tion>
Dana Snyman
In die blou kamp
Tafelberg
“What occurs each day and returns each day, the banal, the everyday, the obvious, the common, the ordinary, the infra-ordinary, the background noise, the habitual: how does one give an account of it, examine it, describe it?”
– Georges Perec
Alle karakters in hierdie boek bestaan werklik,
behalwe een.
’n Soort voorwoord
(Vir Paul Alberts, 1946 – †2010)
Ek ry nou al hoe lank met jou boek Buite die hekke van Eden in die bakkie rond, Paul.
Nou die aand sit ek in die Brandvlei Hotel se lounge en blaai daardeur. ’n Kêrel, een met so ’n voos rooi neus, kom staan later agter my. “Wie’s die ou wat hierdie foto’s geneem het?” vra hy ná ’n ruk. “Hy moet hel depressed wees.”
Ek dink wat die ou eintlik wou sê, is jy draai jou lens knaend na dinge wat besig is om te verval, verwaarloos is en agteruitgaan. Die beskadigde grafte op Ceres en Zastron, Swartmodder en Modjadji. Die kerkgebou op Ladismith wat ’n stoorplek geword het. Die vernielde seun wat in Langstraat in die Kaap met sy kop op ’n hoop koerante lê. Barste in sypaadjies. Verf wat van mure afdop. Heinings wat slap hang.
Bouvallige plaasopstalle. Paaie vol slaggate. Motorwrakke.
Baie is al geskryf oor hoe fotograwe van skilders leer, en hoe skrywers ook van die visuele kunste leer. Soveel van jou foto’s maak woorde in my los, Paul – woorde wat stories wil word. Wat het John Berger nou weer gesê? “Seeing comes before words.” Daardie kerk op Ladismith waarin nou sakke mielies en ander goed gestoor word, is vir my nie net nog ’n kerk waarin nie meer eredienste gehou word nie. Dis vir my troues en begrafnisse en biddae vir reën. Dis ’n nagmaalbeker wat van hand tot hand aangegee word en ’n ouderling wat sy hoed tydens ’n kerkraadsvergadering vat en by die konsistorie uitstap. Dis vroue wat op ’n Saterdag pannekoek op ’n sypaadjie bak. Dis die “Onse Vader” se laaste note wat onder ’n geelhoutplafon talm en ’n vlermuis wat in die laatmiddaglig in kringe oor ’n verdroogde grasperk vlieg.
Maar is dít al wat vir ons oorgebly het, Paul? Om die dinge, die ou dinge, wat rondom ons verander en aan die verweer en verdwyn is te dokumenteer?
Oral in die land word mense en stede en dorpe en plase anders. Ons is nou, meer as ooit in my leeftyd, in daardie tussentyd waarvan Gramsci praat: “The old is dying and the new cannot be born; in this interregnum there arises a great diversity of morbid symptoms.”
Die ou algemene handelaar in die hoofstraat is nou ’n Shoprite of ’n Spar of ’n OK Foods. By Avbob se kantoor het ’n Chinees en sy vrou ingetrek en verkoop nou egte nagemaakte Gucci-handsakke, flitsbatterye en selfone. Langsaan is ’n kruiedokter van Ghana wat belowe hy kan jou verlore vrou, jou verlore bakkie en jou verlore ereksie terugbring. Die kerk is omring deur hoë traliewerk. Teen ’n asblik nooi ’n plakkaatjie: “Safe and cheap abortions.” Op die plein voor die stadsaal, naby die monumentjie wat tydens 1938 se Simboliese Ossewatrek ingewy is, slaan ’n kêrel in langpuntskoene elke oggend ’n gazebo op en sny vir die res van die dag ander kêrels se hare terwyl musiek vol vreemde ritmes uit ’n CD-speler pomp.
Ook op ’n ander manier is die land en die wêreld aan die verander. Omtrent almal van ons, jonk en oud, ryk en arm, het nou ’n selfoon, ’n iPad of ’n toestel wat ons met die internet verbind. Die internet is die nuwe beloofde land waarin ons glo ons kan word wat ons behoort te wees.
Ons neem foto’s – ook foto’s van onsself, geneem deur onsself – en stuur dit oor en weer vir mekaar op Instagram en allerhande ander digitale maniere. Ons stry en dreig en beledig mekaar op Twitter of bemoedig mekaar met vrolike prentjies en pienk woordjies. Ons spog met onsself, ons kinders en ons troeteldiere op Facebook en gee ons menings oor enigiets van God en die president tot die prys van skeermeslemmetjies en die tragiese dag toe mense opgehou het om hulle gunstelingmusiek op kassette op te neem.
