en op die plaas te kom sit en niksdoen …”
Aletta glimlag.
“Daar sal oorgenoeg te doen wees. Sal Ta’ Lettie nou kom?”
“Ja, kind. As julle my nodig het, sal ek graag kom. Wanneer wil jy my daar hê?”
“Sommer vandag as dit moontlik is. As Ta’ Lettie dringende dinge het om te doen, kan ek Ta’ Lettie later in die week weer dorp toe bring.”
Ta’ Lettie belowe dat sy teen twaalfuur klaar gepak sal wees, en verlig ry Aletta weg. Sy het geen plan of begeerte om op die dorp te kom bly nie en met Ta’ Lettie op Tiervlei kan die nuwe bestuurder gerus wees: sy reputasie is veilig!
Kort ná twaalfuur kom hulle moeg en warm op die plaas aan. Die son brand neer op die vaal, verskroeide aarde en in die blou lug draai ’n paar aasvoëls rond. Aletta ril skielik soos iemand wat koud kry.
Hulle dra Ta’ Lettie se koffers en pakkies huis toe en Aletta neem haar na haar eie kamer toe. Sy sal Betsie se kamer gebruik totdat sy die hoofslaapkamer vir haar eie gebruik skoon- en reggemaak het. Sy het ’n gevoel Ta’ Lettie sal nie graag in die kamer wil slaap waar haar ma en stiefpa albei oorlede is nie.
Hulle is in die eetkamer toe Jim Muller inkom.
“Ek is bly jy is veilig terug, juffrou,” sê hy beleef.
Aletta kyk agterdogtig na hom. Skimp hy al weer? Sy sê koel: “Ek moes vir Ta’ Lettie wag. Ta’ Lettie, dit is Jim Muller, ons nuwe bestuurder. Ta’ Lettie Bruwer, meneer Muller – ons chaperone,” voeg sy spottend by.
In stilte meet Ta’ Lettie en Jim Muller mekaar, soos twee stoeiers voor ’n wedstryd. Dan glimlag hy onverwags, en hy lyk meteens jonger en aantrekliker.
“Aangename kennis, mevrou Bruwer,” sê hy hoflik.
Ta’ Lettie ontdooi sigbaar. “Sê vir my Ta’ Lettie, kind! Watse mevrou is dit?” Sy betrag hom belangstellend, dan sê sy: “Jou gesig lyk bekend, Jim. Van watter Mullers is jy?”
“Nie van dié kontrei nie, Ta’ Lettie. Die Mullers kom eintlik van die Boland.”
Hulle wissel nog ’n paar woorde, dan sê Jim Muller vir Aletta: “Ek het slegte nuus vir jou, juffrou.”
“Wat is dit?” vra sy met ’n skielike gevoel van beklemming.
“Daar het twee beeste in die boonste kamp gevrek en nog ’n paar is siek.”
“Wat makeer hulle?”
“Ek weet nie. Is hier ’n veearts op die dorp?”
Sy knik. “Ek sal hom dadelik bel.”
“Asseblief. Die beeste is in ’n baie swak kondisie. Brandmaer. Ons sal hulle moet voer gee – of hulle vrek nog almal.”
Sy kyk hom verslae aan. “Waar moet ek voer kry?”
“Hier is tog ’n koöperasie. Hulle sal vir jou kan sê.”
“Voer kos geld. Ek sal eers met meneer Pretorius moet praat.”
“Die diere moet kos kry – so gou moontlik. Die veearts sal ook so sê.”
“Dan moet jy daarvoor sorg,” sê Aletta kortaf. “Ek is moeg vir droogte en diere wat vrek en ander ellendes. Doktor Naudé het jou hierheen gestuur. Van nou af aanvaar jy asseblief alle verantwoordelikheid.”
Jim Muller kyk ’n lang oomblik na haar. “Wat is die veearts se naam?” vra hy.
“Dokter Van der Vyver,” sê sy koel. Sy kyk na Ta’ Lettie, na die kos wat Mietjie tafel toe gebring het, en draai weg. “Verskoon my asseblief, Ta’ Lettie. Ek het hoofpyn. Ek gaan kamer toe.”
Ta’ Lettie en die nuwe bestuurder kyk na mekaar. Dan knik Ta’ Lettie.
“Senuwees. Net senuwees. Arme kind. Dit was vir haar ’n moeilike jaar gewees. Al die verantwoordelikhede – en omdat sy altyd so kalm en sterk was, het almal maar hulle moeilikhede op haar gepak.”
“Ek is jammer dat ek ook nog tot haar moeilikhede bydra.”
