ETTIE BIERMAN
Keur 11
’n Stadsjapie vir Pafuri • Man in die donker • Benodig: ’n Vrou vir Braam
Jasmyn
1
“Jy is dwaas, Janie. Impulsief en oorhaastig. Hoe kan jy met ’n man trou wat jy skaars twee weke ken?”
Janie glimlag en haar grys oë is blink en gelukkig.
“Wanneer ’n meisie so dolverlief soos ék is, tel sy nie die tyd nie, Okkie. Sy trou so gou moontlik met die man, voordat hy kan ontsnap of ’n ander meisie haar voorspring.”
“En gaan begrawe haarself duisende kilometer ver in die gramadoelas?”
“Pafuri-wildreservaat is nie duisende kilometer weg nie. Dis presies seshonderd-een-en-dertig kilometer van Johannesburg af en is die mooiste plek op aarde.”
“Dis omdat jy net vir ’n naweek daar was en alles deur ’n rooskleurige bril gesien het.” Okkie se stem is skielik dringend en hy neem Janie se hand in albei syne. “Jy is ’n stadsmens, my liefste. Jy is lief vir fliek en partytjies en mooi klere. Sal jy in ’n verlate en verafgeleë stuk bosveld kan aanpas? Sonder winkels en teaters en televisie en interessante mense? Gaan jy nie binne ’n paar dae bitter verveeld wees en na die stadsliggies terugverlang nie? Wat gaan jy die hele tyd met jouself aanvang?”
“Jy vergeet dat Theo daar sal wees,” sê Janie sag. “Ek het hom lief, Okkie, en al het hy my gevra om in die noordpoolgebied saam met hom te gaan woon, sou ek dit gedoen het.”
Okkie los Janie se hand en stoot die bordjie wat hy met koek en southappies volgelaai het, vererg eenkant toe op die lessenaar.
“’n Maand. Dis die langste wat jy dit daar sal uithou en dan hardloop jy baie vinnig terug stad toe – minus meneer Veldwagter Vermaak.”
“En kom huil op jou skouer? Ek glo nie, Okkie. Theo Vermaak is ’n wonderlike persoon. Jy sal van hom hou. Agterna sal jy sê …”
“Ek glo nie,” val Okkie haar koel in die rede. “En ek glo ook nie ek sal langer by die partytjie bly om hierdie vreeslike wonderlike ou te ontmoet nie. Ek is met die Reitz-kontrak besig en het nog baie ander werk wat voor vyfuur vanmiddag afgehandel moet word. Ons is nie almal so gelukkig soos jy wat vandag net halfdag werk nie.”
“Jy kan nie nou al loop nie,” probeer Janie keer. “Ons gaan nog eers vonkelwyn skink.”
“Vonkelwyn? Vonkelwyn is onvanpas wanneer ’n mens die grootste fout van jou lewe maak. ’n Mens vier nie so ’n halsoorkop verlowing nie.”
Okkie wag nie op ’n antwoord nie en stryk die kantoor uit.
Janie wil agterna gaan, maar een van die senior tiksters kom langs haar sit.
“Ek kon dit nie verhelp om Ockert se woorde te hoor nie, maar moenie jou aan hom steur en toelaat dat hy jou laaste paar uur by ons bederf nie, Janie. Hy is baie kleinlik. Hy is nie grootmoedig genoeg om te aanvaar dat jy ’n ander man bo hom verkies nie. Moenie gaan mooipraat nie. Hy sal wel nou-nou terugkom om te kom kyk hoe hierdie kêrel lyk wat binne twee weke meer kon bereik as wat hy in ’n hele jaar kon regkry. Ek het nog nie eers daardie yslike klip aan jou vinger behoorlik bekyk nie …”
Janie hou haar linkerhand uit, maar om haar mond is daar ’n hartseer trek. Sy en Okkie was baie goeie vriende en sy sal altyd ’n sagte plekkie in haar hart vir hom hê. Dis jammer dat hulle vandag op hierdie voet uitmekaar moet gaan. Om eenuur kom Theo haar haal en sy weet nie wanneer sy weer in die stad sal kom of kans sal hê om haar vriende en kollegas by die kantoor op te soek nie.
“Dis ’n lieflike ring, Janie,” sê Mercia bewonderend. “Dit moes ’n fortuin gekos het. En ek stem nie met Ockert saam nie. So ’n warrelwindromanse is baie meer opwindend as ’n lang, uitgerekte verlowing en troudatum wat jare voor die tyd al bepaal is. Kan jy glo dat jy binne ’n paar uur mevrou Theo Vermaak sal wees?”
Janie voel hoe ’n opgewonde tinteling deur haar are bruis en draai die blinknuwe ring om en om aan haar vinger. Alles het so vinnig gebeur dat sy dit self byna nog nie kan glo nie.
