derde een buk en tel ’n kleurbrosjure van Lewis Stores van die grond af op. Santa Barbara 3-piece Lounge Suite. Only R8 999. Same-day delivery.
Beyoncé Hartbees hou steeds die hondjie in haar arms vas.
“Wat’s die hondjie se naam?” vra ek.
Sy giggel. Hulle al vier giggel. Ek draai die kamera se lens na hulle en maak seker ek kry die stukkende hondebak in, en die ou motorfietsvalhelm, en die leë Doom-blik. Lensopening: F3.5. Sluiterspoed: 1/10. Asa: 800.
’n Paar oomblikke later, terwyl ek terugstap kar toe met die kamera oor my skouer, storm die hondjie weer op my af, blaffend, mik-mik na my hakskene.
“Nee, Oubaas!” roep Beyoncé Hartbees iewers agter my. “Oubaas! Nee! Nee!”
Op Naauwhoek se werf
Eers het Don Steenkamp sy pa, Deon, geskiet, in die plaashuis op die plaas Naauwhoek naby Griekwastad waar Don grootgeword het. Drie skote. Die een koeël is agter Deon se linkeroor in. Fragmente daarvan is in sy brein gevind. Daarna het Don sy ma, Christelle, geskiet. Twee skote. Die eerste koeël het waarskynlik eers deur ’n baadjie gegaan wat oor ’n stoel gehang het voordat dit Christelle in die rug getref het. Die tweede koeël is by die agterkant van haar kop in. Toe het Don die rewolwer op sy veertienjarige suster, Marthella, gerig. Een skoot het haar in die bors getref. Daar was ook ’n ingangswond langs haar neus, een skoot het haar voorkop rakelings getref, en sy is ’n kopskoot van agter toegedien. Sy het ook verskeie skraapmerke, kneuswonde en merke op haar lyf gehad. Op haar geslagsdele was ’n rooi skaafmerk, want Don het haar ook verkrag voordat hy na die polisiekantoor op die dorp gejaag het, bebloed.
Don was toe vyftien jaar oud, ’n kind.
Nege dae ná die moorde stap ek een middag alleen op Naauwhoek se werf rond. Teen die deure, mure en by die agterdeur is steeds bloed. Op die visdam pak paddaslyk saam. Op die stoep lê voëlmis.
Agter die huis hang ’n skoppelmaai, doodstil in die koel namiddaglug. Onder die skoppelmaai staan die kweekgras hoog. Jy kan sien kinders het baie lank laas daarop gespeel.
Makroplase
’n Plaasopstal wat agtergelaat word, sterf stadig. Die dak se verf begin afdop en onder die nokke maak die swaeltjies en die vlermuise en die perdebye nes. Daar kom voëlmis op die stoep. Die geute roes en wanneer dit reën, loop trane bruin teen die mure af. ’n Sinkplaat begin flap in die wind, flap, flap, flap in die nanag terwyl ’n uil roep. Iemand kom en stroop die dak, dra die deure weg, kap die kosyne en vensterrame uit. Dan is dit asof die huis moed opgegee het. Die pleister kom eerste van die mure se bokant los terwyl die rysmiere onder in die hoeke tonnels maak. Daar kom ander insekte ook, insekte en parasiete, wat op verlore drome teer. Die beendere in die grafte in die familiekerkhof naby die leë skaapkraal is nie meer gesigte in ovaal rame teen die sitkamermuur nie. “’n Lykrede behoort gehou te word by huise en kerke wat ineenstort,” skryf Hennie Aucamp iewers. “Daar moet ’n eenvoudige gebed gebid en daar moet gesing word. Dat die siel van die huis tot rus kan kom.” ’n Erdvark kom grawe waar die plankvloer in die gang uitgebreek is, en die telefoon wat op ’n rottangtafeltjie gestaan het, lui nie meer nie, is nie meer daar nie. Die tyd se kouevuur woed deur die vertrekke, seisoen ná seisoen. ’n Driedoring spartel deur ’n kraak in een van die kamervloere en sprei sy takke. Een middag is daar ’n donderbui en die wind waai een van die mure om. Daarna val nog ’n muur om, en dan waai daar nog winde, en nog mure val om. ’n Onbewoonde huis treur homself terug die aarde in.