“Dis nie jou skuld nie. Dis daardie Frans Naudé wat so koppig is. As hy net wil toestem dat hulle Tiervlei verkoop.” Sy sug gelate. “Maar kom sit, Jim. Die kos word koud.”
“En juffrou Vosloo?”
“Laat haar begaan. Sy kry af en toe dié skeelhoofpyne. As sy ’n bietjie gerus het, sal sy beter voel.” Sy kyk na hom en glimlag vertroulik. “Van nou af sal dit beter gaan. Met ’n nuwe bestuurder én ’n chaperone op Tiervlei, kan sy vir ’n verandering terugsit en ontspan.”
Hoofstuk 4
Aletta tel die brief wat sy aan Frans Naudé geskryf het op en lees dit deur. Die brief het langer geword as wat sy bedoel het, iets wat nogal dikwels gebeur wanneer sy aan hom skryf. Dis vreemd, dink sy, dat sy so maklik en sonder terughouding kan gesels met ’n man wat in werklikheid ’n vreemdeling is. Met hom bespreek sy sake wat sy nie eens met Gawie Pretorius kan of wil bespreek nie.
Is dit omdat hy mede-erfgenaam van Tiervlei is en sy voel dat hy ook deel moet hê aan die verantwoordelikhede en probleme waarmee sy heeldag sit? Of is dit maar net omdat sy briewe so gaaf en vol belangstelling is dat sy begin oorborrel die oomblik dat sy die pen optel om aan hom te skryf? Sy hoop maar net dat sy hom nie verveel nie, dat hy nie moeg raak vir haar en haar stories nog voor hulle kans kry om te ontmoet nie. Sy lees die brief:
Beste Frans,
Ons sit vanaand almal soos een groot gesin ewe gesellig om die eetkamertafel. Snoes, die gemmerkat, lê op my skoot en spin; Stompie, Tiervlei se dapper waghond, dut heerlik en droom van die haas wat hy vanmiddag opgejaag het maar nie kon vang nie. Ons chaperone, Ta’ Lettie (jy het nie geweet ons het ’n chaperone nie, het jy, neef Frans?), hekel ’n doilie van die outydse soort vir die kerkbasaar.
Susan, haar hare soos ’n goue stralekrans in die lig van die lamp, is besig om ’n rok korter te maak, maar haar blou oë is diep – ’n bietjie somber. Ek weet sy dink aan die dag dat sy weer teruggaan stad toe. Het ek jou geskryf dat sy ’n model wil word? Sy stel in niks anders belang nie. Maar ek is dankbaar dat dit soveel beter met haar gaan, dankbaar vir die ekstra maande wat ek haar hier op Tiervlei kan hou.
En tog, wat wag vir haar in die stad? Die lewe sal so anders wees! Sy sal nie meer inpas in haar ou vriendekring nie. En daar is altyd die moontlikheid dat sy haar eksman en sy nuwe vrou êrens raakloop.
Ja, die twee mooi sussies het my al heelwat slapelose nagte besorg.
Die nuwe bestuurder is besig om vir Betsie met ’n ingewikkelde wiskundeprobleem te help, en dis meer as wat ek kan doen. Wiskunde was nooit my sterk vak op skool nie en die bietjie wat ek geken het om deur matriek te kom, het ek lankal weer vergeet. Jim Muller se kop is blykbaar beter as myne.
Maar genoeg van die familie. Ek het ander, belangriker nuus. Sake hier op Tiervlei is geensins so rustig nie.
Jim Muller het toe Saterdag gekom en ek het hom op die stasie gaan haal. Hy ken jou swaer, meneer Brand, goed. Hy het ’n ruk lank by die mense op die plaas langsaan gebly. Miskien onthou jy hom: ’n lang, skraal, valerige man – sonder veel persoonlikheid en inisiatief, het ek met die eerste oogopslag gedink, maar ek is vinnig besig om van opinie te verander. Reeds op pad na Tiervlei het ons amper ’n potjie geloop. Ek het ’n bietjie teëspoed met ’n donkie gekry: die arme donkie is dood en ons ou Chev – die boedel s’n, natuurlik – het ’n bietjie skade. Terloops, die motor word reggemaak en die versekering dek gelukkig die skade. Dit was natuurlik ’n ongeluk wat enigeen kan oorkom, maar dis toe net daar dat die man sy voet dwarssit en weier om verder te ry tensy hy self bestuur. Boonop kry ek toe nog ’n lesing oor hoe om ’n motor veilig te bestuur.
Ek was so vererg dat ek hom sonder om te dink ’n hele ent by Tiervlei se uitdraaipad verby laat ry het voor ek hom reggehelp het. Ek het verwag hy sal baie kwaad wees – veral nadat ek hom amper