Elsa Winckler

Liefde deur ’n lens


Скачать книгу

hande was so vol dat ek op pad was om die skinkbord op die grond neer te sit, toe Francois die deur oopmaak.”

      Amelie se oë vonkel toe hulle op die stoep uitstap. Haar oë sak af na Nicola se kort rompie. “Goeie ding jy’t nie voor die man gebuk nie, anders het hy sweerlik sy tong vasgetrap. Baie sexy nommertjie wat jy aanhet.”

      In die skielike stilte op die stoep klink Amelie se woorde hard en duidelik op.

      ’n Blos dreig om teen Nicola se nek op te klim en sy kyk verbouereerd op, vas in Francois se oë. Sy kan in die grond wegsak. Vinnig draai sy haar rug op hom. Hoe sy moes gelyk het, wil sy liewer nie weet nie – seker soos ’n eend wat onder die water duik, boude in die lug. G’n wonder die man het op sy tande gekners nie. O, aarde, sy skaam haar morsdood.

      “Hallo, almal, geseënde Kersfees,” groet sy en buk af om haar pa en ma te soen, bly dat haar hare oor haar gesig val.

      Haar broers kom vinnig nader.

      “Hallo, Sus, jy was heeltemal te lank weg.” Neethling gee haar ’n stywe drukkie.

      “Bly ons is weer voltallig.” Chris soen haar op die voorkop.

      Terwyl sy gesels en drukkies uitdeel, bly sy oorbewus van die blonde man wat eenkant staan.

      Dit is nie asof dit die eerste keer is wat sy Francois raaksien nie. Sy het wel nie baie met hom te doen gehad voor sy oorsee vertrek het nie. Hy het pas as geoktrooieerde rekenmeester in die Paarl begin werk toe sy weg is.

      Die langste wat sy nog met hom gesels het, was op Neethling en Natalie se troue en dit was om hallo te sê. Tydens die een of twee Sondagkuiers by Amelie en Chris voor sy weg is, was hy gewoonlik by die mans en het hulle nooit regtig gesels nie.

      Chris slaan sy arm om haar skouers. “Jy het so baie gemis in die jaar wat jy weg was. Kyk hoe groot is ons kinders al.” Hy beduie na waar die spruite buite op die gras speel.

      Nicola lag en sit haar handsak op ’n stoel neer sodat sy albei haar hande vir haar kamera kan gebruik. Kinders is vir haar ’n bron van inspirasie. Sy kan nie wag om deur die foto’s te gaan wat sy die afgelope jaar geneem het nie. Van al die gesigte wat sy afgeneem het, is dit die kinders s’n wat sy onthou, veral die heel kleintjies wat nog onbevange lag voor hulle hartseer leer ken.

      Maar dis ook die eindelose hartseer juis op kindergesiggies geëts wat haar keer op keer so ontstel het – iets wat sy nooit sonder haar kamera sou oorleef het nie.

      Neethling tel sy dogtertjie op en bring haar nader.

      Nicola glimlag breed. Sy het Mila nog net op foto’s gesien.

      “Dis jou tannie Nicola,” sê Neethling. “Sy het oorsee foto’s geneem toe jy gebore is en het nog nie kans gehad om jou vas te hou nie.”

      Die dogtertjie het ’n bloedrooi tutu aan. “Ons lyk amper eenders,” lag Nicola en steek haar hande versigtig uit na Mila.

      Sy word lank en ernstig beskou voordat die dogtertjie haar armpies uitsteek.

      Nicola sak terug op haar bene en lig die kind hoog in die lug. “Jy lyk soos jou mooi mamma, dankie tog,” terg sy, en die kleintjie kraai soos sy lag.

      2

      Francois keer sy rug op die prentjie op die gras. Wat de hel? Dis ’n girl by kinders, hoekom voel sy vel nou te klein vir sy lyf? Hy is soos ’n verliefde tienerseun wat sy oë nie van die vroumens kan afhou nie. Hy het haar motor hoor stilhou, ja, maar dis nie asof hy vir haar gewag het nie, demmit. Dis net …

      Hy vat ’n groot sluk bier en kreun amper hardop. Dis verdomp presies wat hy gedoen het. Die vroumens is op sy brein vandat hy haar die eerste keer gesien het. Daarom het hy gesit en wag om die geluid van haar motor te hoor, en daarom weet hy presies hoe lank sy weg was.