Onskuldig, Edelagbare
Die hofverrigtinge kan maar begin. Dit lyk of almal gereed is. ’n Polisievrou het pas by ’n kantoor uitgekom en die name op die hofrol hardop gelees: “Charleton Papier! Wayne Stuurman! Gert Julies … !”
Die meeste van dié wat voor die landdros moet verskyn, sit of staan in die portaal van die hofgeboutjie in Hopefield se hoofstraat.
Hulle en hul familie en vriende wag al van vroegoggend af.
Ek het al hoeveel keer by dié hofgeboutjie met die hoë gewel verby gery op pad tussen Jacobsbaai en die Kaap, maar vandag het ek stilgehou. Ek wil weet wat gebeur in ’n plattelandse hof, ver weg van mediamense met hul Twitter updates en hul TV-verslae.
’n Stille verdrietigheid hang oor alles in die portaal. Op die een houtbankie sit ’n meisie en ’n man in ’n swart frokkie. Teen die muur langs die hofsaal se deur en ’n skildery van ’n enkele boom op ’n eensame vlakte, wys ’n horlosie dis agt minute oor tien.
’n Ouerige vrou kom by die deur in met ’n handsak oor haar skouer, twee plastieksakke en ’n blikkie Appletiser in die hand. Sy gaan sit langs die man in die frokkie.
“Waar was Ma?” vra hy.
“Ek’t gou vir Wayne ’n sappie gaan koop.” Sy wys die blikkie Appletiser vir hom.
Die staatsaanklaer kom uit ’n kantoor gestap met ’n pak vaalbruin lêers onder die arm. Ons gaan sit op die regop bankies in die klein hofsaal.
“Staan!” beveel die aanklaer.
Die landdros kom in en gaan sit op sy stoel waarna ons almal moet opkyk.
Die aanklaer blaai ’n lêer oop en roep: “Charleton Papier!”
Papier gaan staan in die beskuldigdebank. Hy wurg en wurg aan ’n keppie in sy hande. Hy verskyn op aanklag van aanranding, maar die saak kan nie begin nie, want die polisie is nog besig met die ondersoek. Die saak word uitgestel.
“Wayne Stuurman!” roep die aanklaer volgende, toe gee hy ’n lêer vir die landdros aan, en sê: “Stuurman het iemand met ’n mes doodgesteek, Meneer.”
’n Polisieman staan op en gaan sluit die deur aan die agterkant van die vertrek oop, want Wayne Stuurman – hy is negentien jaar oud – is in aanhouding.
Hy kom uit die sel, ’n jong man met littekens op sy kaalgeskeerde kop. Ke-klieng, ke-klieng, stap hy met boeie om sy enkels. Hy laat gly sy oë oor die bankies. Sy ma, wat langs die man met die swart frokkie sit, die blikkie Appletiser steeds in die hand, waai vir hom, maar hy waai nie terug nie. Hy hou die reling voor die beskuldigdebank met albei hande vas.
“Werk u, meneer Stuurman?” vra die landdros.
“Ja, Edelagbare. By ’n hoenderplaas.” Sy stem is sag.
“Wat doen u daar, meneer Stuurman?”
“Ek maak hoenders dood.”
“Hoe werk dit, meneer Stuurman?”
“Ek shock hulle dood met ’n masjien. Party dae shock ek sommer ’n duisend dood.”
Die landdros laat sak sy kop en skryf iets in die lêer voor hom. Hy kyk weer na Stuurman. “U het Sheldon April in die nag van 23 April vermoor, meneer Stuurman. Wat pleit u?”
“Onskuldig, Edelagbare.”
“U sê u wil nie van ’n regsverteenwoordiger gebruik maak nie?”
“Nee, Edelagbare. Ek sal vir myself praat.”
“Kan u vir die hof vertel wat het daardie nag gebeur?”
“Ek het hom twee keer gewaarsku, maar hy het nie opgehou nie.”
“Wat het hy gedoen, meneer Stuurman?”
“Hy was gedrink, Edelagbare. Ek het hom twee keer gewaarsku.”
“Het