Dan Sleigh

1795


Скачать книгу

en ganzenbord speel. Mag ek nie dans in Saasveld nie? Jy is altyd so besig, jy sit en lees by jou lamp, jy sien nie my mooi klere nie, of jy sit in die voorhuis en praat met jou ou mans en ek moet die kinders stil hou. Jy kom nie eens Sondag saam met my kerk toe nie, dis net altyd die natuur, kyk die lenteblomme, Geesje, of die mooi sononder, Geesje, my pa en Freddie sê die natuur is ons gegee om te tem. Jy is met jou werk getroud, jou plig, jou plig, jy bly halwe nagte van die huis af met jou plig, wat weet ek waarmee jy besig is. Waarnatoe loop jy snags? Ek wil ook sien wie met die skepe aankom, hul nuwe hoede en goed. Ek wil vendusies toe gaan, wonderlike mooi dinge kry jy daar en tafels vol te eet. Ek kan die dorp van hier af sien maar wat help dit, ek kan net so wel op die eiland sit. Jy’s op die Raad en kan vir ons ’n servies van honderd-vier-en-twintig stukke met ons familiewapen uit Oosinje bestel, ag asseblief. My vriendinne wil hoor wanneer ek hulle vir ’n soir dansant gaan nooi; ek is jonk, die Bybel sê geniet die dae van jou jonkheid, en jy praat net oor jou mense, jou dorp, jou land …’

      Waar het hy hom misreken? Praat met my, Geesje. Ja, dans. Dans asseblief. Kom, praat met my. Ek onthou hoe jonk en mooi jy was, ek onthou jou jong gesig en vrolike geaardheid. Kom hier, ek wil my arms om jou sit. Ek het nie vergeet nie. Asseblief, ek onthou. Toe, vertel my dat jy jou beste jare en jou skoonheid in dié huis mors. Jy is reg; ek sal luister.

      Maar sy wou nie, want om te praat was om blind en gewond in onverkende terrein te dwaal. En vir musiek gee sy nie om nie. Vra haar ’n eenvoudige vraag en sy antwoord met ’n afjak. Met sy hande sluit hy sy ore teen die krete, maar hy voel hoe dit binnetoe bloei, bloei, bloei.

      “Jy was met ’n kamermeid getroud. Moenie dink ek is so nie.”

      “Laat haar rus.”

      Soms was daar skuim om haar mond. Was sy siek, was sy aan gek word? Dit gebeur tog met jong mense ook. Hy het met dokter Van Riet oor Geesje gepraat. Die dokter het gesê sy is te jonk vir die oorgangsjare se versteuring. “Is jy nie die oorsaak van haar onrus nie, William? Is daar ’n ander vrou?” As Geesje gewillig is, sal hy na haar kom kyk, maar miskien is daar ’n geestelike oorsaak, miskien sal ’n predikant beter weet.

      Met sy stem so rustig as hy dit kon kry, het hy dit aan haar voorgestel: Hoor net, luister net na wat Van Riet sê. Hulle weet van amper alles. Miskien is net ’n bietjie medisyne nodig.

      “Ek, dokter toe oor jou? Die skandaal; jy wil my laat mal verklaar en op die eiland sit, soos jy met jou ma gemaak het.”

      “Waarvan praat jy? Watter eiland?”

      “Heiland. Heiland!” skreeu sy in sy gesig met haar lang naels in sy nekvleis geslaan. Wat sê sy? Wat beteken dit? Asseblief, liewe Here.

      Haar vyandige houding het hom geskok. Wat was met haar verkeerd, of met hom? Hy het teleurgesteld gedink: Sy was nooit só voor hul troue nie. Senuwees; sy sal daaroor kom, sy sal moeg word vir Suster Machteld en vir bidure. Maar sy het kouer teenoor hom geword, meer afsydig, sy toenadering verwerp, en hy kon aan geen rede daarvoor dink nie. Sy skel by die eettafel op ongelukkige bediendes, oombliklik woedend oor ’n soutbakkie skadeloos omgeval (‘Soek jy om die satan oor my huis te bring?’) of ’n souslepel wat op ’n tafellaken drup. Sy skel luidrugtig, sy beskuldig hulle met leuens, met dreigemente. Sy skud haar vuis voor hul oë, sy slaan met haar sleutels na hul gesigte. Hy gryp haar arm, sy skreeu dat hy haar mishandel: ‘O God! Help my, Van Oudshoorn rand my aan!’ Die bure, die straat, die hele gemeenskap moes van haar haat weet. Of sy maak dae lank haar mond op ’n dun, reguit lyn toe, siedend van gif. Waarom?

