verkies maar steeds die papier van ’n koerant onder my vingers.
Ek stort, trek aan en gaan sit by die tafel in die voorhuis en lees verder aan die John Berger-boek waarmee ek besig is.
’n Ruk later kom my bakkie aangedreun. Ek gaan loer deur ’n skreef in die gordyn. Johannes hou voor die motorhuis stil. Lettie klim eerste uit in daardie rooi, groen en oranje trui met die frilletjiesrige hals wat sy altyd aantrek wanneer hulle dorp toe gaan.
Hulle het elkeen ’n roomkleurige brilhuisie in die hand. By die agterhekkie haal Johannes sy bril uit en sit dit op. Lettie en Koos doen dit ook.
Toe hulle by die deur inkom, nuut bebril, sit ek weer by die tafel.
“Oe, Ouboet,” sê Lettie. “Ons sien nou so lekker.”
“Baie lekker,” beaam Johannes en lag.
Koos skakel die lig by die skakelaar langs die deur af en stap deur die vertrek en begin die gordyne voor die vensters een vir een ooptrek. Lig sypel tot in die vertrek se donkerste hoeke. Buite is die see ’n groen kombers op ’n onopgemaakte bed. Johannes tel die leë Coke-blik en halwe pakkie grondboontjies langs die rusbank op waar ek dit gisteraand gelos het.
Lettie kom staan by my. “Wanneer gaan Ouboet weer mall toe?” vra sy. “Ouboet lyk sleg. Kyk net hoe stukkend is Ouboet se hemp. Kyk net hoe lyk Ouboet se skoene.”
Avokado: Dag 1
Kom, Johannes, sê ek. Kom. Jy moet my help. Ek wil hierdie avokado se pit laat groei.
Ek wys vir hom die avokado – die grootste een wat ek by Checkers op Vredenburg kon kry – wat op die kombuiskas lê.
“Gaan ons hom by die grond plant?” vra Johannes.
“Nee, nee,” sê ek. “Ek sal jou wys. Ons gaan sy pit in ’n botteltjie water laat ontkiem.”
Ek haal ’n skerp mes uit die laai en gee dit vir Johannes. “Jy is beter met sulke goed as ek, Johannes,” sê ek. “Sny hom oop, maar moenie die pit raaksny nie. Ek soek die pit.”
Johannes vat na die avokado, maar hy begin nie sny nie – nog nie. “Hoekom wil Ouboet dit doen?” vra hy.
My oorle ma het altyd avokadopitte in ’n botteltjie water aan die groei gekry. Later het sy dit in die grond uitgeplant, dan het dit ’n boom geword. “Ek sê mos, Johannes,” sê ek. “Ek wil hom laat groei.”
Hy vat die avokado in sy een hand vas en laat die messie se lem deur die groen vlees gly, stadig, versigtig, in die rondte.
Ek het ook ’n bottel agurkies en ’n dosie vuurhoutjies by Checkers gekoop. Ek haal ’n Tupperware-bakkie uit die kas en gooi die agurkies daarin uit. Ek wil net die botteltjie hê. Ma het geglo jy laat ontkiem ’n avokadopit in ’n agurkiebottel.
Die avokado is nou middeldeur. Johannes trek die twee helftes van mekaar af. In die middel van die een helfte lê die pit.
Dis ’n mooi, groot pit, hoor ek Ma sê. My ma, wat ek nou in my middeljare, meer as tien jaar ná haar dood, eers deur myself leer verstaan. My ma wat knaend Valiums gedrink het en ook party dae net in die slaapkamer wou bly lê agter toegetrekte gordyne. Op elke dorp waar ons gewoon het, het sy ’n avokadoboom in die tuin agtergelaat.
“Wat nou?” vra Johannes.
“Haal nou die pit uit,” sê ek. “Moet hom net nie seermaak nie.”
Johannes wikkel die pit versigtig uit die holte en hou dit tussen sy duim en wysvinger vas.
“Nou moet ons drie vuurhoutjies in die pit druk,” sê ek en trek die dosie vuurhoutjies oop.
Ons druk die vuurhoutjies in die pit, een vir een, ek en Johannes. Toe gaan hou ek die botteltjie onder die kraan by die wasbak en tap water in totdat die pit se onderkant in die water hang, nes Ma altyd gemaak het.
