is jammer, Bennie.”
“Jy hoef nie jammer te wees nie, ons gaan daaroor praat …” Hy moet aflui, want Nxesi staan en wag. “Laat ek eers gou klaar werk.”
“Ek moes jou nie gepla het nie, ek is jammer. Bye, Bennie.” Dan is die lyn dood.
Hy staan daar en kyk deur die venster met die staduitsig, maar hy sien niks. Hy sal moet klaarmaak hier. Daar’s nie drank in Alexa se huis nie, maar hy sal haar moet gaan keer voor sy by ’n hotel gaan sit. Dis wat sy doen, want “drankwinkels is sulke hartseer plekke”. Hy ken al die gevaartekens, hy weet sy sal ’n dop by die Mount Nelson gaan soek.
En dis sý skuld.
* * *
Nxesi het die houding van ’n man wat alles teen wil en dank gehoor het, maar uit ordentlikheid dit nie wil wys nie.
“Sorry, Tommy …” is al wat Griessel sê.
Die adjudant-offisier maak ’n handgebaar wat sê dis niks.
Griessel staan eers, probeer tot verhaal kom. Daar was iets belangriks wat hy wou vra.
Hy onthou: “Die rekenaar. Dit was aan?”
“Nee. Dit was af. Maar haar e-mail wys sy het hier gesit en werk. Sy het so halftien ’n e-mail gestuur vir Van Eeden. Hy’s die … dealmaker, die een wat die hele merger bymekaarsit. Official stuff, ’n soort van ’n progress report.”
“Hy is dieselfde een vir wie sy ’n SMS gestuur het so tien voor tien?”
Nxesi knik. “Hy sê dit was oor daardie e-mail – sy’t hom net laat weet sy het dit gestuur.”
“En al die lêers wat hier gelê het, dit was oor die transaksie?”
“Ewe. Dit was.”
“Sy’t gesit en werk tot net voor tien.” Die bevestiging van die vermoede wat hy van die foto’s gekry het, en die eerste besef dat hy niks nuuts hier gaan ontdek nie.
Hy loop na die badkamer toe. ’n Stort, die hele lengte van die agterste muur, met ’n glaspaneel voor. Waar die enkele manlike skaamhaar gevind is. ’n Groot, wit, moderne bad. Nog grys marmerteëls. Bruin kassies, bruin handdoeke. ’n Bruin wasgoedmandjie van materiaal wat aan ’n donkerhout-raamwerk hang. Hy lig die flap op. Daar’s niks in nie.
“Forensies het dit weggevat,” sê Nxesi.
“En niks gekry nie.”
“Shici.”
Hulle loop weer terug slaapkamer toe. Griessel gaan staan. “Tommy, hoe het jy dié ding gesien? Wat het hier gebeur?”
Nxesi vat met sy duim en twee voorvingers aan sy bril, skuif dit. “Sy’t die werk huis toe gebring, sy het hier gesit …”
Griessel se selfoon lui.
Hy sug. “Ekskuus, Tommy,” sê hy en haal dit uit sy hempsak.
MBALI.
“Hallo, Mbali.”
“How are you, Bennie?”
“I’m well, thanks. Welcome back.”
“Thank you,” sê sy sonder geesdrif. “You know I’m on the shooter team?”
“They told me last night.”
“I’m your liaison, Bennie. You read the e-mails?”
“I did.”
“I want to know what you think. Could we meet?”
Hy sal eers na Alexa toe moet gaan, en hy moet nog hier klaarmaak. Hy kyk na sy horlosie.
Mbali interpreteer sy huiwering reg. “Anytime, Bennie, I’m at the scene at the moment, in Claremont.”
“Can I call you?”
“Of course, Bennie. Bye.”
Nxesi kyk vloer toe met ’n grinnik. “Mbali Kaleni?” vra hy.
“Ja.”
“Ek hoor daar het goed gebeur. In Holland.”
“Dis wat hulle sê.”
