Madame Roubaix keer Colette voor toe sy en haar oupa na hulle kamer wil gaan.
“Ek het iemand nodig in my eethuis,” sê sy en beskou die skraal meisie van kop tot tone. “As jy nog nie werk het nie, sal ek jou huur teen twee riksdaalders per week met gratis inwoning en kos.”
Colette aarsel. Met só ’n karige salaris sal sy nie juis ’n ordentlike bestaan kan maak nie en sy het ook nog vir Oupa om te versorg. Dis egter ’n begin en terwyl sy hier is, kan sy ’n beter werk soek.
“Dankie, madame, maar ek moet ook nog vir my oupa ’n werkie kry.”
Madame Roubaix lag hardop.
“En wat kan dié ou bokram doen?”
Colette bloos verleë terwyl Jerôme soek na woorde om die astrante hospita te antwoord.
“Hy was altyd ’n tuiemaker, madame.”
Madame Roubaix snork.
“Ek het nie werk vir ’n tuiemaker nie. As hy bereid is om te werk, kan hy groente in die kombuis kom skil. Ek sal hom ’n riksdaalder per week betaal en dieselfde voordele as vir jou gee. Hy kry dan ook kos en verblyf gratis.”
Voordat