Ena Murray

Ena Murray Keur 9


Скачать книгу

en die nuwe paskap en … wat nog? En ons het nog nie eens behoorlik gegroet nie!” Sy sien sy verleentheid en dit laat weer ’n warm gevoel van bevrediging in haar opkom. “Ek het Paula belowe ek sal vandag kom kyk waar julle bly. Gee jy om as ek saamry?”

      Hy frons. “Het jy dan nie met jou motor …?”

      “Nee. Paps het my netnou in die stad afgelaai. Ek het hom gesê ek sal self weer by die huis kom. Jy kan my maar later terugbring, of hoe? Paula is mos darem nie ’n invalide nie.”

      Toe Eugene eindelik daardie aand terug is by die huis, tref hy sy vrou roerloos en met wawydoop oë in die bed aan.

      “Hoekom het jy nie solank geslaap nie? Jy het baie rus nodig, Paula.”

      “Die werklike rus lê binne, en daar …” Sy swyg, kyk haar man met groot, bang oë aan. “Het jy nou gesien wat ek bedoel het?”

      Hy sug, sy oë ontwykend toe hy ook begin uittrek. “Wat bedoel jy?”

      “Ek praat van Petra, natuurlik!”

      “Wat van haar?” Sy stem is ongeërg, te ongeërg. “Ek moet erken, ek het in my lewe nog nie ’n briljanter stukkie snykunde gesien nie. Daardie man is ’n genie.”

      “Dan … dan dink jy ook sy is pragtig?”

      “Natuurlik is sy pragtig, Paula. My magtie, dis ’n feit wat nie misgekyk kan word nie.” Hy kyk reguit na haar, probeer sy ongeduld beteuel. Hy voel onrustig, op ’n vreemde manier omgekrap hierbinne. Nou moet Paula ook nog aanhou … “Wat wil jy my regtig vra, my vrou?”

      “Sy is meer as pragtig. Sy is gevaarlik, Eugene!”

      Hy lag, maar dis nie ’n ongeërgde, geamuseerde laggie soos hy dit wou hê nie. Daar is ’n ondertoon van spanning in. “My liewe Paula, hoekom sal Petra nou skielik gevaarlik wees net omdat sy mooi is? Petra? Onthou jy haar …?”

      “Die ou Petra is dood. Sy het onder daardie genie, soos jy hom noem, se operasiemes gesterf. Ek dink … ek dink daardie man weet dit net nie, maar hy het ’n monster geskep.”

      “Paula!” Hy kyk haar geskok, bekommerd aan. “Jy praat van jou suster!”

      “Nee, ek praat nie van my suster nie. My suster is dood! Ek praat van hierdie nuwe … nuwe ding wat vandag in ons lewens ingestap het!”

      Sonder ’n woord staan hy op, neem ’n pilletjie uit ’n bottel en hou dit na haar toe uit. “Sluk dit en bedaar, asseblief. Sy het niks met ons te doen nie, Paula. Ons twee is getroud en ons gaan ’n kind hê. Aan daardie feite kan sy niks verander nie.”

      Maar toe hy later sy vrou se egalige asemhaling langs hom hoor, lê hy nog wakker. ’n Uur of twee later staan hy saggies op en ook hý gooi ’n pil agter op sy tong. Petra … Hy kan dit nog nie glo nie!

      Dis ’n paar dae later dat Petra weer by die bekende voorportaal instap. Die vrou by die ontvangstoonbank glimlag vir haar. Petra was mos maande lank ’n geliefde inwoner.

      “En hoe gaan dit met die nuwe vlinder in die groot, wye wêreld?” vra sy skertsend.

      Petra glimlag, knipoog. “Puik! Net mooi honderd persent! Is die grootbaas hier?”

      “Ja. Hy is nou net daar in.”

      Sy knik, klop liggies, stap dan binne. Sy het verwag dat hy met haar in verbinding sou tree sodra hy van sy kongres terugkeer, maar sy het vergeefs gewag. Hulle kyk mekaar stilswyend aan en dan vroetel sy senuweeagtig met haar handsak. Dié man kan haar ontstig deur net na haar te staan en kyk!

      “Ek het jou net kom betaal. Die dag dat ek ontslaan is, was jy nie hier nie.” Sy maak haar tjekboek oop, sit dit op die lessenaar neer, en dan word dit by haar geneem.

      “Dankie. Ek sal dit self uitskryf. Jy kan dit net teken.” Sy frons, maar laat hom begaan en teken gehoorsaam haar naam onder die bedrag.

      “Jy het vergeet om die datum in te skryf.”

