Скачать книгу

hom weg en hardloop huis toe. Ten minste sal hy haar nou elke dag kan sien, want hy gaan seker ook saam met die ander slawe op die Van der Merwes se werf bly. En Sondagmiddae kan hulle rondloop. Miskien selfs teen die berg op waar hulle alleen kan wees.

      “Jy is gek, gek, gek,” skel oompie Ben toe Lammert hom die aand vertel dat hy in die Kaap gaan agterbly. “Hierdie plek se Duusvolk is nie Holkrans s’n nie. Vra vir my, ek weet. Dis einste hier waar oubaas Aalwyn my gekoop het. En behalwe die tyd dat kleinbaas Hans die baas was, het ons almal ’n goeie lewe op Holkrans gehad. Hulle gaat vir jou breek, hoor jy my. Jy’s gans te oorlams om heelhuids uit dié gemors te kom.”

      Adam knip-knip sy oë toe Lammert vir hom sê: “Onthou, jy’s nou die ouboet in die huis. Kyk mooi na Ma en Sussie. Een van die dae kom wys ek my mooi vrou vir julle.”

      Die volgende oggend, voor iemand op die Boereplein nog aan die roer is, kom maak Moos, die slaaf wat saam met Gert van der Merwe op Holkrans was, hom wakker. “Roer vir jou, Lammert. Ons moet voor sonsopkoms verby die Tygerberg wees.”

      Lammert volg hom tot buite die dorp. Die wa is klaar gelaai en die osse onder juk. Moos vat die leitou: “Ek ken die pad in die donker. Jy hoef nie nou al sweep in te lê nie. Sit op die wakis en hou jou hoed op. In die donker klink jy nes ’n Duusman. Sê jy’s Cloete van Renosterfontein en dis ver pad Bokkeveld toe, as iemand ons stop.”

      Die tweede dag word die bergspitse voor hulle ’n ondeurdringbare muur.

      “Waar’s die plek waarheen ons op pad is?” vra Lammert vir Moos.

      “Agter die berg,” beduie hy.

      Lammert skrik. Twee man gaan nie ’n wa oor hierdie berg kry nie. “Moet ons hier oor?”

      “Ook maar bang, nè?” smaal Moos. “Nee, ons trek om hom.”

      Die bergreeks strek so ver as mens na links en regs kan sien. Dis nie twee of drie dae se tog hierdie nie. Lammert se moed sak in sy skoene. Dit gaan lank wees voor hy weer vir Klara sien. Hulle trek deur die Wagenmakersvallei oorgroei met wingerde. Hier sou dit vir Meester soos die paradys gevoel het. Soms groet Moos die slawe wat in die groen wingerde werk luidrugtig, maar wanneer hulle uitspan, is dit weg van opstalle. Hulle trek deur die Land van Waveren steeds omring van berge met Roodezand se wit huisies verdwerg deur die blou Witsenberg, en volg die Breederivier suidwaarts.

      Eers die vierde dag, toe dit al vir Lammert voel of die berge hom wil insluk, bereik hulle die Goudinivallei. Rook uit skoorstene wys daar is talle plaasopstalle, maar Moos swaai links weg en volg ’n skaars sigbare pad oorgroei met gras en bossies deur die voetheuwels van die noordelike bergreeks tot by ’n rivier wat deur ’n nou poort kronkel. Hulle het skaars tien walengtes gevorder, toe word hulle vasgedruk teen die berg en moet weer na die oorkant, net om ’n paar honderd tree verder weer na die ander kant gedwing te word. Ses keer moet hulle die rivier so oorsteek voor die poort oopmaak in ’n smal vallei.

      “As die rivier in vloed is, kom mens mos nie weer hier uit nie.” Lammert buk om sy broekspype af te rol sodat Moos nie die vrees in sy oë moet sien nie.

      “Ja, die Hexrivier speel nie met lamsakke nie. Hier kan jy vir ’n hele winter vasgekeer word.”

      Dis nie veel van ’n plaas waar hulle die vrag moet aflaai nie. Net ’n enkele geboutjie sonder vensters. Die stewige houtdeur is met ’n groot slot gesluit. ’n Ent weg staan ’n klompie matjieshuise.

      “Wil jy eers by jou boeties gaan daggapyp rook vir die skrik voor ons die wa aflaai?” spot Moos.

      Lammert sluk ’n bytende antwoord in. Uit hierdie doolhof kom hy nie sonder Moos se hulp nie. God behoede as hier ’n brand uitbreek. “Eers klaar werk, dan lekker kuier. Is een van die vaatjies darem vir ons bedoel?” maak hy praatjies.

      “As jy hier vir die tiers gevoer wil word, moet jy aan dié vaatjies peuter.”

