Christine le Roux

Christine le Roux Omnibus 8


Скачать книгу

      Christine le Roux

      Omnibus 8

      Tweede beste

      Die uitkenningsparade

      Verlore dekade

      Human & Rousseau

Tweede beste

      Hoofstuk 1

      Elizma kyk op van die pak opstelboeke wat sy by die eetkamertafel sit en nasien. Sy is omtrent halfpad, die stapels aan weerskante is feitlik ewe hoog. “Ek wens vakansies is nooit uitgedink nie,” sê sy bitter. “As ek nog moet lees van een seevakansie en hoe lekker die branders was en hoe warm die son en hoe die roomys gesmelt het en …”

      Nicolette draai haar kop en kyk haar woonstelmaat afgetrokke aan, asof sy haar nie regtig raaksien nie. “Mm,” sê sy. “Dis hoekom ek nie onderwyseres geword het nie. Maar weet jy, ek dink dis tyd dat Jack ’n les geleer word.”

      Elizma leun terug, vryf so hard oor haar oë dat haar grimering swart sirkels onder haar oë maak en kyk op na waar Nicolette met opgetrekte bene in die vensterbank sit. “Hoe het ons by Jack uitgekom?” vra sy.

      Nicolette begin lag. “Jy lyk nou na ’n verwilderde panda.”

      Elizma trek ’n verfrommelde sakdoek uit haar sak, lek die punt nat en vee onder haar oë. “Asof dit saak maak. Bowendien, ek vóél verwilderd. Lees jy ’n slag hoe ’n tienjarige sy of haar vakansie beskryf en ek waarborg jy spring by daardie oop venster uit. Ek wens jy wil dit toemaak, nou-nou val jy uit.”

      “Nee, ek sit stewig.” Nicolette ril effens en maak dit tog toe. “Die wind het opgekom, ek dink die winter is aan die kom.”

      “Dis waar, dis ’n koue luggie wat trek. Wil jy nie vir ons koffie maak nie?”

      Nicolette staan gewillig op en verdwyn in die rigting van die kombuis. Toe sy terugkom met twee stomende bekers in haar hand, maak sy haar weer tuis op die vensterbank, albei hande om die warm beker gevou. “Stem jy nie saam nie?” vra sy asof daar nooit ’n onderbreking was nie.

      “Waarmee – die naderende winter?”

      “Nee, Jack.”

      Elizma stoot die boeke vies opsy en drink ’n teug koffie. “Watse soort les? Ek is moeg vir lesse.”

      “’n Groot les,” sê Nicolette, haar oë ver weg op die motors onder die woonstelgebou. “Ek dink dis tyd. Ons gaan al twee jaar lank uit en terwyl hy my daagliks verseker hoe lief hy vir my is, laat hy my net keer op keer in die steek. Jy weet van die naweek?”

      “Ja,” sê Elizma versigtig. “Julle gaan na daardie hut in die berge.”

      “Dit was die plan, ja. En onthou jy Hentie se troue?”

      “E … ja, ek dink so.”

      “Ek en Jack het gegaan,” herinner Nicolette haar. “En jy weet hoe het ek daarna uitgesien. Linda is een van my oudste vriendinne, dit was een troue wat ek nie wou mis nie.”

      “Maar jy het mos gegaan.”

      “O ja. Jack het my kom haal, soos afgespreek. Herder,” sê sy kwaad. “Hy het Hentie goed geken. Hentie was sy vriend. En wat gebeur? Jack verdwyn.”

      “O ja,” onthou Elizma. “Maar het Philip jou nie daardie keer teruggebring nie?”

      “Dis nie die punt nie. As Philip nie so ’n goedgemanierde man was nie, het ek nou nog daar gesit. Piet verdriet. Gestrand. En wat was sy verskoning? Hy en ’n klomp vriende het begin gesels en besluit om te gaan biljart speel of so iets simpels en hy het net van my vergeet. Ek is die liefde van sy lewe, maar hy het van my vergeet. Klop dit?”

      “Jong, Nico,” sê Elizma. “Jy ken hom mos. Impulsief. Ek dink die helfte van die goed wat Jack doen, is nie met kwade bedoelings nie. Hy dink net nie.”

      “Is dit dan nie tyd dat hy begin dink nie?”

      Elizma lewer nie hieroor uitspraak nie. Dis moeilik om Jack objektief te beoordeel. Toe Nicolette hom twee jaar gelede vir die eerste keer na die woonstel gebring het, het hy Elizma se voete onder haar uitgeslaan. Hy is sonder enige twyfel die aantreklikste man wat sy nog gesien het. Heeltemal te mooi om gesond te wees, sou haar ouma gesê het as sy hom ooit moes sien. Dik, blink swart hare en oë so blou dat ’n mens twee keer kyk en dan nog wonder of dit natuurlik kan wees. Slaappoppe het sulke oë. Filmsterre – en dan is jy seker hulle dra gekleurde kontaklense. En ’n glimlag wat jou knieë lam maak.

