Christine le Roux

Christine le Roux Omnibus 8


Скачать книгу

al vermoed sy haar beeld word dalk geskend deur die kort rompie wat sy dra. Maar die lessenaar versteek dit tog.

      “Wat kan ek vir jou doen?” vra hy. Sy rondvallery het sy hare oor sy voorkop en in sy oë laat val en sy bril sit skeef. Hy druk dit reg, vee met sy plathand oor sy kuif en gaan sit ook. “Is dit belasting?” vra hy.

      ’n Oomblik lank weet sy nie waarvan hy praat nie. “Belasting? My belasting is lankal weggestuur. Dis dan al Mei.”

      “Ja, maar party mense … ek bedoel, jy kan uitstel kry as die saak gemotiveer kan word.”

      “Nee, nee,” sê sy en glimlag breër om hom gerus te stel. “Ek het jou oor iets heeltemal anders kom sien.”

      Hy sit na haar en kyk, sy lyf stil en sy hande op die blad gevou. “Ek sal probeer help.”

      Sy is skielik verleë en soek na die regte woorde. “Dis seker baie kort kennisgewing en jy kan dink ek is ongeskik om nou eers met so ’n …” Sy haal diep asem en kom tot die punt. “Is jy besig hierdie naweek?”

      Sy oë rek effens. Grysblou oë, sien sy. “Hierdie naweek? Nee.”

      “Ek het gewonder of jy nie … Jy sien, ons het hierdie hut in die berge bespreek en … wil jy nie saamkom nie?” Sy sien dat hy nie weet wat om te sê nie en gaan vinnig voort. “Dis baie rustig. Dit behoort aan iemand wat iemand van Jack se familie ken en ons was al vantevore daar en dis regtig baie … rustig.” Sy verwens haarself dat sy so onbeholpe is. “Wel, jy weet, daar is nie mense of lawaai of … enigiets nie. Ook nie eintlik baie om te doen nie behalwe om te stap. Hou jy van stap?”

      “Ja,” sê hy.

      “Wel, mens kan lekker stap. Ons het al vantevore ’n piekniekmandjie gepak en dan ver geloop en in een van die klowe piekniek gehou en dis … wel, baie mooi. Daar is so ’n dun watervalletjie en altyd blomme en heide en so.”

      “Dit klink baie mooi.”

      Sy sug van verligting. “Sal jy wil saamgaan? Ons kan Saterdagoggend vroeg ry as dit jou pas. Ek meen, ons kan Vrydagmiddag al ry en ons het dit vantevore al gedoen, maar dit werk nie so goed nie. Jy sien, daar is natuurlik nie elektriese krag nie en as mens in die donker daar aankom, is dit ’n gefoeter om lampe en kerse aan die brand te kry en in die donker die paraffienyskas aan die gang te kry en … Jy kan dink, ’n gesukkel. Saterdagoggend is eintlik beter, veral as ons vroeg ry sodat ons nog die hele dag het. Maar as jy dink ons moet Vrydagmiddag ry, is dit goed.”

      Hy knip sy oë agter sy brillense. “Saterdag klink reg.”

      Sy begin ontspan. “Persoonlik hou ek van regtig vroeg opstaan en ry. Weet jy, sommer vyfuur al. Dis so twee uur se ry van hier af en daardie tyd van die oggend is dit baie mooi as dit begin lig word en die mis hang nog in die valleie.”

      “Ek staan altyd vroeg op.”

      “Dan is dit uitstekend,” sê sy. “Vyfuur voor jou deur. Jy moet my net jou adres gee.”

      “Jack weet mos waar ek bly.”

      Sy wip, maar bly glimlag. “O, hy is hopeloos met sulke dinge. Gee dit liewer vir my.”

      Hy draai sy kop effens skeef en kyk na haar asof sy nie goed wys is nie. “Dis dan in dieselfde gebou as jy en e … Elizma.”

      Sy is so verbaas dat sy haar asem insuig en haar stem met ’n piepgeluid uitkom. “In dieselfde gebou? Is jy ernstig?”

      “Julle is in die noordelike vleuel en ek in die westelike een.”

      “Slaan my dood,” sê sy. “Is jy ernstig?”

      Hy knik.

      “Wel,” sê sy en maak keel skoon. “Dan is dit nog makliker. Kry jou voor die deur. Daar waar mens uit die parkeergarage kom.”

