die brief. ’n Hele ruk staan hy met die brief naby sy gesig, toe laat sak hy dit weer. “Hier staan …” Hy sit die brief voor die Sarge-ou en die oom op die toonbank neer. “Hier staan: ‘Aan almal wat ek ken.’” Die ou man druk met sy vinger op elke woord terwyl hy vertaal. ‘Ek. Groet. Julle. Ekke. Is. Nou. Klaar. Julle. Kan. Nou. Lag. Ekke. Is. Weg. Totsiens.’”
Die ou man raak stil en tree weg van die toonbank af.
“Is dit al?” vra die Sarge-ou.
“Dis al, Ntate.”
Die ou man gaan weer by die deur uit. Buite in die straat ry ’n motor verby, al agter sy ligte aan. Die Sarge-ou vou die briefie op, druk dit terug in sy sak, en vat weer na sy bier.
“Hoekom is dit so stil?” vra die oom met die neus. “Sit ’n bietjie daar vir ons musiek op, Truiatjie.”
Die kroegvrou druk die CD-speler op die rak se knoppies. “Oom-hulle moet net onthou,” sê sy voor Kurt Darren begin sing. “Nog net vyf minute, dan’s happy hour verby.”
Die kind is nie dood nie
Simone laat sak haar kop en staar na haar hande. “Ek wou ook al my eie lewe neem,” sê sy, “maar ek wou nie soos my ma die see in stap nie.”
Sy glimlag wrangerig. “Ek wou van ’n hoë gebou af spring. Dis wat ek wou doen.”
Ons sit in die sitkamer van haar huis in Houtbaai, en ek voel soos die indringer wat ek is.
Simone is die dogter – en enigste kind – van Ingrid Jonker, die digter wat oor die jare heen ’n kultusfiguur geword het. ’n Fliek is al oor haar lewe gemaak, ’n drama geskryf, en vele van haar getoonsette gedigte word deur bekende sangers gesing.
In 1994, toe president Mandela ons land se eerste demokraties verkose parlement geopen het, het hy Ingrid se gedig “Die kind” voor die hele wye wêreld voorgelees. In Afrikaans.
Gaan praat met Simone, het die nuusredakteur gesê. Die meeste mense weet nie eens sy bestaan nie.
Langs haar op die bank sit haar man, Ernie García Márques, ’n sakeman met wie sy drie jaar gelede getroud is. Albei is sewe en vyftig jaar oud. Simone was sewe toe haar ma dood is.
Daardie nag. In Drieankerbaai.
19 Julie 1965.
“Ek onthou my ma het my altyd beach toe in Seepunt gevat, dan speel ons in die sand.” Simone se stem is sag, met ’n effense Engelse aksent. “Sy’t ook altyd haar gedigte vir my gelees, maar ek het geweet sy’s unhappy en depressed. Sy’t verhoudings met mans gehad, maar dit het nooit uitgewerk nie.
“Dalk was André Brink the love of her life. Ek weet nie. Ek dink nie dit was altyd maklik om met haar in love te wees nie.
“’n Kind is mos bewus van dinge. A child feels things.”
Sy kom van die bank af orent en gaan skakel die ketel aan. Teen die muur hang ’n portret van Ingrid. Op die tafel is ’n vaas met inkalelies in, ’n melktert, ’n paar kleinbordjies, ’n paar koekvurkies.
Sy begin die melktert in skywe sny.
Dit is als klein, voorstedelike rituele wat, sedert sy met Ernie getroud is, vir die eerste keer permanent deel van haar lewe is: Melktert bak, TV kyk, Facebook.
Tussen die boeke op die rak is twee van André P. Brink se romans: Orgie en Die ambassadeur.
“Ek was al die jare ’n hippie, ’n gypsy.” Simone kom sit weer by Ernie. “I was lost voor ek vir Ernie ontmoet het. Drugs. Drank. Paarties. My eerste kind op agtien. Rehab. Nog rehab. Nog shit. Rondtrek. Suicide plans. Unhappiness.”