      “Ek het nie. Ek sal die datum inskryf die dag wanneer jy my kom vertel dat jy geluk gevind het met jou nuwe self. Terloops, hoe vorder die romanse met jou swaer? Al resultate behaal?”

      9

      Sy kyk uitdagend terug. “Dit lyk belowend.”

      Hy kyk haar ’n oomblik lank stil aan, kom dan om die lessenaar gestap. “Petra, jy gaan dit nie doen nie.”

      “Wát doen nie, dokter Wagner?” Haar kil stem en die formele aanspreekvorm wil hom op sy plek sit, maar dié man word nie maklik op sy plek gesit nie.

      “Daar is geen vreugde in weerwraak nie. Jy gaan jouself die seerste maak van almal.”

      Sy draai weg van sy deurborende blik, probeer gemaak onskuldig sê: “Ek weet nie eens waarvan jy praat nie!”

      “Jy lei niemand om die bos nie.”

      Die ergernis in haar vlam opnuut hoog en sy draai terug na hom. “Daar het ek nou jou tjek gegee en die saak is afgehandel tussen ons twee. Ons sal mekaar nie weer sien nie.”

      By die deur roep sy stem haar tot stilstand: “Net ’n oomblik. Ons sal mekaar minstens nog een keer moet sien – dié dag wanneer jy my kom vertel jy het geluk gevind, sodat ek die tjek kan gaan wissel.”

      Sy draai fronsend na hom. “Hoekom wil jy wag tot dan? Daardie tjek is vergoeding vir jou diens gelewer. Dit het niks verder …”

      “Dit het alles verder daarmee te doen. Ek voel verantwoordelik vir dít wat ek geskep het. Ek het ongelukkig die nare gevoel dat ek hierdie keer regtig iets leliks geskep het, in plaas van iets moois. As die tyd bewys dat dit so is, kan ek geen vergoeding vir my diens aanvaar nie.”

      Daar is ’n uitdrukking in haar oë wat hom vertel dat sy hom nou glad nie begryp nie. Sy knip hulle verward, vra dan stug: “Voordat ek gaan … Jy het eendag verwys na iets soos die waters van Silóa. Wat is dit?”

      Dit lyk asof hy haar eers nie wil antwoord nie, maar hy sê dan tog: “Silóa was ’n fontein in die ou Jerusalem. By daardie fontein kon die inwoners kalm waters gaan put vir hul daaglikse lewe.”

      “Ja? Wat nog?”

      Daar is ’n vreemde trek om sy mondhoeke. “Jy is vir my ’n tipiese voorbeeld van die mense van daardie tyd. Wat nog? Niks was meer nodig nie. Wat wil ’n mens meer hê as die stil, kalm waters van Silóa? Hulle was nie tevrede en gelukkig met dít wat hulle gehad het nie, met die kalm waters wat God hulle geskenk het nie. Hulle het dit geminag. Dit was eers toe hulle in die stormwaters van die Eufraat beland het, dat hulle die waarde van die kalm waters van Silóa na regte kon waardeer. Maar toe was dit te laat …”

      Sy draai sonder meer om en stap uit.

      Op pad terug huis toe is daar ’n frons tussen Petra se wenkbroue, ’n onsekerheid en rusteloosheid in haar oë. Sy moes sy tjek gestuur het, dit nie self kom gee het nie. Hoekom het sy? Dit kriewel in haar.

      Sy moes vooraf geweet het hy sou haar weer ontstig. Hy het die vermoë om haar te laat twyfel. Diep in haar hart, weet sy, het sy al begin twyfel. Dit wat sy beplan het, die dryfveer agter alles, was dit die moeite werd? Dis ’n onwelkome vraag wat die afgelope dae dikwels in haar gedagtes opduik. Dan het sy doelbewus die verre verlede weer in herinnering geroep en daarmee die tanende vasberadenheid in haar gevoed. Nee, sy sal nie afsien van haar oorspronklike planne nie. Dis om daardie planne se ontwil dat sy maande van pyn en hel deurgemaak het. Sy sál hulle wys …

      Toe sy by die dwarsstraat kom waar sy na haar ouerhuis moet afdraai, swenk sy haar motortjie in die teenoorgestelde rigting.

      Toe sy ’n ruk later by haar ma op die grasperk aansluit, laat sy kalm hoor: “Ek was netnou by die hospitaal. Ek gaan weer begin werk.”

      Haar ma se kop ruk omhoog. “Waar?”

      “By my ou hospitaal. Matrone sê ek kan so gou moontlik begin. Soos altyd het hulle ’n tekort aan personeel.”