Twee weke gelede het sy en ’n vriendin op ’n ingewing besluit om vir die naweek na die Pafuri-wildreservaat toe te gaan aangesien nie een van hulle twee stadsjapies al in enige wildtuin was nie en Riana pas tevore ’n ou tweedehandse motortjie gekoop het wat sy graag op die lang pad wou uittoets. En dit was daardie selfde dierbare rooi motortjie wat haar hierdie ring aan die vinger besorg het …
’n Halfuur anderkant die ingangshek en veertig kilometer duskant Njelele-kamp het die rooi besie skielik om die draaie traag begin reageer. Eers het Riana gedink die motor gly in die sand en toe weer dat sy maar net nie aan ’n sinkplaatpad gewoond is nie, maar na nog omtrent twintig minute se ry het sy begin wonder of die motor nie dalk ’n pap band het nie. Hulle het stilgehou en gesien dat Riana se derde raaiskoot reg was. Die linkerkantse voorband het gelyk asof hy onder ’n padroller deurgeloop het.
“Ek dínk ek weet hoe om ’n ander wiel aan te sit,” het Riana vol twyfel gesê. “En daar behoort seker iewers in die motor ’n noodwiel en gereedskap te wees.”
Na ’n lang gesoek en afpakkery van al hulle bagasie het hulle wel op ’n noodwiel afgekom, dog hulle kon nie die skroefmoere loskry nie en na ’n paar afgebreekte vingernaels en vuil kolle aan hulle wit langbroeke het sy en Riana die stryd gewonne gegee. Die rooi besie was nie baie gewild nie.
“Wat nou?” wou ’n moedelose Riana weet. “Sedert ons in die wildtuin is, het ons nog geen enkele ander motor gesien nie! Sit ons nou maar in die Kalahari-Ferrari met die hoop dat hier weldra ’n barmhartige Samaritaan sal verbykom wat kan help? Wie se briljante idee was dit in elk geval om buite seisoen na ’n verlate wildreservaat toe te kom?”
“Joune. Ons is dertig kilometer van die ingangshek af en omtrent vyf-en-twintig kilometer van Njelele-kamp af, dus help dit nie om te begin aanstap nie,” het Janie vanuit die koelte van ’n maroelaboom opgemerk. “Ons sal hier moet wag, maar dis te warm in die motor. Kom sit hier onder die boom.”
Hulle het ’n kombers onder die maroelaboom oopgesprei. Eers was hulle ’n bietjie skrikkerig oor die moontlikheid van leeus in die omgewing, maar na ’n rukkie het hulle ’n trop rooibokke rustig aan die oorkant van die Pafuri-rivier sien wei en toe was hulle meer gerus. Die skrikkerigheid het plek gemaak vir ’n begeerte om iets te drinke te kry, want dit was warm en die koffie wat hulle die vorige aand op Potgietersrus gedrink het, het soos jare gelede gevoel.
“Daar was ’n T-aansluiting ’n kilometer of wat terug,” het Janie hoopvol onthou. “Sal ek daarheen loop en kyk of daar nie dalk ’n motor verbykom nie?”
“As jy wil.” Riana was nie baie optimisties nie en ook nie lus om saam te stap nie.
By die T-aansluiting was geen mens of dier of motor te sien nie, maar na ’n ruk wel ’n stofstreep in die verte. Nadat sy dit ’n minuut lank fyn dopgehou het, het Janie besluit dis ’n voertuig wat in haar rigting aankom.
“Riana!” het sy opgewonde geroep, hoewel Riana te ver weg was om haar te hoor. “Jou barmhartige Samaritaan is op pad en ek hoop dis ’n groot, sterk man met bultende spiere wat kleingeld van daardie skroewe sal maak!”
Dit wás ’n man – ’n bruingebrande jongman met die epoulette van ’n veldwagter op sy breë skouers – wat tien minute later met ’n Land Rover in ’n stofwolk langs Janie tot stilstand gekom het. Hy het egter eerder grimmig as barmhartig gelyk.
“Wat soek jy buite jou motor, juffrou?” het hy onvriendelik gevra.
“Hulp.” Janie het stralend geglimlag, dog dit het geen versagtende uitwerking op die beampte gehad nie.
“Juffrou, ken jy nie die regulasies van die reservaat nie? Jy mag onder geen omstandighede uit jou motor klim nie.”
“Maar hierdie is ’n krisis. Ons het ’n pap band en kon nie die skroewe aan die wiel loskry nie. Toe stap ek tot by die aansluiting sodat ons ’n dubbele kans kon hê om ’n motor voor te keer.”
“Klim in,” het die beampte kortaf beveel.