9:9 – Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, dié lewe wat tot niks kom nie, maar wat God jou in hierdie wêreld gegee het.
Niemand kon bak soos my ma nie – van brood tot verjaardagkoeke waaroor kinders droom. Hiermee het ek grootgeword, die reuk van oondvars brood wat in ’n grys kombers toegedraai word in die spens. Dan lê ek wakker en wag, want netnou is sy daar met ’n bordjie en ’n koppie tee. Verjaardae sê ons voor en sy tower daardie koekdrome op.
My liewe vrou bak nie. Sy kook, plant, maak mooi en werk hard. Maar sy bak nie. Sy het twee van die stad se baasbaksters se nommers op snelbel. Ek het toe maar self ’n broodbakkursus gaan doen – en daar is die reuk van my kinderdae weer in my grootmenshuis.
As daar nou een ding is wat konflik in die huwelik aanskakel soos ’n magtige vuur, is dit om jou lewensmaat met jou ouers te vergelyk. As jy in hierdie slaggat trap, leer jy gou niks goeds kan hieruit voortvloei nie. Mense verskil – so ook hul talente en persoonlikheidseienskappe. My ma het gelukkig vroeg ontdek sy hou van bak en is goed daarmee. My vrou het ook vroeg reeds iets ontdek wat bak betref. Sy is nie goed daarmee en hou nie daarvan nie. En daar wyk die konflik wat staan en wuif van die kantlyn af!
Moenie jou eie bekende konteks uit jou kinderdae afdwing op jou maat nie. Julle sal wel agterkom waarmee julle goed is en mekaar leer aanvul. Bevryding uit tradisionele rolle het al vir baie mense vrede en geluk gebring.
Laat ek my maat toe om ’n volledige individu te wees in ons huwelik?
Vader, lei my om my maat se sterkpunte te eer en te help ontwikkel. Amen
19 Januarie
Koester daardie kroonjuwele
Spreuke 17:6 – Kleinkinders is vir grootouers soos ’n koning se kroon. Pa’s is vir hulle seuns ’n trots. (NLV)
Ons reis na Australië waar Christine ’n kongres gaan bywoon. Op my doen-lys is om die Sydney-hawebrug te klim, by Bondi-strand te swem, ’n opera in die Sydney-operahuis te ervaar en Hillsong-kerk te besoek. Die Quantas-vlug is vol en ons bestudeer ons medepassasiers.
Ons reken ons is die jongste mense op die vlug en lag lekker vir ons eie storie. Soos die lang vlug vorder, kom ek agter daar is werklik baie ouer mense. En toe tref dit my. Dis oumas en oupas op reis na hul afstammelinge in ’n verre land. Kleinkinders is mos soos juwele in die kroon van die koning!
Hoe anders is die wêreld as die een waarin ek grootgeword het! My ouma het binne vyf kilometer van ons gewoon en was deel van ons alledaagse lewe. ’n Vriendin se kleinkinders noem haar “Ouma-skype”, maar hulle ken haar en sy weet van alles in hul lewe, duisende kilometers ver.
Daar is net soveel kanse vir ouers, skoonouers en grootouers om ons lewe te beïnvloed. Dikwels knip onmin die kontak tussen gesinslede af. Dan verloor ons daardie veelvuldige perspektief wat net ’n verskeidenheid mense jou kan bied. Grense dien soms ’n doel, maar daar is darem min wat so erg kan skeefloop dat ons kontak met ons nabye familie moet verloor.
Verhoudings vra liefde en sorg. Die toepaslikheid van gedrag verander ook soos gesinslede se ontwikkelingsfases verander. Tog, daar is geen plaasvervanger vir ’n oupa of ’n ouma se stem wat vra hoe dit gaan nie.
Wanneer laas het ek uit my hart met my kinders/kleinkinders/ouers gesels – en uit die maag gelag?
Vader, hou my familie in u hand en bewaar hulle vir ’n lang lewe. Amen
20 Januarie
Gun hulle ook splinternuwe kanse
Deuteronomium 6:2 – Jy, jou kinders en jou kleinkinders moet die Here dien so lank as wat jy lewe. As jy al sy voorskrifte en bevele gehoorsaam, sal jy ’n lang lewe geniet. (NLV)
Naas my vrou is ons seuns my kosbaarste geskenk op aarde. Hulle is meer werd as goud en robyne, hul lag en geluk boaan my lewenslys. Wel, ons verhouding was – soms nog steeds – ook maar soms stormagtig en deur diep waters. Maar altyd swem ek terug na die liefde vir hierdie twee siele wat my lewe kom omkeer het.