      En dis nie asof hy kruisies deur die datums op ’n almanak trek nie, hy weet eenvoudig net. Iets diep binne-in hom weet hoeveel tyd verloop het vandat hy die langbeen-meisiekind met die donker hare en kamera om die nek laas gesien het. Daar was verlede jaar ’n vreemde gemis, ’n gemis wat veral tydens die Meyers se Sondagetes gevoel is. Sy oë het maar altyd bly soek na die meisiekind met die kamera om haar nek.

      “Francois!” roep sy suster, en hy kyk op.

      Sy beduie na Nicola wat met Chris en Amelie se jongste, klein Dewald, op haar heup in die huis ingestap kom. “Ons gaan solank die kos uitdra, wees so nice en help seblief vir Nicola om haar Kersgeskenke uit die motor te laai?”

      Amper moedeloos knik hy in sy suster se rigting en stap agter Nicola aan, sy oë op haar lang bruingebrande bene, haar sitvlak wat so netjies in die dekselse rooi rompie pas. Sy gesels land en sand met Dewald en is heel waarskynlik salig onbewus van hoe die seunslyfie die rooi rompie nog hoër optrek.

      Hy lig sy kop en kyk op na die dak terwyl hulle in die gang af beweeg.

      “… van ’n bal?” hoor hy haar vra.

      Dewald knik heftig. “Bal.” Hy vat aan Nicola se lang hare.

      “Wel, ek het vir jou een gekoop …” Sy wip haar heup sodat sy die seuntjie hoër teen haar kan opskuif. Hy het sy suster en Amelie dieselfde beweging al ’n honderd keer sien doen, maar hierdie wip het ’n vuishou van begeerte reg op die krop van sy maag tot gevolg – die hoofrede heel waarskynlik die feit dat die rooi rompie nou nog ’n ent hoër opgeskuif het en meer van haar been sigbaar is.

      Blik-bleddie-sem. Die vroumens gaan wragtig sy einde beteken voor hierdie Kersdag verby is.

      Terwyl sy steeds met die seuntjie gesels, lig sy haar ander hand om die voordeur oop te maak.

      Francois is nou reg agter haar. “Ek sal.” Hy steek sy hand uit om te help, maar toe sy hand om die knop van die deur sluit, is haar hand reeds daar.

      Haar vingers fladder angstig onder syne soos ’n skoenlapper wat toegevou word. Hy los onmiddellik.

      Sy maak die deur oop. “Ek sal regkom, dankie,” sê sy oor haar skouer.

      “Natalie het gevra ek moet jou help, so laat my help. Jou motorsleutel? Is die geskenke in die motor se kattebak?” vra hy.

      “Uhm … dankie, nee, hulle is op die agterste sitplek. Hier’s die sleutel.” Sy sit al twee arms om klein Dewald en skuif hom na haar ander heup. Terselfdertyd hou sy die sleutels wat oor haar wysvinger hang, uit na hom. “Dankie.”

      Maar die woord kom oor ’n oneindige afstand na hom toe, want met die skuif van die seuntjie na haar ander heup, het haar rompie vir ’n oomblik hoog opgelig, hoog genoeg sodat hy ’n glimp van die bokant van haar been kry, asook – bleddie hel, hy kry nie asem nie! – van swart kant en satyn.

      Hy trek sy asem hoorbaar in, voel hoe al sy bloed binne ’n millisekonde na benede sy middel val.

      “Wat?” Sy druk die sleutel fronsend en effe geïrriteerd onder sy neus in.

      “Jou … rompie.” Voor sy breinselle kan funksioneer en hom keer, vat sy hande haar rooi kantrompie aan weerskante vas.

      Sy voorneme was regtig net om die dekselse rompie af te trek, maar sy vingers raak aan satynsagte vel en bliksem …

      Hierdie keer kan hy die kreun wat oor sy lippe val, nie keer nie. In plaas daarvan om haar rompie af te trek, vou sy hande oor haar bobene, so asof hulle moet seker maak van die tekstuur, en vir nimmereindigende sekondes gly sy vingers oor haar vel.

      Haar oë rek, sy trek haar asem hoorbaar in. “Francois …”

      “Haai – wat maak julle?” roep Amelie van die bopunt van die gang af. “Ons wil eet, mense!”

      Francois gryp die sleutels en draai vinnig weg. Hy hoor Amelie en Nicola se stemme agter hom, maar daar is so ’n geraas in sy kop, hy kan nie uitmaak wat hulle sê nie.

      Wat de hel? Hy is agt-en-dertig, nie verdomp agtien nie. Dit is ’n absolute belaglike situasie. Hy ken die vroumens nie eens regtig