Eers het ek dit probeer vermy. Ek het geglo ’n skrywer sit by sy skryftafel, kalm van gees, en stoei een woord ná die ander uit sy binneste los, noukeurig, weldeurdag, totdat sy boek klaar is. Maar iewers in 2011 het ek vir my ’n Facebook-profiel op die internet geskep. Net om te kyk wat daar aangaan, het ek vir myself gesê. ’n Mens moet darem weet wat gebeur aan die ander kant van die heining tussen jou en jou vooroordele.
Nou, vier jaar later, het ek hierdie boek saamgestel met ’n klomp van my Facebook-inskrywings, elk met ’n foto by. Die meeste het ek self geneem. Nes miljoene ander mense leef ek nou ook ’n gedeelte van my lewe op die internet.
“When a human being becomes a set of data on a website like Facebook, he or she is reduced,” skryf Zadie Smith iewers. “Everything shrinks. Individual character. Friendships. Language. Sensibility.”
’n Mens kan kwalik met Smith verskil, daarom is daar vir my ’n soort voorlopigheid aan baie van die dinge wat ek op Facebook skryf. Soms is dit ’n reaksie op iets wat ek gesien, gehoor of gelees het. ’n Ander keer is dit ’n optekening van ’n byna terloopse ervaring, selfs ’n aanhaling uit ’n dagboek, of ’n langer beskrywing van iets oor hoe ons hier en nou lewe. Of in die verlede geleef het.
Miskien begin Facebook en blogs op die internet, sê Zadie Smith ook, die dagboek in mense, ook party skrywers, se lewe vervang.
Ek het min of meer net een maatstaf: Met alles wat ek op Facebook skryf, probeer ek iets van myself en hierdie land en ons verlede aan myself verduidelik en dokumenteer en terselfdertyd met mense daaroor in gesprek tree – gesprekke waarvoor ongelukkig nie in dié boek plek is nie.
Baie van die stukke is geskryf in gastehuiskamers en koffiewinkels en kroeë, soms op ’n selfoon se klein skermpie terwyl ek as joernalis deur die land gereis het om artikels vir tydskrifte en koerante te skryf.
Ek wou jou boek al uit my bakkie haal, Paul. Dit lê en verniel agter die sitplek tussen die domkrag en die wheel spanner, maar van tyd tot tyd blaai ek maar weer daardeur om myself te herinner aan die teksture van hierdie land wat jy so goed geken het, aan die verganklikheid en die broosheid van dinge, en die onbestendigheid van alles in hierdie tussentyd waarin ons lewe – die lewe buite die hekke van Eden.
Die lewe wat ek ook op Facebook probeer verken, al is dit hoe voorlopig.
uMlungu
Johannes Bogosi stap by my werkkamer in met ’n swaar frons tussen die oë.
Hy kom sit op die punt van die ou bal-en-klou-stoel langs my skryftafel. Hy het al die jare by my pa op Ventersdorp gewerk, maar ná Pa se dood het hy en sy vrou, Lettie, en hul seun, Koos, by my op Jacobsbaai kom woon, in die woonstel agterin my erf.
“Vra maar, Johannes,” sê ek, want ek weet al hy wil iets vra wanneer hy so kom sit met sy hande vasgeknyp tussen sy kniekoppe. “Wat’s dit?”
“Kan ons Ouboet se bakkie môre vroeg vat? Ons wil vir ons brille by die trein gaan kry.”
Die hele week al staan daar ’n wit trein, ’n reisende oogkliniek, op ons buurdorp Saldanha se stasie – ’n projek van die departement van gesondheid om mense te help wat dit nie kan bekostig om na ’n oogarts te gaan nie.
Die volgende oggend donkervroeg skrik ek wakker en hoor daar ry my bakkie. Elf minute oor vier, sê die horlosie op my selfoon. Johannes-hulle het die lig in die voorhuis aan gelos.
Ek sukkel om weer aan die slaap te raak. Ek sien mense in sinkhutte en HOP-huise wakker word en aantrek en na die trein stap en ry in ou karre. Ek sien mense in ’n ry in die donker wag.
Iewers tussen nege en tien piep my foon. Dis ’n please-call-me van Johannes af.