      As daar enige regverdigheid in die lewe was, het hy ten minste bakbene gehad. Of ’n boep. Maar nee, die goeie feë was in hulle massas teenwoordig die dag toe hy gebore is. Hy is lank en atleties en hy kan enigiets doen. Hy waterski en speel tennis en ry branders. Hy hardloop halfmarathons en ry fiets in al die belangrikste wedrenne in die land. Regdeur die jaar is hy bruingebrand en fiks. Dat Nicolette, wat nogal sinies kan wees oor mans, vir hom geval het, het Elizma nooit verbaas nie. ’n Meisie moet blind en besete wees om nie verlief te raak op Jack nie.

      Sy dink weer aan haar ouma. Buite blink en binne stink, het haar ouma gewaarsku as iemand net op voorkoms oordeel. Maar met Jack sou haar ouma verkeerd gewees het. Hy is ongekompliseerd en glad nie bewus van sy voorkoms nie. Almal hou van hom. Hy is ’n ekstrovert, hy hou van mense, hy kan met enigiemand gesels en aanknoping vind. Kinders hou van hom, honde gaan lê dat hy hulle mae krap, katte lê op sy skoot, ou mense wil hom aanneem. Dis eenvoudig nie regverdig nie.

      “Lizma!” sê Nicolette. “Luister jy na my?”

      “Ek het aan Jack gedink,” maak sy verskoning. “Dat een man alles het, soos hy, is net … ongelooflik. As hy die liefde van mý lewe was, het ek nie met hom gelol nie.”

      “Ek dink hy beskou my as vanselfsprekend.”

      “Is dit ’n slegte ding?”

      Nicolette frons. “Het jy nie gehoor toe ek sê die naweek is in sy … is oor die muur nie?”

      “E … nee. Hoekom is dit?”

      “Hy het iets anders aan. Wil liewers uitgaan op watsenaam se boot om iets te vang. Ek het vergeet wat. Kreef, of is dit nie nou die regte seisoen nie? En toe ek vir hom sê ek het so uitgesien na die naweek en ons het die hut lankal bespreek en boonop vooruit betaal, sê hy ek moet iemand anders saamneem. Soos jy of ’n ander vriendin.”

      “Ai tog,” sê Elizma. “Maar jy weet mos ek en Heinz gaan die naweek na sy ouers toe. Ek kan regtig nie kop uittrek nie. Dit sal sleg lyk.”

      “Ek weet.” Nicolette kou fronsend aan haar onderlip. Met een hand woel sy deur haar dik, blonde hare en draai dit in stringe wat een vir een regop staan en háár nou verwilderd laat lyk. “En ek gaan nie sommer enigeen vra nie. Ek is seker daar is van die meisies op kantoor wat graag sal wil gaan. Ek weet Jeanine hou van bergklim.”

      “Gaan julle bergklim?”

      “Nee, man, mens ry tot by die hut. Slegte grondpad, maar tog. Nee, die plan was nie dat dit ’n atletiese naweek moet wees nie. Juis nié. Dis die punt. Ons wou net ’n bietjie alleen wees en tot stilstand kom en gesels oor ons toekoms. Dis waarom ek die hut gekies het. Ons was mos al vantevore daar saam met ander pêlle. Dis so wonderlik afgeslote en rustig en weg van alles. Nie eens ’n telefoon of televisie of enigiets nie. Net die gesuis van die wind deur die klowe. En dis altyd koud daar, al is dit hoe warm in die stad. Mens kan gaan stap en kyk na die fynbos en die heide en in die aand maak jy vuur en sit en kyk na … Ag!” sê sy kwaad. “Ek moenie eens daaraan dink nie, ek word net meer teleurgesteld. Ek het so daarna uitgesien.”

      “Het jy dit vir Jack gesê?”

      “Natuurlik.”

      “En wat was sy reaksie?”

      “Wat dink jy? Hy het my gesoen en my hare deurmekaar gevryf en gesê, ag, pop man, jy kan mos verstaan dat ek nie weer so ’n kans gaan kry nie. Asof daar nooit weer ’n kreef in die see gaan swem nie. Asof hy nie kort-kort op iemand se boot uitgaan nie!”

      “Mm,” sê Elizma weer. “Ek verstaan hoe jy voel, maar nooi nou maar vir Jeanine saam? Julle kom mos goed klaar.”

      “Ek dink nog oor die saak,”