      “Seker,” sê hy.

      Sy is nog omgeknikker deur hierdie inligting. “Maar as ons in dieselfde gebou bly, moes ek jou mos al raakgeloop het?”

      “Dis ’n baie groot plek,” sê hy. “Elke vleuel is eintlik ’n gebou op sy eie.”

      “Tog.”

      “Ek het jóú al dikwels gesien. E … julle.”

      “O,” sê sy. “Nouja, dan is dit afgespreek. Moenie goeie klere bring nie, dis maar rof daar. Stapskoene en iets warms, want die aande is goed koud.”

      “Wat van kos?”

      “Ek sal inpak. Moet jou nie kwel nie.”

      “Hoe word die kos gaar?”

      “Daar’s ’n gasstofie, maar ons braai maar gewoonlik.”

      “Dan sal ek vleis bring.”

      “Dankie,” sê sy en staan op. “Is daar iets wat jy nie eet nie?”

      Hy skud sy kop. “Nee, ek is nie vol fiemies nie. Sal ons in my motor ry?”

      “E … nee wat, ek het gedink ons vat sommer myne.”

      “Ons sal in myne gaan,” sê hy op sy kalm manier. “Dis nie minder as reg nie. Ek moet ’n bydrae maak. Sal ek wyn ook bring?”

      “Ja dankie. Ek hou van witwyn.”

      Hy knik en vergesel haar na die deur. “Vyfuur dan.”

      Sy glimlag, wuif en stap effens onseker weer die gang af. Hy het glad nie geskok gelyk nie. Nie eens verbaas nie. Sy het haar voorberei op lang verduidelikings en ’n hand vol leuens en hy wou nooit eens weet hoekom sy hom saamnooi nie.

      “Jy lyk nou beter,” sê Herman vir haar toe sy weer in hulle kantoor instap. “Weer jou ou self.”

      “Ek is nie seker nie,” sê sy peinsend en gaan sit.

      Hoofstuk 3

      Toe Elizma Vrydagaand by die woonstel kom, moeg ná ’n netbalwedstryd wat sy teen haar sin moes bywoon, staan Nicolette in die kombuis met ’n halfvol kartonboks voor haar op die tafel en ’n gevaarlike frons tussen haar wenkbroue. Werktuiglik steek Elizma haar hand uit na die bottel wyn wat langs Nicolette op die tafel staan, maak ’n kassie oop om ’n wynglas uit te haal en skink voor sy die verwagte vraag vra.

      “Hoekom lyk jy so boos?”

      Nicolette skud net haar kop, knip haar oë en kyk haar vriendin simpatiek aan. “Jy lyk gedaan. Was dit erg?”

      Elizma skop haar tas uit die pad en gaan sit op die rand van die tafel. “Goddank dis Vrydag,” sug sy en drink ’n diep sluk. “Ek gaan sommer nou-nou slaap, want Heinz wil ook vroeg ry. Het ek al vir jou gesê ek haat netbal?”

      “Dikwels.”

      “Dan weet jy. Ek rig eerder die junior rugbyspanne af.” Nicolette glimlag skewerig. “Net so.”

      Elizma wys na die kartonboks. “En jy? Hoe gaan dit hier? Jy lyk kwaad.” Sy onderdruk ’n onwillekeurige gaap. “Ek het jou ook dae laas gesien.”

      “Ja, ek het jou baie laat gisteraand hoor inkom. Hoe was die konsert?”

      “Beter as die netbal. Aansienlik beter. Ek lei af jy het toe iemand gekry om saam te gaan?”

      “O ja,” sê Nicolette. “Philip.”

      “Hy het toe ingestem?”

      Nicolette knik en tel haar eie wynglas op. “Sonder om een vraag te vra. Herman het my verseker as ’n meisie ’n man nooi om alleen saam met haar weg te gaan, sien hy net een ding en dis ’n wilde naweek. Philip sien dit blykbaar nie so nie, want hy’t nie een beswaar geopper nie. Nie ’n woord nie. Net aangebied dat ons in sy motor gaan en dat hy die vleis en wyn sal bring.”

      “Hy’t beter maniere as Herman.”

      Nicolette kyk haar vriendin ondersoekend aan. “Maar sou jy nie verwag het dat hy