sê hy, “niemand kon ons nog ooit keer nie.
En wys my wie gaan dit nou probeer?”
Wié gaan hulle keer, Here?
Hulle lê die hulpelose voor,
hulle vergryp hulle aan die weerloses.
Waar is U dan, Here?
Sien U dit nie raak nie?
Kyk tog,
kýk, asseblief tog, Here!
Lees Psalm 10:12-18 | 14 Januarie
Ons ken U
Here, waar kom die goddeloses daaraan
dat U nie omgee nie?
Wie het hulle wysgemaak dat U
u kinders ignoreer?
Is dit omdat hulle U nie ken nie
dat hulle U nie raaksien nie?
Hoe sal hulle sien dat U opstaan en u kinders troos?
Hulle lewe dan ongetroos, volledig aan hulleself uitgelewer;
slagoffers van hul eie genadeloosheid – dit is ál wat hulle ken.
Maar óns ken U.
En ons weet hoe dit is wanneer U ons swaarkry vir u rekening neem,
wanneer U ons laste op u skouers tel en dit dra.
Ons het daaraan gewoond geraak om ons sorge aan U oor te gee,
sodat u hand dit kan toevat, dit van ons af wegneem.
U sal daarmee maak soos U weet reg is
en op ’n tyd wat U reeds bepaal het.
Ons kan onsself nie help nie, Here,
en daarom is dit vir ons allertroostend
dat U óns – probleme en al – in u hande hou.
Soos U na weeskinders omsien,
só kyk U na ál u kinders.
So sien U almal raak –
ook die boosdoeners.
U moet húlle deeglik ondersoek,
vlek hul boosheid tot op die been toe oop,
sodat daar nêrens meer vir hul skuilplek is nie.
Jaag hulle rond, Here, hot en haar –
totdat hulle die pad vat!
U oor is na ons gedraai,
ons hart is gerus:
Ons het ’n tuiste by U.
Lees Psalm 11 | 15 Januarie
Onder u vlerk
Ek kruip weg by U, Here,
en daarom ontstel dreigemente my nie.
Mense wat knaend waarsku: “Pasop vir dié!”
en vol besorgdheid maan: “Wees versigtig vir daai!”
kan maar gerus wees:
Die Here is my skuilplek.
Dit is nie dat ek nié van die gevare weet nie;
ek is maar té bewus van bose mense en hul
duistere planne, van hul wreedheid en wraaksug.
Ja, ek ken my weerloosheid, Here, my blootgesteldheid,
en ek weet hoe min ek eintlik daaraan kan doen.
As hulle daarop ingestel is om my leed aan te doen,
sal hulle dit sekerlik regkry. Ek het geen verweer nie.
Daarom hardloop ek, weerlose kind,
met my arms uitgestrek
gereeld na U toe.
En voel ek veilig by U,
want U het ook my hart gesien.
Hierdie hart wat U s’n is.
Vir hulle wat net wil seermaak, ja, doodmaak,
vir hulle het U nie tyd nie. U verag hulle.
Daarom keer U nie die kwaad van hulle af weg nie;
dit kom onverdun op hul kop af.
Dit sal hulle verswelg
en uiteindelik verteer – goed so!
Maar vir my, u kind,
met die hart wat U
vir U gevat
en skoongewas het,
vir mý is U ’n tuiste.
So skuil ek by U.
Kyk dan net hoe kruip
ek onder u vlerk in …
Lees Psalm 12 | 16 Januarie
Maak u stem dik, Here!
Here, kan ’n mens niemand meer glo nie?
Het almal dan nou begin lieg?
Vandag sê hulle dié ding,
môre pas hulle weer hul storie aan.
Soos dit hulle pas,
só draai hulle die mantel
en verdraai hulle die waarheid.
Hulle roem openlik op hul gladde praatjies;
hulle is trots op wat hulle met hul groot mond uitrig.
Die skade wat hulle aanrig, is nie vir hulle ’n skande nie,
inteendeel.
Daarom is my hoop op U gerig,
om hulle tot orde te roep,
om hul mond te snoer.
Hulle doen soveel kwaad met wat hulle willens en wetens sê –
al die roekelose praatjies wat so argeloos rondgestrooi word.
Dit is tog niks anders as geweld nie, Here!
Hulle maak seer,
nee, méér: Hulle moor met die mond.
Staan tog op, Here,
maak u stem dik.
Vertel hulle reguit wat U van hul gemeenheid dink.
Praat dan ook met ons wat so onder hulle ly.
Ons het ’n behoefte aan u woorde,
u salwende woord, ons met die oop wonde.
Leer ons dan sommer, Here,
om ons minder te steur aan die los mond
van hulle wat deur ego en eiebelang gedryf word.
Help ons om hul goedkoop geklets te vermy,
om ons ore vir u stem te spits. Ons wil U duidelik
hoor wanneer U die geraasmakers doodpraat.
Ons vreugde
is u woord
wat lewe gee.
Lees Psalm 13 | 17 Januarie
Ek kan nie meer nie …
Vergewe my, Here, maar ek kan eenvoudig nie meer nie:
Ek kan nie meer glo dat U luister as ek praat nie –
wanneer ek soebat, smeek, sonder ophou móói vra.
U reageer dan nie …
Dit is asof U wegkyk wanneer ek smekend na U opkyk.