Elza Rademeyer

Melodie Omnibus 1


Скачать книгу

      MELODIE

      OMNIBUS 1

      Hart van die son – Elza Rademeyer • Beenaf bokkie – Dirna Ackermann • Romanse agter die skerms – Helena Hugo

      Melodie

Hart van die son

      1

      Bets de Vos loer grootoog om die deurkosyn van Nadia se kantoor. “Meneer Duvenhage wil jou spreek,” sê sy gedemp. “Terwyl ek daar was, het hy tee bestel vir twee persone, so daar is ’n kliënt op pad. Jy beter spring, anders spoeg hy sy duiwels oor jou ook uit.” Toe Bets se kop verdwyn, staan Nadia dadelik op van agter haar lessenaar. Sy is nie heeltemal so lugtig vir prokureur Duvenhage soos haar kollegas nie, want daar het ’n besonderse verhouding tussen hulle ontstaan sedert sy deur die bemiddeling van sy seun, advokaat Dewald Duvenhage, die pos by hierdie prokureursfirma bekom het. Behalwe Dewald is sy pa die enigste persoon in die firma wat weet van die skrikwekkende gebeure in haar lewe.

      Sy weet egter wat Bets bedoel met “duiwels uitspoeg”. Prokureur Duvenhage duld nie laksheid nie. So, al glo sy hy het empatie met haar omstandighede, beteken dit nie hy sal haar oorsien as sy nie dadelik op sy bevele reageer nie.

      “Sit,” sê hy op sy bevelende manier toe sy die kantoor binnegaan. “En skink vir ons tee.”

      Nadia skrik haar boeglam. Prokureur Duvenhage is die laaste persoon wat ’n werknemer na sy kantoor sal nooi vir ’n geselsie oor ’n koppie tee. Sy moes iewers verbrou het …

      “Ek sê: sit!”

      Sy gehoorsaam só vinnig dat sy amper die stoel mis sit.

      “Knip jou oë en skink die tee.”

      Haar hand bewe en sy moet mooi korrel om nie die tee mis te skink.

      “Kry vir jou suiker.”

      Sy loer vlugtig na sy gesig en gooi uit pure senuweeagtigheid sommer ’n ekstra lepel suiker in haar tee voordat sy die suikerpot nader aan sy koppie skuif. Hy leun vorentoe, gooi tydsaam suiker in en roer ewe tydsaam die tee. Toe lig hy die koppie om herhaalde kere versigtig aan die warm vloeistof te proe.

      Op langelaas kan Nadia die stilswye nie langer verduur nie. “Wat het ek verkeerd gedoen?”

      ’n Hewige frons verskyn tussen die prokureur se wenkbroue. “Niks waarvan ek bewus is nie.”

      “Hoekom het meneer my dan hier na u kantoor ontbied?”

      “Om met jou oor jou persoonlikheid te praat.”

      Sy staar hom verslae aan. “Ek … ek is jammer, ek het nie geweet my persoonlikheid gee aanstoot nie.”

      “Seker nie vir ander mense nie. Maar ék sien nie kans om langer teen jou smartvolle gesig vas te kyk nie. Wanneer gaan jy die dinge van die verlede agter jou laat? Jy’s nog bloedjonk, en ’n pragtige meisie. Vir wat haak jy vas by die dinge wat verby is?”

      “Ek probeer. Ek probeer regtig, maar –”

      “Juffrou Pretorius, ek is nie ’n berader of ’n dokter nie,” onderbreek hy haar sin. “Maar ek kan sien hierdie ding gaan jou onderkry as jy nie iets daaraan doen nie. Ek wil hê jy moet met vakansie gaan.”

      Hy maak die laai van die lessenaar oop en haal ’n klaar geskrewe tjek uit. “Hier, vat dit en maak jou motor vol brandstof. En jy kom nie terug voordat jy jouself is nie, al vat dit ook ’n maand.”

      Sy neem instinktief die tjek, maar toe rek haar oë. “Met vakansie? Ek kan nie met vakansie gaan nie! Ek werk dan nog kwalik vyf maande hier. Of … wil meneer eintlik hê ek moet bedank?”

      “Ek sou jou gesê het as ek wou hê jy moet bedank. Vat jou motor, en gaan soek die hart van die son.”

      “Die hart van die son …?” vra Nadia verward.

      “Ja, want dis duidelik jy’s nie tevrede met die son wat tans oor jou skyn nie. Die noodlot het jou ’n lelike streep getrek, dit ontken ek nie, maar dit beteken nie dis die einde van jou lewe nie. Maak werk daarvan om vir jou ’n nuwe toekoms te skep.”

