Elmer L. Towns

Die Daniël-vas vir geestelike oorwinning


Скачать книгу

ek nie self kan nie.

      Amen.

      5

      Wat kan ek prysgee?

      In die eerste hoofstuk het ek vertel hoe Ron Phillips, leraar van ’n Baptiste-gemeente in Chattanooga, Tennessee, my genooi het om ’n seminaar oor vas in sy gemeente te kom aanbied. Ek het die seminaar op ’n Saterdag van nege-uur die oggend tot drie-uur die middag aangebied. Toe ek klaar was, het Ron opgespring, voor die mense gaan staan en opgewonde vir hulle gesê: “Ons moet onsself organiseer om te bid. Ons is ’n tipiese Baptistegemeente – ons organiseer alles behalwe gebed.”

      Ron het gevra dat elke besoeker ’n kaartjie uit die rak in die kerkbank voor hulle moet haal en invul en daarmee belowe om elke maand een dag lank vir die gemeente te vas. Baie mense het die kaartjies uitgehaal en ’n belofte op skrif gemaak. Minstens 123 het hierdie belofte afgelê.

      Ron het die mense verder aangespoor: “Ons het hierdie week van Sondag tot Woensdag herlewingsbyeenkomste gehou. Daar het nie veel gebeur nie. Net 12 mense het hul lewe aan Christus oorgegee, en ’n paar van hulle was jongmense wat hulle voorberei om gedoop te word.” Ron het gepraat oor sy begeerte dat ’n herlewing onder hulle sou plaasvind wat die gemeente tot in sy fondamente sou skud, ’n herlewing wat deur gebed en vas sou geskied. Hy het sommer dadelik ’n vrou aangewys om die gebedskoördineerder te wees en die mense te organiseer sodat een gemeentelid elke dag van elke maand op die gemeente sou fokus deur te vas en te bid. Hy het ook verskeie ander mense aangestel om elke Sondag vir die gemeente te vas en te bid.

      Danksy hierdie seminaar het Ron se prediking ’n waar­neem­bare “geestelike” aard aangeneem. Hy het die gemeente tot opregte gebed en vas opgeroep. ’n Paar maande later het ons nog ’n evangelisasieveldtog daar gehou, en 998 mense het op die oproep om bekering reageer. Die getal kinders wat die Sondagskool bywoon, het tot 258 gestyg; die getal lidmate wat die Sondag-eredienste bywoon, het tot 401 gestyg. Die gemeente het daardie maand ongeveer $500,000 meer ontvang as in dieselfde maand van die vorige jaar. Vas en gebed werk.

      God het hierdie gemeente se geestelike toewyding be­loon. Twee jaar later het die gemeente uit sy nate begin bars. Hulle moes reeds drie aanbiddingsdienste hou en het dringend groter geboue nodig gehad. Tydens een diens het Ron weer ’n kaartjie uitgedeel en die mense gevra om 40 dae lank saam met hom, die diakens en die gemeente se personeel te vas. Die gedagte aan ’n 40-dae-vas het die grootste deel van die gemeente baie bang gemaak. Ron het egter geglimlag en gesê dit sou ’n ander soort vas wees. Hy het ’n Daniël-vas voorgestel.

      Ron het die kaartjie wat hy uitgedeel het in die lug gehou en elke gemeentelid gevra om die vier gebedsversoeke daar­op te lees. Die eerste versoek was om oor die grootte van die nuwe ouditorium te bid. Die destydse kerkgebou het sitplek vir 600 mense gehad. Ron het die mense gevra om te bid oor die vraag of hulle ’n gebou moes oprig wat 1 200, 2 400, 3 600 of 4 800 sitplekke sou hê. “Die besluit is nie ons sê nie; dit is God se besluit,” het hy gesê. “Kom ons soek sy wil deur te vas en te bid.”

      Die tweede versoek het gegaan oor die soort kerkgebou wat hulle moes bou. Ron het die gemeente gevra om te vas en te bid oor die vraag of hulle ’n tradisionele Suidelike Baptiste-kerkgebou moes oprig, of ’n ouditorium wat ook vir uitvoerende kunste geskik sou wees, soos ’n stadsaal. Die kerkgebou sou dus TV-produksies, musiekblyspele en verskeie ander aktiwiteite kon aanbied.

      Die derde versoek het oor die ligging van hul eiendom gegaan. God het aan die gemeente ’n groot stuk grond gegee. Dit het van een grootpad tot by ’n ander gestrek, en daar was heelwat sakeondernemings in die omgewing. Hy het die gemeente uitgedaag: “Kom ons neem die besluit oor waar die nuwe gebou opgerig moet word deur te bid en te vas.”

      Die vierde versoek het oor finansies gegaan. Hulle sou baie geld vir hierdie enorme projek nodig hê.