Johannes stap saam met my na my skryfkamer toe, op met die trappe. Ek sit die botteltjie op die vensterbank neer waar die middagson val as dit sonskyn is. Buite reën dit saggies.
Stil staan ons vir ’n paar oomblikke en kyk na die pit wat gekruisig in die water hang.
“Nou hy sal groei,” sê Johannes.
“Hy moet, Johannes,” sê ek, “anders weet ek nie.”
Tug
Die skoolhoof hardloop op die foto. Hy dra ’n pak klere en ’n gestreepte hemp, hy trek sy skouers terug en hou sy kop vooroor, asof hy koes vir iets. En hy hardloop.
Ek het die foto uit die koerant geknip, nou lê dit hier tussen die goed op my skryftafel. Dit was by ’n berig oor kinders wat by die Hoërskool Chris Hani in Khayelitsha naby Kaapstad in opstand gekom het nadat ’n matrikulant glo deur veiligheidswagte geslaan is omdat hy ’n selfoon by hom gehad het.
Die kinders het, volgens die berig, ook stoele en tafels by klaskamers se vensters uitgegooi en dit aan die brand gesteek.
Dis van hierdie kinders af wat meneer Madoda Mahlutshana, die skoolhoof, weghardloop in sy pak en sy langpuntskoene. Hy vlug, want party van die kinders gooi hom met klippe.
Sê nou so iets het gebeur toe ek op skool was?
Sê maar Beetge, of een van die ander krims in my klas, het weer nonsens aangejaag en daar was veiligheidswagte by ons skool en hulle het vir Beetge geslaan terwyl Kopbeen – meneer Van der Schyff, ons hoof – staan en kyk. Dan, opeens, is ons almal kwaad vir Kopbeen. Ons begin op Kopbeen skreeu en vloek, dan tel een ’n klip op en gooi dit na Kopbeen. Dan hardloop die waardige Kopbeen onwaardig vir ons weg in sy swart pak met die Rapportryerswapentjie wat op die lapel blink terwyl ons klippe na hom gooi. Hy hardloop na sy Mercedes-Benz wat voor die skoolsaal onder die bome staan, maar hy sien dis te laat, want van ons is klaar by die Benz. Ons skop duike in die wieldoppe en gooi die ruite stukkend. Ou Kopbeen hardloop buk-buk onder ons klippe by die skool se hek uit, in die straat af terwyl ons lag en fluit en skreeu, en terughardloop na die skoolgebou.
Dit is die eerste periode op Maandagoggend en ons gaan nie algebra by tannie Tienie Swanepoel hê nie. Tannie Tienie het haar reeds uit vrees vir ons in die stoortjie agterin haar klaskamer toegesluit.
Ons hardloop die klaskamer in, tel tannie Tienie se lessenaar op, dra dit by die deur uit en gooi dit oor die stoep se muurtjie. Ons lag en stoot ons arms in die lug terwyl die lessenaar twee verdiepings ondertoe tuimel en langs die vlagpaal in die vierkant val en breek. Ons bring ons stoele en tafels en gooi dit ook ondertoe. Ons ruk tannie Tienie se plakkate vol wiskundige formules van die mure af en steek dit aan die brand. Een trek sy gulp oop en pis in tannie Tienie se boeksak. Ons breek die klaskamer se ruite.
Ons hardloop met die stoep af, gryp die brandblussers van die mure af en gooi dit ondertoe.
Ons jaag vir Spyker, die houtwerkonderwyser, by sy klas uit. Een van sy Grasshopper-skoene val af. Ons lag en begin ou Spyker se Grasshopper vir mekaar skop.
Ek het die foto al deur ’n vergrootglas bekyk en probeer tel hoeveel kinders daarop is. Ek kom tot by honderd ses en dertig, maar daar kan meer wees, want die foto is effens uit fokus. Baie van die kinders lag. Dit lyk of sommige skree.
Meneer Madoda Mahlutshana se pak is nog nuut, want aan die bokant van die baadjie se linkermou is ’n etiket wat jy eintlik veronderstel is om af te haal wanneer jy die baadjie begin dra.
Meneer Mahlutshana hardloop in sy nuwe pak met sy bril op die punt van sy neus en skoene waarvan die lang punte in die grond wil vassteek. Hy hardloop oor die ordelike skoolterreine in my geheue, seuns eenkant, meisies anderkant, uit by die hek en deur die grense van my