Ons oudste, en verantwoordelikste, se motor word gesteel. Ek is smoorkwaad; hy erken hy was agterlosig. Ek raas en bly later stil, diep ontsteld oor sy grootste aardse geskenk wat nou weg is. Ons wag dat die versekering oor die uitbetaling besluit. Intussen werk die Here toe meer met die pa as die kind.
Uiteindelik is die administrasie ná twee maande afgehandel en kan ons ’n aankoop oorweeg. Ek lê een stil uur op die bank in my spreekkamer terwyl my ontvangsdame die deur bewaak. Net daar ontmoet ek weer my Maker oor die verlore motor.
Die stem binne-in my vra: Wil jy hom iets van jouself of van My leer? Ek antwoord vol selfvertroue: Ja, natuurlik, ek wil hom graag wys wie my God is. Die stem praat weer: Het Ek vir jou tweedehandse kanse gegee ná jou vergifnis? Nee, Here, splinternuwe kanse, eintlik ’n splinternuwe lewe. En toe sit ek regop op die bank en hoor met oop oë die slotsom: Maar dan weet jy mos wat om te doen as jy kies om vir hom hierdie les te leer.
Kan my kinders en my familie God deur my lewe sien?
Vader God, laat my nooit vergeet wie U, die rolmodel vir my lewe, is nie. Amen
21 Januarie
’n Stil windkous werk ook
1 Johannes 4:8 – Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.
Nou wat gemaak as iemand jou diep teleurstel en hulle daar gewoon niks van af weet nie? Hulle leef voort en jy sit met die knoop in jou hart. Te veel keer moes ek al die verhale hoor van groot seer en verwonding binne die kring van gesinne en families.
Dis met hierdie verdraaide hart wat ek een someroggend my hond vat en strandop hardloop na die volgende riviermond. Dis een van daai windstil, diepblou, nader-aan-God-oggende en my gemoed woed grys en grou en koud. Soos oefening nou maar doen, bedaar ek uiteindelik op pad terug.
Ek klim ’n groot sagte duin uit en gaan sit uitasem en kalm bo-op soos die baas van die plaas. Ek soek die Stem in my, maar die Stem is vanoggend stil. Ek weet nou al vrede in my hart kom van een plek af.
Die 20 meter hoë windkouspaal toring voor my op die strand. Die sagte lap hang pap en tjoepstil. Ongestoord en vredevol doen die kous ook vanoggend sy werk. Sowaar, ek het nog nooit aandag aan die windkous gegee wanneer dit stil hang nie, skoon verwonderd vandag oor die stilheid van diens.
Ek en Tinder stap langsaam terug na die huis langs die rivier. Vandag gaan ek die windkous wees wat sy werk doen. Daar waai geen wind in my lewe nie, daar is geen storm aan die kom nie. Daardie storm wat ek in iemand anders se lewe sien broei, waai nie vandag ’n wind in my kontrei nie. My strand is stil en my somer is hier.
Fokus ek op dit wat vandag saak maak?
Jesus Christus, gee my die krag en insig om U te soek in die hier en nou. Amen
22 Januarie
Ligloop vir reg wil wees
Prediker 7:8 – ’n Taak wat voltooi is, is beter as die begin. Geduld is beter as hoogmoed. (NLV)
Vroeg in die huwelik glo ons nog optimisties ons maat sal ons wel eendag volkome gelukkig maak. Vanself gelukkig wees is skynbaar iets wat jy eers later in jou lewe aanleer.
Wanneer paartjies vir hul eerste sessie saam by my sit, vra ek altyd van wanneer af die probleem begin het. En dis die klaer wat eerste antwoord dat dit nog eintlik altyd so was, maar dat die hoop bestaan vir verandering.
Teen daardie tyd het ek klaar ’n nota gemaak om oor geduld te gesels. En oor aanvaarding. Sommige mense tree beslis onaanvaarbaar op en moet uiteraard hul negatiewe gedrag aanspreek, maar dis meestal die verwagtings van die partye wat werk nodig het.
Sekere gedrag gaan jou maat net nooit aanleer nie. Die beoordeling van die gedrag as reg of verkeerd gaan net na konflik lei. As julle kan beoordeel of julle as paar met die gedrag kan leer saamleef, is die oplossing al op die horison.
Konflik gaan dikwels oor die behoefte om te