Christine le Roux

Geskenk uit die hemel


Скачать книгу

      “Nee.” Hy kyk haar op en af. Sy dra ’n denimkortbroek wat nie sy lewe as kortbroek begin het nie. Dis met ’n baie stomp skêr of mes hoog teen haar bobene afgesny en is nou bloedbesmeer en vuil ná die val. Hierby dra sy ’n wit hempie wat óf in die was gekrimp het óf altyd te kort was en aan haar voete seilskoene sonder sokkies. “Jy kan nie nou na ’n jeugherberg gaan nie.”

      “Wel, miskien nie dadelik nie, nee,” sê sy. “Ek is verskriklik honger en dors en ek moet geld trek.”

      Hy sif die restaurante wat hy ken deur sy kop en verwerp hulle. Nie een sal haar in haar huidige mondering oor die drumpel toelaat nie. “Het jy nie familie of vriende na wie ek jou kan neem nie? Ek ken nie die jeugherberge nie, maar ek dink tog jy het na hierdie nare ondervinding beter versorging nodig.”

      “Nee,” sê sy.

      “Nee, wat?”

      “Ek ken niemand hier nie. Ek het mos gesê, ek het vanoggend eers hier aangekom. Ek sal in die herberg bly tot ek werk gekry het en dan sal ek …” Sy lek weer oor haar lippe en haar skouers hang. “Net ’n koeldrank?”

      Hy sluit die motor oop, wag tot sy ingeklim het en stap terug na die hospitaal waar hy ’n koeldrankmasjien gesien het. Toe hy die blikkie vir haar gee, gryp sy dit omtrent en begin drink terwyl skuim nog deur die opening borrel.

      “O,” sê hy. “Ek het die strooitjie vergeet.”

      “Dis onnodig.”

      Sy hande rus op die stuurwiel. “Miskien moet ek jou maar huis toe neem. Dit is per slot van rekening alles my skuld.” Hy kyk op sy platinumhorlosie. “En dis klaar te laat om kantoor toe te gaan.”

      Sy lewer nie kommentaar nie. Sy lyk nou moeg en verlep asof sy ook nie langer lus is om planne te maak nie. Hy ry versigtiger as normaalweg; sy oë swiep heen en weer en hy hou omtrent stil elke keer dat hy ’n voetganger sien. Eers toe hy voor sy huis indraai, kikker sy op, sit regop en bekyk die huis.

      “Ek het nie geweet mens kry vierkantige iglo’s nie,” sê sy.

      “Iglo’s?”

      “Daardie yshuise waarin Eskimo’s woon.”

      Hy bekyk sy huis asof hy dit vir die eerste keer sien. Dis ’n argitektoniese meesterstuk wat al in baie tydskrifte beskryf en gefotografeer is.

      “Dit lyk soos ’n klomp groot vierkantige ysblokke wat opmekaar gestapel is,” sê sy belangstellend. “Met glas tussenin.”

      “Ja,” sê hy en haal haar rugsak uit die bak. “Kom, jy wil seker bad.”

      “Wat gaan jou vrou sê?” Sy het uitgeklim, maar bly teen die motor staan.

      “Ek het nie een nie.”

      “En jou kinders? Hulle kyk seker nou na die soaps.”

      “Ek het nie kinders nie. Ek sê dan nou net ek het nie ’n vrou nie.”

      “Vrouens kom en gaan,” sê sy. “Kinders bly. Jy kan die een sonder die ander hê.”

      “Moontlik, maar ek het nog nooit enige gehad nie.”

      Sy stap agter hom aan, kyk hoe hy die groot voordeur oopsluit en bly in die portaal staan, haar kop opgehef na die lang gleuwe lig wat van alle kante inskyn. “Haai, dis mooi,” sê sy.

      “Dankie,” sê hy droog en verwys nie na haar opmerking oor vierkantige ysblokke nie. “Kom.” Hy stap voor haar uit, om een van die wit betonsuile en op met die versteekte trappe tot hulle in ’n gang kom wat na twee kante wegbuig. Hy maak ’n deur oop en hou sy hand uit.

      “Jissie,” sê sy en bly op die drumpel staan.

      Alles is wit behalwe ’n dik geweefde mat op die klipvloer en die beddegoed en lampe. Dit is alles in omtrent tien skakerings blou en groen.