      Toe Lammert die eerste vaatjie aanvat, weet hy wat Moos bedoel. Die reuk van kruit ken hy mos al van kindsbeen af – dis nie met wyn wat gesmokkel word nie. Hy hou hom dom: “’n Suiper was ek nog nooit. Maar net gedog jy sou dalk so ietsie vir ’n droë keel wil hê.”

      Terug in die Kaap wag Aletta hom in met ’n bondel klere. “Aalwyn het dit vir jou gelos. Hy’t nuwes laat maak. Trouklere.”

      “Ramkat! Waar’t hy so gou ’n vrou gekry?”

      “O, sommer hier op die werf. Klara was alte gretig om saam Holkrans toe te gaan. Meester gaan haar onderrig sodat sy aangeneem kan word en dan trou hulle vroeg volgende jaar.”

      “Helleveeg!” Lammert gooi die klere na Aletta. Sy voete dra hom strand toe, na die plek waar hy en Klara laas saam was. Die wind waai die trane uit sy oë. Hoe kon hulle? Van Aletta en Aalwyn kan hy dit nog verstaan, maar Klara. “Klara!” skree hy en die meeue wat rondom hom kom aas het, vlieg krysend op.

      Hulle wag hom in toe hy uiteindelik teen skemer na die huis in die Heerengracht terugkeer: Gert en sy twee slawe, Moos en September. Die groot balie is klaar uitgerol op die werf, penne ingeslaan waar hande en enkels vasgebind moet word.

      “Hy’s hier,” roep iemand en die slavinne peul by die kombuisdeur uit; toe Aletta en haar skoonma.

      Lammert wil vlug, maar Moos en September gryp hom, trek sy klere uit, vlek hom oor die balie oop en bind hom vas. Die skrik laat Lammert bewe nog voor die eerste hou val.

      “Moos,” sê Gert, “jy sê mos hy’t hom oorlams gehou met jou. Breek hom vir ons in. As jy moeg is, gee vir September.”

      Laat dit tog net verbykom. Skree sal hy nie. Breek sal hulle hom nie. Die eerste hou van die sambok skeur deur hom. Teen die tiende hou bulk hy soos ’n kalf wat gekastreer word. Toe September oorneem, soebat hy: “Ag, Jirretjie tog, hou op, asseblief tog. Ek’t jou niks …”

      September se antwoord is ’n hou laag op sy bene waar Moos nog nie geslaan het nie. Op sy voete. Op sy skouer. Bloed spat op die balie hier by sy gesig.

      Voor die donker hom vat, skree Lammert: “Nôi Elsie, help!”

      Toe hy bykom van die emmers water wat hulle oor hom uitgooi, lê hy op die grond; Gert van der Merwe se swart stewel hier by sy gesig. “Praat weer teë met nôi Aletta en jy’s dood. Verstaan ons mekaar?”

      Die vernedering stoot galbitter in Lammert se keel op, maar vrees laat hom stotter: “Ja, … my baas. Ek … ek sal nie weer nie, baas Gert.”

      “Staan op en trek die klere aan wat nôi Aletta vir jou gegee het en dan sê jy mooi dankie.”

      Kaal staan hy voor almal. “Dankie vir die klere, nôi Aletta,” wurg hy dit uit en skree van die pyn toe hy die broek oor sy stukkende lyf trek.

      Aletta huil hardop toe sy huis toe hardloop.

      6

      Die hellevuur verteer hom. Die vlamme verskroei sy lyf. Lammert dwing sy oë oop, maar kan niks uitmaak in die skemerte nie. Is dit die grotwand waarin hy vaskyk? Water. Hy moet by die swemgat uitkom.

      ’n Gerusstellende stem praat langs hom: “Lê stil, ek is nog nie klaar nie.”

      Lammert kan die stem nie eien nie. “Klara?” prewel hy hoopvol.

      Die hand wat oor sy mond sluit, ruik na aalwyn. “Sjuut, moet nooit weer haar naam sê nie. Sy word nou ’n baas se vrou. Jy’s klaar in groot genoeg gemors oor kleinnôi Aletta.”

      Lammert herken die stem. Dis die swart slavin, die een wat nie vir Klara wou roep toe hy haar die Sondag kom soek het nie.

      “Eina! Asseblief, Tannie, los my net uit,” kerm Lammert toe die slavin oor sy rug vryf.

      “Jy’s kleinserig. Ek moet die snye met bitterals skoon was. Sagte hande maak stinkende wonde. Jy’s gelukkig hulle het net vyf keer bloed getrek.”

      “Gelukkig? Hoe kan Tannie so sê?” Lammert byt op sy tande toe sy weer aan hom raak. “Ek’t hulle niks gemaak nie. En hulle slaan my amper dood.”

      “Hulle