“Seker die dagga. Sy wou seker iemand arrest oor hulle so sit en dagga rook op straat.”
“Kan wees.”
“Mbali,” sê Nxesi met ’n verwonderde glimlag.
“Sy’s ’n goeie speurder,” sê Griessel.
Nxesi knik net.
“Tommy, hoe het hierdie ding gebeur?”
* * *
Die sluipskutter sit in die Chana-paneelwa. Langs hom op die vloer lê ’n elektriese lamp aan ’n verlengingskoord wat by die venster uitkronkel, na ’n kragpunt teen die donker motorhuis se muur.
Op sy skoot is die geweer. Langs hom, op die gereedskapkis, is ’n stel skoonmaakgoed in die aluminiumtassie gerangskik – die metaalstokke, borsels, moppe, lappies en olie. Hy werk stadig en sekuur, want hy wil nie aan die teleskoop raak nie. Hy kan nie bekostig om dit weer na ’n skietbaan te neem vir instelling nie.
Nie meer nie.
Dit gaan vandag ’n lang skoot wees. Dalk die langste van almal. Daarom wil hy dit agter die rug kry.
En dit moet voor 12:00 gebeur, voor die strate Sondagmiddag-stil raak.
Vandag sal hy meer tydsaam moet wees. Kalm bly. Gister se eerste skoot was mis omdat hy nie die spanning goed hanteer het nie. Nou is die ys gebreek. Vandag sal hy beter skiet.
Hy kyk na sy horlosie. Twintig minute, dan moet hy ry.
* * *
“Daardie tyd, toe kon jy maklik inkom by dié gebou,” sê adjudant-offisier Tommy Nxesi. “By die parking garage, miskien met die trappe op, miskien met die lift. So hy het ingekom en toe kom klop hy aan die deur. Sy het klaar gewerk, miskien was sy onder. Toe kyk sy deur die gaatjie. En sy ken hom. Toe maak sy oop. Toe praat hulle daar. En hulle begin argue. Hy word baie kwaad. Toe steek hy haar. Toe sien hy sy is dood. Toe loop hy.”
“Kan wees.”
“Daar’s niks gesteel nie, kaptein. Daar’s nie motive nie. Shici. Nothing. No boyfriend, no social life aside from the two female friends, dit was net werk. Hulle sê sy was nice. But ambitious, sy het so hard op hierdie deal gewerk omdat sy ’n director wil word by Silbersteins. And the promotion was in the pipeline, dis wat Pruis vir my gesê het. So ek dink dit was iets anders. Eers het ek gedink dis drugs. Dié ryk hase, hulle snuif, ek het gedink haar dealer het gekom deliver, toe het sy nie genoeg cash nie, miskien was hy ook high, toe steek hy haar. Maar dan sou hy gesteel het ook. En die post mortem wys no drugs. Maar dit is so iets, kaptein. Somebody came about something. Iets wat haar werk en haar vriende nie van geweet het nie. Iets wat ons nie kan vat nie. Een van daai goed wat net gebeur, spur of the moment.”
9
Griessel vra hom waar hy die foto’s gekry het van Sloet, dié wat in die wit koevert is.
Nxesi huiwer ’n oomblik voor hy na die bedkassie toe loop, aan die regterkant van die bed. Daar is twee laaie, ’n deurtjie onder. Hy trek die tweede laai oop. “Kom kyk,” sê hy met kwalik verskuilde afkeer. En dan staan hy terug, asof die inhoud van die laai toksies is.
Griessel gaan kyk. Bo-op lê die vibrator, lank en dik, ’n makabere, getroue nabootsing van ’n penis. En daarnaas die boksie waarin dit gekom het. Big Boy Vibrator, in groot letters.
“Daar lê haar boyfriend,” sê Nxesi. “Die album is onder.”
Griessel sê niks, trek die fotoalbum uit en slaan dit oop.
Voorin is die naam van die fotograaf op ’n klein silwer plakker. Anni de Waal. En ’n adres in