      Toe het Ron die kaartjie omgedraai. Agterop was ’n hele paar voorstelle oor hoe die gemeente kon vas vir wat hulle van God wou vra. “Ek gaan vir julle verduidelik hoe belangrik elke aktiwiteit is,” het hy aangekondig. “Dan sal ek julle vra om ’n verbintenis te maak om 40 dae lank op net een van hierdie maniere te vas en te bid vir die geestelike toekoms van ons gemeente.” Hier is die riglyne wat hy aan sy gemeente voorgehou het:

      •Gee een maaltyd per dag prys. Die vas sou nie net daaroor gaan om kos prys te gee nie, hulle moes ook bid in die tyd wat hulle sou gebruik het om te eet. Jesus het sy dissipels gevra: “Kon julle nie eens een uur lank saam met My waak nie?” (Matt 26:40). Dit neem ongeveer ’n uur om ’n maaltyd te berei of na ’n restaurant toe te gaan of gereed te maak om te eet. Hierdie tyd is die ideale geleentheid om te bid. Die mense wat ’n fisieke en uitputtende werk het, kan nie alle kos en vloeistof opoffer nie, want hulle het hul krag en stamina vir hul liggaamlike inspanning nodig. Hulle kan egter een maaltyd per dag vir God opoffer.

      •Gee twee maaltye per dag prys. Sommige mense kan twee uur per dag bid en twee maaltye vir God prysgee.

      •Eet net groente. Met die Daniël-vas gee jy vleis, nagereg en peuselhappies prys en eet net dié kos wat Daniël geëet het. Al gee die vastydperk ons nie ekstra tyd om te bid nie, is dit die verbintenis van ons hart wat God se hart diep aanraak wanneer dit by ons gebed aansluit.

      •Gee die TV prys. Ongelowige mense sal dalk lag omdat ons “van TV-kyk vas” – dat ons ons TV-tyd opoffer – maar dit is ’n verbintenis aan God om Christus bo alles te plaas. Dit is ’n geloofskeuse in reaksie op wat Christus belowe het. “Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee” (Matt 6:33).

      •Gee sport prys. Om rolbal, gholf, visvang, draf of enige ander aktiwiteit 40 dae lank op te offer sodat jy in daardie tyd eerder kan bid, is ’n keuse om geestelike dissiplines bo liggaamlike oefening te plaas. “Om jou liggaam te oefen, het wel ’n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat ’n belofte van lewe, vir nou en die toekoms” (1 Tim 4:8).

      •Offer lees vir ontspanning op. Afgesien van die leeswerk wat jy vir jou werk moet doen of om vir ’n Bybelstudie- of kleingroepbyeenkoms by die kerk voor te berei, kan jy eerder bid in die tyd dat jy gewoonlik vir ontspanning lees. Jy kan ook bid pleks van koerant lees.

      •Ander. Dit is ’n baie buigsame area. Mense kan vas van enigiets wat God aan hulle openbaar.

      •’n Gelofte. Hierdie geloofsverbintenis verg dat jy ’n kaartjie onderteken as ’n verbintenis aan God, en nie aan die gemeente of jou leraar nie.

      •Beperk selfoongebruik en teksboodskappe. Al is dit soms noodsaaklik dat ons hierdie kommunikasiemiddel gebruik, is dit tydrowend en moet ons tydens ’n Daniël-vas selfoongebruik beperk. (In die vierde kwartaal van 2008 het jong mense gemiddeld ongeveer 2 272 teksboodskappe per maand gestuur – dit is byna 80 boodskappe per dag.)4

      •Beperk die gebruik van iPad of MP3-spelers. Sommige mense beperk hul musiek deur tydens ’n Daniël-vas net na geestelike musiek te luister (lof-en-aanbiddings­musiek wat die hart vir gebed voorberei). Dit beteken tydens ’n Daniël-vas luister jy na geen sekulêre musiek nie.

      Ek was by die Metropolitan Church of God in Birmingham, Alabama, waar Raymond Culpepper destyds die leraar was. (Vandag is hy die staatsoorsiener van Alabama.) Sy gemeente het probeer om $5 miljoen vir ’n aktiwiteitsentrum vir jong mense bymekaar te maak. Die gehoor van 2 000 mense is gevra om ’n verbinteniskaartjie in te vul, soortgelyk aan die een wat Ron Phillips in sy gemeente gebruik het. Culpepper het gesê: “Ons gaan nie die kaartjies opneem soos ons elke Sondag die dankoffer opneem nie. Ek wil hê julle moet vorentoe kom, na die preekstoel toe, in gebed neerbuig en julle verbind tot die gelofte wat julle afgelê het. Los dan die kaartjies hier by die preekstoel.”

      So baie mense het vorentoe gestap dat daar nie meer plek voor die preekstoel was nie. Die mense het in die paadjies gekniel en dan hul kaartjies tot voor gegooi. Hierdie mense het hulle gelofte om te bid baie letterlik opgeneem.

      Wat kan ons by hierdie gemeentes leer? Klein dingetjies word groot in God se oë wanneer dit ’n teken van ons verbintenis aan Hom is. God let op ons klein liefdesdade: “Dit verseker Ek julle: Vir sover