Ek sit my notaboek en pen neer. Ek gaan vir die nuusredakteur sê Simone wil nie haar storie in ’n koerant tussen stories van gesinsmoorde en celebrities wat verlief is of skei of trou hê nie.
Haar hand kom op Ernie se been tot rus. “Dit was ’n vreeslike nag daardie.” Sy bly ’n ruk stil. “Ek was by my ma in die flat in Drieankerbaai.”
Haar pa, Pieter Venter, wat self ’n gepubliseerde digter was, en Ingrid was toe al vir ’n paar jaar geskei.
“My ma was baie down. Ek onthou in ’n stadium het sy op die vloer voor die deur lê en huil. Toe staan sy op en maak die deur oop. Later. ‘Waarheen gaan jy, Mamma?’ vra ek. ‘Nêrens nie,’ antwoord sy.
“Ek’t gaan slaap. Die volgende oggend toe kom maak tannie Anna, my ma se suster, my wakker. ‘Jy moet Johannesburg toe gaan,’ sê sy vir my. ‘Waar’s my ma?’ vra ek. ‘Sy’s by die werk,’ sê tannie Anna. ‘Kom. Ons gaan jou vliegtuig toe vat.’
“In Johannesburg, toe wag my pa vir my op die lughawe. Toe hy sê my ma is dood, wou ek hom nie glo nie. Toe wys hy my die koerant. ‘Kyk hier,’ sê hy. ‘Mamma het verdrink.’
“Toe sê my pa dis beter as ek en nie hy nie na haar begrafnis toe gaan.”
Ernie sit sy arm om Simone se skouer. “Ons gaan gereeld Drieankerbaai toe, ons twee,” sê hy. “Ons was laas Sondag weer daar.”
“Ek praat met haar,” voeg Simone by. “Ek sê vir haar: ‘Dis orraait, Mamma. Dis orraait. Ek’s trots om Mamma se kind te wees.’”
Hulle gaan ook gereeld na Ingrid se graf in die Maitland-begraafplaas.
“Die dag toe Mandela die gedig in die parlement lees . . .” Sy soek na woorde. “That was it. It was big. Toe weet ek: My ma was iets, ek’s ook iets.”
Iets het op daardie oomblik ’n bietjie draagliker geword vir die kind met die omsingelde hart wat net wou speel op die strand by Seepunt. Sy kom weer regop.
“Ek’t André Brink net een keer ontmoet. Not so long ago. Op Franschhoek. Ek sê vir hom: ‘Dis orraait, André. Dis fine. My ma sê dis fine.’ Toe vat hy my hand, en sê: ‘Dankie.’”
Die ketel het lankal gekook. Sy skakel dit weer aan. “Ek sal altyd na my ma verlang. Dit sal nooit weggaan nie. That I know.”
Sy skep twee lepels Nescafé in elke beker, haal die melk uit die yskas, bring die suikerpot. Buite skyn die son helder op die grasperk. Die tuinpaadjie het geen krake in nie. Die voorhekkie is wit geverf, en langs die deur hang ’n houtbordjie: “Simone en Ernie se plekkie by die see.”
Vrees
Sy kom staan voor my met ’n hand in die sy, asof sy haar drie maatjies teen my wil beskerm.
“Wat’s jou naam?” vra ek.
“Beyoncé,” antwoord sy.
“En jou van?”
“Hartbees.”
Hulle krap tussen die rommel by die munisipale stortingsterrein – die asgate – buite Griekwastad rond. ’n Koue wind jaag plastieksakke en papiere en stof oor die grond waarop oral glasstukke blink.
“Kan jy mooi sing, Beyoncé?” vra ek.
“Nee,” sê sy, en giggel soos die kind wat sy is.
“Kan ek ’n foto van julle neem?”
Sy kyk om en roep na die ander. “Kom, julle,” sê sy. “Die meneer wil ’n photo van ons vat.”
’n Bont brakkie storm blaffend op my af, maar Beyoncé Hartbees gryp hom en lig hom van die grond af. Die ander drie kom staan by haar. Nie een van hulle kan ouer as tien of elf wees nie. Die een meisietjie het die gesig van ’n oumatjie, kompleet met kopdoek