      “Dis nie só maklik nie. As u in die tronk was –”

      “Hou op om dit elke keer op te haal!” maak hy haar stil. “Jy is onskuldig en vry. Kry dit in jou kop!”

      “Ja, danksy u seun is ek vrygespreek van poging tot moord, maar die mense daar buite …Vir hulle is ek iemand wat net losgekom het omdat ek so ’n knap advokaat gehad het.”

      “Hoewel jy sê Dewald is knap, is jy nou deksels beledigend teenoor hom. Hy is nie die soort mens wat jou saak sou opgeneem het as hy nie oortuig was van jou onskuld nie.”

      “Ek is jammer,” sê Nadia onthuts. “Dit was glad nie my bedoeling nie. Ek het groot agting vir advokaat Duvenhage. Maar daar sal altyd mense wees wat dink ek het Johny opsetlik geskiet, oor ek … hom wou vermoor.”

      “Watter mense sal so dink? Dit het tog duidelik tydens die hofsaak na vore gekom watter soort mens Johny Marais was.”

      Sy gee ’n suggie. “Ja, maar toe ek hom besoek het, kon ek duidelik die agterdog in die personeel se oë sien.”

      “Wanneer was jy by hom?”

      “’n Paar dae voordat hy uit die hospitaal oorgeplaas is na die versorgingsinrigting.”

      “Hoekom het jy hom besoek?”

      “Ek het gehoop hy sal gesond word sodat hy vir my kan sê waar hy daaraan gekom het dat ek met my mondigwording geld sou ontvang. Dit sou baie van my vrae beantwoord het. Ek glo die persoon wat die geld in my bankrekening gedeponeer het, is dieselfde persoon wat dit bewerkstellig het dat u seun as my regsverteenwoordiger opgetree het. Maar as gevolg van sy breinbesering sal Johny seker nooit weer kan praat nie. So ek moet nou maar in die duister bly.”

      “Dit sal nie help om ergerlik te raak oor jy nie al die antwoorde ken nie. Jy sal maar geduldig moet wag vir die brief wat jy ná jou weldoener se dood gaan ontvang. Dit behoort alles te verduidelik.”

      “U seun weet wie dit is wat my tot hulp gekom het. Wil u hom nie oorreed om die persoon se naam aan my bekend te maak nie?”

      “Dewald sal nooit sake verklap wat geheimhouding verg nie, juffrou Pretorius. Nie eens teenoor my nie.”

      Nadia neem ’n slukkie tee, maar dis smaakloos. “Dis alles so geheimsinnig. Hoekom moet ek wag tot die persoon dood is? ’n Mens kan tog nie ’n dooie bedank nie.”

      “Miskien wil hy of sy nie bedank word nie.”

      “Dit kan net een persoon wees: my biologiese pa. Hy is natuurlik weer getroud en –”

      “Drink jou tee dat jy kan aangaan met jou werk,” onderbreek prokureur Duvenhage haar sin.

      Sy proe weer aan die tee, maar dit bly smaakloos. “Mag ek die tee in my kantoor gaan drink?”

      “As jy dit verkies, ja.”

      Sy staan op en hou die tjek na hom uit. “Dankie, maar danksy my weldoener se vrygewigheid het ek nie geld nodig nie. Maar as ek met verlof gaan, wie gaan my werk doen?”

      Hy neem die tjek en gooi dit met ’n gebaar van onverskilligheid in die laai. “My susterskind het ingewillig om jou kantoor te behartig tot jy terugkom. Sy het vantevore by ’n prokureursfirma in Bloemfontein gewerk, so sy weet wat die werk behels. Dis vandag Dinsdag. Ek sal haar sê om môre te begin. TeenVrydag behoort sy vertroud te wees met die werk. Dan kan jy oor die naweek vertrek. Maar daardie geld wat jy van jou weldoener gekry het … Jy’t dit tog seker belê? As jy dit nie gedoen het nie, is jy dom.”

      “Ek het nie. Dis nog in my spaarrekening. Hoe kan ek seker wees daar is nie iewers ’n misverstand nie? Dalk word ek verwar met iemand anders. Iemand met dieselfde naam en van.”

      Hy trek ’n dokument nader. “Die brandstofprys gaan môre op. So onthou om vanaand al jou motor vol brandstof te maak.”

      Toe hy sy pen opneem, stap Nadia deur toe, maar steek dan vas. “Ek wil net dankie sê. Baie dankie vir u begrip en … alles. Ek het nie kon dink daar is nog sulke goeie mense op aarde nie.”