Helena Olivier

Flentermens word heelmens


Скачать книгу

of ’n kind in ’n ongeluk of deur selfdood, moord of ’n ongeneeslike siekte. Iemand naby aan jou boet lewensgehalte in omdat hulle in ’n rolstoel moet leef. Jou baba word blind of doof gebore, of sy of haar sintuie verswak geleidelik. Jy hoor jy het net ’n paar maande oor om te leef of dat een van jou ledemate geamputeer moet word. Iemand vir wie jy omgee, word verswelg deur drank- of dwelmmisbruik. Jy dra swaar aan ’n seer waarvan ander mense min weet, soos wanneer jou kind aandagafleibaar is of Aspergersindroom het.

      Dit maak ’n groot verskil aan hoe jy die lewe aanpak. Soms huil jy alleen in ’n donker kamer. Maar jy moet by hierdie onvoorsiene omstandighede aanpas. Dikwels skop vrees en paniek in. Jy gaan deur die fases van die rouproses – skok, woede, ontkenning, onttrekking, verwerking, hoop en berusting.

      Al kan ons beheer oor baie dinge in ons lewe uitoefen, tref enige soort verlies ons met die waarheid dat daar beperkings is aan wat ons as mense kan doen of beheer. Ons het nie die finale sê in wat met ons gebeur nie. Tog moet ons altyd besef: Te midde van die chaos en pyn in ons lewe, kan ons steeds in beheer bly deur die regte keuses te maak wanneer ons weer beter voel. Ons kan kies om uit ons donker gat te klim en die lewe opnuut te verwelkom.

      In hierdie boek gesels ek nie net oor die kwessies waarmee mense wat verlies ervaar het, worstel nie. Ek probeer jou ook toerus om te help bou aan ’n liefdevoller gemeenskap waar deernis later ’n golwende groen grasperk sal wees vir dié wie se lewenstuin weens hartseer en verlies verdor het.

      Wat gebeur met goeie mense wanneer slegte dinge hulle tref?

      •“Dit kan nie wees nie!”

      •“Hoekom moet dit juis met ons gebeur?”

      •“Dit is so onregverdig!”

      •“Ek glo dit nie!”

      •“Hoe kan die God van liefde toelaat dat so iets gebeur?”

      Enige verwoestende verlies laat ons …

      Want die lewe Verander radikaal van daardie oomblik af.

       Ons ontmoet die donker kant van die lewe.

      Ons moet saamleef met die verwyte:

      “As ek maar geweet het, sou ek … beter voorberei gewees het … reg gewees het daarvoor.”

      Toeskouer

      Ek is bekommerd oor my vriend, want …

      … hy wil nie vergewe nie.

      … al haar lewensvreugde is weg.

      Ons blameer onsself en vir God:

      •“Ek moes daar gewees het.”

      •“As ek net meer oplettend was.”

      •“As ek net geweier het dat hy met daardie mense vriende raak.”

      •“As ek maar net nie daardie medikasie geneem het toe

       ek swanger was nie.”

      •“As ek nie so hard gewerk het nie en meer aandag aan my familie gegee het.”

      •“Waar was God?”

      •“Hoekom het Hy nie gekeer dat dit gebeur nie?”

      Toeskouer

      Wat ’n tragedie! Sy is nou te bang om weer lief te hê.

      Hy wil nie meer na ander mense uitreik nie.

      Haar vertroue is geskend.

      Hy is kwaad vir God.

      Sy onvergewensgesindheid vergiftig hom.

      Wanneer jy ’n verlies ly en jy kies nie om positief op hierdie negatiewe situasie te reageer nie, sal jy heel onder in die V-tregter bly lê. Onder in hierdie V-tregter is dit pikdonker. Daar is niks om aan vas te hou en jou te help om op te staan nie.

