om beweeg en sorg dat hulle my sien. Dan sal hulle begin wegdraf daar na jou kant toe. Mik jy maar net mooi dooierus op die oorkantste wal en wag dat die sog met die jong varke lyf wys. Klits dan een van die jonges soos hulle verby draf.
Sê en doen is twee, het die oumense egter altyd gesê. Toe die sog begin beweeg, is dit nie op ’n rustige pas nie, maar op ’n lekker blitsige vlakvarkpas teen die wal langs, drie jonges agter haar aan, al drie ook op ’n blitsige pas tussen die staalgrasse deur. Reguit op Wynand af, wat hulle teen ’n wildesering dooierus staan en inwag. Hy skiet nie die eerste jonge nie, liewer die tweede een, bietjie groter, lekker wolhaarlyf, snoet hoog in die lug, kuiltjie mooi oop. Toe die skoot klap, slaan die jong vark neer. Soos ’n os val hy en roer nie eens nie. Baie goeie skoot, sê hy vir homself toe hy nader stap.
Beslis ’n baie goeie skoot, werklik goed, behalwe dat dit nie die vark is wat daar lê nie, maar iets wat lyk soos ’n kruis tussen ’n rol doringdraad en ’n meerkat.
Ons hoor die storie toe Gerrit die aand bel, pas nadat hy met ’n lied in die hart vir hom ’n vreugdevuur aangesteek het. Teen dié tyd het hy ook al vir die sesde keer vir Wynand op die skouer geklop en hom verseker dat hy nie in die minste hoef sleg te voel nie. Deurmekaar! se oorlye word oraloor met vreugde ontvang.
Maar nie deur Wynand nie. Sy gewete raak net te veel vir hom.
Dis hoekom hy drie weke later, op ’n heerlike herfsdag in Johannesburg waar ons ons op die terras besig hou met heerlike melktert en koffie, by ons aansluit. Hy dra ’n rottangmandjie met ’n doek oor.
Kyk, sê hy toe hy die doek wegtrek. Hy lig die vaal steekhaarbrakkie uit die mandjie. Hier is sy soenoffer, asseblief. Hy het baie lank gesoek na ’n hondjie wat naastenby soos Deurmekaar! lyk, maar hierdie een is die naaste wat hy kon kry. By die SPCA vanoggend.
Ons kyk, en ons sien. Vir seker nog ’n brak met ’n doringdraad-ma en ’n meerkat-pa.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.