      “Daar is jou badkamer,” sê hy en wys na ’n deur ook weggesteek agter ’n suil.

      “Dis beslis mooier as die jeugherberg,” sê sy.

      “Heel moontlik. Maak jou tuis. Is daar iemand wat jy wil bel?” Hy wys na die telefoon langs die bed. “Jy kan bad en opfris. Ek sal gaan kyk wat Anna vir ons vir aandete gelos het.”

      “Wie’s Anna?”

      “Die huishulp. Sy sit my aandete reg voor sy loop. Kan ek vir jou iets bring om te drink?”

      Sy glimlag skewerig. “Jy gaan seker ’n sterk whisky drink.”

      “Nee, hoekom sal ek?”

      “Het jy nie ook geskrik nie?”

      “Nee. Ja, natuurlik het ek.”

      “Nou ja?” vra sy.

      “Wat drink jy?” ontwyk hy haar. “Wil jy ’n whisky hê?”

      “Nee! Ek drink net wyn. Net somtyds.”

      “Wit of rooi?”

      “Wit, dankie.”

      Hy draai weg. “Ek bring vir jou ’n glas, dan kan jy dit drink terwyl jy bad.”

      Toe hy dit vir haar bring, is sy besig om verkreukelde kledingstukke uit die rugsak te trek, ’n gesukkel met net die een hand. Sy lyk moedeloos. “Dink jy ek sal kan bad met die gips aan?”

      “Jy sal die arm buite die bad moet hou,” sê hy. “Ek dink nie dit moet nat word nie.” Hy onthou van die pille en haal dit uit sy sak. “Hier, ek dink jy moet nou een van elke soort drink. Die een is bloot vir pyn. Het jy baie pyn?”

      “So effens.”

      “En sal jy regkom?”

      “Ek sal moet, of hoe?”

      Sy is nie so seker hiervan ná hy die deur saggies toegemaak het nie. Alleen is dit ’n gesukkel. Alles neem twee keer so lank as gewoonlik – om haar klere uitgetrek te kry, die bad volgetap te kry en veral, gewas te kom. Sy hou haar linkerarm in die lug en dit op sigself maak haar moeg sodat sy ’n handdoek nader trek, dit op die bad se rand neersit en die arm daarop rus. Om met net een hand ’n waslap vol seep te smeer en haarself te was, neem tyd en sonder dat sy dit bedoel, word haar hare nat en moet sy dit ook was. Dis éérs moeilik en sy is uitgemergel toe sy uiteindelik uitklim en die sagte badjas wat agter die deur hang, aantrek.

      Dis hopeloos te groot en hang af oor haar hande. Met net een hand kry sy ook nie ’n handdoek om haar hare gedraai nie en sy stap ondertoe met die handdoek in haar hand en haar hare druppend op haar skouers.

      “Hallo?” roep sy in die portaal en kyk na die skeef gekantelde wit suile aan weerskante.

      “Hier is ek,” sê hy en verskyn om een aan haar linkerkant.

      “Jy sal my moet help,” sê sy. “Ek is gedaan. Ek kan nie eers die moue oprol nie, laat staan nog iets aan my hare doen.”

      Hy neem haar na ’n kamer agter die suil. Dis ’n woonkamer, sou sy sê, of ’n televisiekamer. Informeel met vet, kleurryke stoele en banke en ’n breë glasinsetsel tussen die beton waardeur mens uitkyk op ’n agtertuin vol blomme en struike.

      “Sit,” sê hy en wys na een van die stoele. “Wat moet ek doen?”

      “As jy net die moue kan oprol,” sê sy. “Ek weet nie wie se badjas dit is nie, dit het agter die deur gehang en is gemaak vir ’n reus.”

      Hy buig oor haar en rol die moue op tot twee hande verskyn. “Dis daar vir die gerief van gaste.”

      “Groot gaste.”

      “Wel, groter as jy. Wat nog?”

      Sy hou die handdoek uit. “Kan jy my hare droogvryf? Net winddroog sal goed wees, want op die oomblik drup dit op my skouers en maak my koud.”

      Hy vat die handdoek, buig weer oor haar en vryf onhandig voor hy self besef sy posisie is verkeerd. Hy loop om