      Wanneer jy effens omdraai, sien jy wel uit die hoek van jou oog ’n skrefie lig ver bokant jou deurbreek, maar dit verblind jou. Dan krul jy maar weer op en maak jou oë toe. Dit is te pynlik om te sien en te voel. Jy het nie eens die krag om ’n vinger te lig nie.

      Dit is nie dat jy kies om só te reageer nie. Dit is eenvoudig die maklikste en natuurlikste reaksie. Jy voel vasgevang. Jy voel duiselig van die smart. Jy voel soos ’n slagoffer van die omstandighede. Jy is tot die dood toe moeg. Jy wil slaap en nooit weer wakker word nie. Jy wil van niemand hoor nie. Jy wil met niemand praat nie. Jy is nie honger nie.

      Met verloop van tyd word jy al hoe swakker omdat jy net bly lê, niks doen nie en niks eet nie. Jy sien nie eens meer die flentertjie son wat van bo af by die tregter in skyn nie. Jy verdrink in jou trane. Die smart verswelg jou. En hoe langer jy bly lê, hoe jammerder kry jy jouself. Jy voer jou met niks daar in die V-tregter nie, totdat die V in die W van wanhoop verander.

      Toeskouer

      Hoekom ruk hy hom nie reg nie?

      Dit kan tog nie so erg wees nie!

      Hoekom vat dit haar so lank om weer ’n greep op die lewe te kry?

      Gaan hy ooit weer probeer opstaan?

      Die wanhoop vreet aan jou liggaam, siel en gees. Jy is ’n lewende dooie.

      Maar jy kan ánders kies!

      Wat kies jy?

      Jy kan die W van Wanhoop omdraai sodat dit weer op sy bene staan, sodat dit die M van Mallemeule word. Jy kan weer op die mallemeule van die lewe klim deur met behulp van hierdie b-woorde aan elke been van die M vas te hou:

      Kies

      •tussen vernietigende wanhoop en blymoedige hoop.

      •tussen ’n verslae, verwilderde en verwese bestaan en die genade om weer as ’n bemagtigde mens blymoedig deur die lewe te gaan.

      Wat kies jy?

      Nie maklik nie

      Liewe medereisiger op die lewenspad, dit is nie maklik om die W van Wanhoop in die M van Mallemeule om te swaai nie. Die koudheid, leegheid en grysheid van die hartseer wat in elke beentjie van jou liggaam skuilplek gevind het, het jou gees laat afstomp. Jy het gemaklik begin raak daar onder in die donker gat van die v-tregter. Bitterheid en depressie klou aan jou hart, net soos die apatie, twyfel, vrae, vrees vir mense en dinge, en selfs vrees vir die mens wat jy geword het. ’n Mens sonder ’n wil en visie.

      Maar jy het ’n kragtige stuk toerusting ontvang om jou te help om hierdie ommeswaai te bewerk: gebed. Wanneer jy bid, beweeg God en wanneer God beweeg, verander mense en situasies. God gee sy Heilige Gees die opdrag om namens jou op te tree. Terwyl jy daar in die donker gat lê, is sy engele rondom jou. Jy kan hulle net nie sien nie.

      Toeskouer

      Luister onbevooroordeeld.

      Moenie oordeel as jy nie eers self in iemand se skoene gestaan het nie.

      Bemoedig ander in smart.

      Wees deernisvol en goedgesind

      Hanteer mense met liefde en geduld.

      Wees sagmoedig.

      Wees verdraagsaam.

      Versterk ander deur hulle met wysheid en insig te leer en te help.

      Bid sonder ophou vir ander mense se geestelike en liggaamlike herstel.

      Bemagtig ander om op hulle eie bene te staan deur hulle te bemoedig om die Wapenrusting van God (Ef 6:10-20) aan te trek sodat hulle regop kan bly staan.

      Omdat Christene weet waar hul aardse reis gaan eindig, kan hulle leef met die wete dat daar wel ’n toekoms bestaan. Troos mekaar dan met die woorde van 1 Tessalonisense 4:13-18:

      Ons wil hê … dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes