nie; daar’s niemand wat kan spoorvat soos hy nie; kyk hoe mooi werk hy met die osse; hy sal ’n sagte hand met ’n vrou hê.
Rut luister stil. As sy moet praat, gaan die seer in haar uitbars en sal sy soos Elsie begin huil en nie weer ophou nie. Sy voel soos ’n vasgekeerde dier in hierdie vallei en hoop dat ma Lammie-hulle gou gaan kom kuier soos hulle beloof het. Dan gaan sy saam terug Tierfontein toe. Maar in die donkerte van die nag onthou sy pa Bert se kommer oor die seuns wat grootword. Voor hulle nie getroud is nie, sal sy nie weer op Tierfontein welkom wees nie.
Saans wanneer hulle saam om die vuur bredie en askoek of braairibbetjie eet, beloer Rut vir Voorslag. Sy broers se kinders drom graag om hom saam. Hy speel geduldig ryperd vir die kleintjies, of maak met sy vingers dierespore in die sand sodat die groteres kan leer spoorsny. As Jandisselsvlei se volkies Saterdagaande kom kuier en dans, hang Rut se mond oop oor die spoed waarmee hul voete stof trap en die wilde spronge wat hulle gee. Sy moet met Ouma saamstem dat Voorslag ratser is as die ander.
Rut bly ’n toeskouer, want Ouma het moed opgegee om haar te leer dans. “Hoe gaan jy ’n man kry as jy nie wil dans nie? By ons moet ’n meisie wys sý wil die man hê. Dis nie vir hulle om te vat oor hulle lus is nie. Jy moet die regte een bietjie uitlok in die dans.”
Toe Voorslag twee aande ná mekaar nie by die vuur is nie, wil Rut by Ouma weet waar hy is. Ouma lag: “Gedog jy loer skelmpies vir hom. Hulle het die ounôi weggevat. Sy gaan by haar meisiekind bly.”
Rut wag en wag dat Elsie haar moet laat roep sodat sy in die kliphuis kan intrek. Maar die dae en die weke gaan verby sonder ’n woord van haar.
Drie maande ná Rut se aankoms op Holkrans stem sy in dat Voorslag haar die grot in die kloof kan gaan wys. Weerskante van die smal kloof klim koperbruin kranse die lug in. Al is dit reeds einde Maart, tjir die sonbesies skril. Hulle volg die klipperige loop van die droë spruit tussen fynbos deur. Voorslag loop voor, want hy kyk uit vir pofadders wat op die warm klippe lê en bak. Kort-kort gaan hy by ’n plant staan. ’n Bos hoër as Rut noem hy ’n perdekop, en vertel van die helderrooi blomme wat saam met die winterreëns kom. Die suikerbosse se blomme het verskillende kleure, die luisies en klipbome s’n is oranje en die kaiingbosse wat teen die krans groei, dra geel blomme.
’n Skerp blafgeluid laat Rut verskrik na Voorslag gryp. Hy wys na ’n rotslys. “Dassies. Hulle’t die jakkalsvoël gewaar.” Die dassies het reeds in rotsskeure verdwyn. Die jakkalsvoël met sy roesbruin bors en wit vlerke fladder-hang nog ’n rukkie voor dit hoër op teen die krans gaan sit. “Hy wou kos vir die kleintjies vang,” sê Voorslag. “As jy ’n jakkals in die kloof hoor tjank, moenie skrik nie. Dis hoe dié voël maat soek.”
Die grot is eintlik net ’n diep holte in die krans aan die onderpunt van die kloof. Die ingang is half versper deur ’n hoop rotse en ’n groot kaiingbos.
“Dis wat ek jou wil kom wys,” sê Voorslag toe hy haar aan die hand oor die laaste rotsblok help. Die krans se wand is oortrek met tekeninge van diere. “Olifant, kameelperd, eland,” druk Voorslag sy vinger op elkeen. Rut streel oor die tekening van ’n geel mannetjie wat lyk of hy ’n olifant met sy pyl en boog bekruip, en ril vir die koue klip.
“Is jy bang vir die Bossiesman?” vra Voorslag.
Rut skud haar kop. Sy kan tog nie vir Voorslag sê dis vir hom wat sy bang is nie; sy nabyheid in die grot; die manier waarop hy na haar kyk; oor daar vir haar geen ander uitkoms is nie.
“Ek het nie geweet olifante is so klein nie. Kyk, tot die eland is groter.”
“Seker maar oor hulle die olifant net van ver gesien het. Die olifant wat my pa doodgetrap het, sal hierdie grot vol staan, so groot was hy.”
“Hoe? Wanneer?” wil Rut verbaas weet, want Ouma het niks daarvan gesê nie.
“Vier jaar nou al. Oubaas Aalwyn het die eerste een morsdood geskiet. My pa was gou-gou by met die byl om die tande uit te kap. Toe storm ’n ander een uit die bos. Ek hoor die geskree van daai olifant nog in my kop. Pa het gehardloop, maar die olifant het hom met die slurp beetgekry, gegooi, getrap. Oubaas het geskiet en met die perd op hom afgestorm. Toe vlug die olifant, maar my pa was klaar dood. Oubaas het op die dooie olifant gesit en huil. My oompies het almal weggehol. Ek moes alleen die gat grawe om my pa toe te maak dat die wildediere hom nie bykom nie.”
Rut word week oor die hartseer op sy gesig, maar kan aan niks dink om hom te troos nie. Jy moet hom sê ons plant môre die latte vir jou matjieshuis, onthou sy Ouma se opdrag. Voorslag lyk verras toe sy die woorde hardop herhaal. “Vanaand trap ek die vlerksleepdans vir jou,” sê hy.
“Ek kan nie dans nie, maar Ouma het gesê hoe ek moet maak om te wys ek wil jou vrou wees.” Rut haal haar kappie af en loer oor haar skouer terwyl sy haar boude effens wikkel.
Die volgende dag slag Voorslag een van sy skape en die aand word feesgevier. Terwyl die ander askoek slaan, lei hy vir Rut na haar matjieshuis. “Nou weet almal jy is my vrou,” sê hy.
2
Einde Mei, toe Rut heeltemal seker is, drafstap sy na die kliphuis.
Elsie lag en huil deurmekaar. “Hoekom bly jy weg? Ek het verlang na jou. Ek gaan ’n baba hê.”
Rut wil eers terugkap dat Elsie haar mos kon laat roep het, maar die vreugde oor hulle albei se geluk laat haar net sê: “Ek ook.”
Elsie se mond gaan oop en toe soos een van die visse wat Voorslag in die rivier vang, voor sy ’n woord uitkry: “Maar jy … Wie’s die pa?”
“Voorslag. Ons het getrou soos hulle dit doen.”
“Ons moet doeke maak. En baadjies. Ma het mos flennielap saam met my bruidsgoed gekoop.”
Ouma is ergerlik oor Rut nou elke dag wil kliphuis toe. “Khoi-Khoikinders loop kaalgat tot hulle weet om hulle nie te beskyt nie. Watse doeke maak is dit nou?”
Rut maak vir Voorslag stil toe hy met Ouma saamstem. “Jy kan hom leer om Khoi-Khoi te wees, daaroor sal ek nie met jou stry nie, maar kaal loop ’n kind van my nie.”
Rut se seun, Lammert, word vroeg in Januarie 1774 gebore en drie weke later Elsie se Aalwyn, vernoem na Hans se pa.
“Waar kom jy aan die snaakse naam?” wil Elsie by Rut weet.
“Lammert is jou ma en pa se name saamgegooi.”
“Moet dit dan nie Lambert wees nie?”
“Nee, sy naam is Lammert. Voorslag sê sy haartjies voel soos die lammertjies se wol, maar in my hart het ek sy ouma en oupa vernoem.”
Elsie se oë blink. “Dan is jy nie meer kwaad vir ons nie.”
“Kwaad was ek nooit, net seer, vreeslik seer. Mens gee nie vir ’n kind ’n suikerklontjie en vat dit af nes hy lekker daaraan suig nie.”
Elke oggend dra Rut vir Lammert in ’n karos op haar rug as sy en Trui-hulle kliphuis toe loop. Sy sukkel nog om vir Trui ma te noem, want nes sy die woord hardop sê, wil die trane loop oor ma Lammie. Trui maak dit ook nie vir haar makliker nie, want sy mor gedurig oor Lammert wat kliphuis toe gevat word. “Dina pas almal se kinders op. Jy wil van my kleinkind ook ’n kamma-Duusman maak en Voorslag is te saf om jou vas te vat.”
“Elsie wil hê ek moet hom bring.”
“Kleinnôi Elsie. Jy’s gans te eie met haar.”
Rut antwoord nie. Dit sal net vet op die vuur wees as sy vir Voorslag se ma sê sy en Elsie is soos susters vir mekaar. Sy moet onthou om nôi te sê as sy en Elsie nie alleen in die kombuis is nie.
Die kombuis het Rut en Elsie se toevlug geword. Hier bak, kook en doen hulle naaldwerk. Toe Elsie haar vertel het dat Hans nie omgee as sy in die kombuis kom werk nie, het sy haar eers opgeruk. “Moet ek nou jou klimmeid wees?”
“Nee, ons gaan saam wees soos in Tierfontein se kombuis,” het Elsie gesoebat. “Moenie my dwing om tussen julle te kies nie. Ek is ewe lief vir julle, maar hy is my man.”
In