      Die draak wat haar pla was die onsigbare een. Luister: Met dagbreek een someroggend wens hy haar ’n gelukkige nuwe jaar toe; daaruit spring binne sekondes stringe verwensings en twee weke van koue tussen hulle. Wat hy ook al probeer sê, kom Geesje met ’n verwyt. Regstellings, noem sy skoonma dit. Hy voel platgeskiet en noem dit teregstellings.

      Sy skoonma sê: “Sy is nog jonk, sy moet leer skel.” ’n Skoonma sal haar kind beskerm; hy moet hom verdedig. Hy vra, met afsku. “In vadersnaam, waaroor?”

      “Dit maak nie saak nie. Sy moet haar kan verdedig.”

      God, kom help asseblief in hierdie huis. Hy moet hier uit. Die voordeur klap agter hom. ’n Gil klink uit die huis. Buite skud die slaaf sy kop oor die graaf.

      Geesje laat haar as barones aanspreek. Een wat haar man luidrugtig tussen gaste weerspreek, in die openbaar aanval en vir ’n dwaas uitmaak? Sy skel voor die slawe op hom, tot hy haar voor die slawe klap om die duiwel wat in sy huis gekom het uit te dryf. Die duiwel, vermoed hy, verlustig hom in sulke afstootlike optrede. Teleurgesteld in haar en in homself gaan hy alleen slaap, aan die agterkant van die huis. Sy beskuldig hom dat hy by ’n slavin lê en skel daagliks op die vrou, tot hy haar verkoop, die dorp uit, waar niemand haar ken nie.

      Geesje begin om dreigemente teen hom te gebruik: Hy kan nie meer dít van haar verwag nie, sy gaan nie meer dát vir hom doen nie. Sy besef nie hoe hy dreigemente verafsku nie, ’n dreigement is die laaste posisie voor aggressie. Sy sou geweld teen hom gebruik; sy dreig om hom, haar man, deur ’n gehuurde party te laat sny soos hulle in Engeland maak. Te laat kastreer, soos ’n skaap?

      Hy sê: “Dan sal jy nie weer ’n kind hê nie.”

      “Jou neus, dat almal jou skandaal in jou gesig sien.” Sy het ook ’n manier van lag, ’n skril skreeu wat soos ’n mesgooier se lem na die keel vlieg. Hy het nie geweet dat daar sulke haat in ’n liggaam kan wees nie.

      Die woord ‘ons’ is nie weer in hul huis gehoor nie. Wanhopig oor die onherstelbare saak was hy soms na aan trane. Die donker word jou vriend. Jy leer om van jou huis te bly, soek vrede in lang wandelings, jou werk en boeke. Sy was nou tot histerie geneig; later kan sy gewelddadig word, wat kon hy vir haar doen? In die ergste gevalle word sulkes vir hul veiligheid en die rus van die gesin in hul huise afgesonder, hul rame toegespyker en ’n spesiale slavin bedien hulle, die lewende dooies, agter geslote deure; hul name word nie meer in die familie genoem nie. Maar hy kon dit nie aan enigeen doen nie.

      Hy was nie ’n ridder in ’n boek nie maar ’n man van bloed en been, met ’n dun vel. Hy het met haar pa gaan praat: Gaan haal haar as jy haar wil hê, ek doen aansoek om egskeiding.

      11

      Halfvier; dit reën nog. Hy loop terug Kasteel toe, werk toe. Die strate is leeg. In die skemer laatmiddag word die kanonne stil. Die teken van Soutrivierdrif af is duidelik gesien, dié van Tygerberg en afgeleë Kanonkop is van hulle hoogtes gehoor. Ses- en twaalfponderskote weergalm nou van kranse af, dawer die klipperige passe en steil klowe van Gantouw, Houwhoek en Piekenierskloof op na die volgende seinpos, vyf-en-dertig, veertig myl verder. Die alarm dreun teen dié tyd oor Bottelary, Wamakersvallei, Moordkuil en Winterhoek se boere, oor die Koeberg se Van der Spuys, oor die Slagtersveld en Groene Cloof se Louws en Bassons, oor Piketberg se Dippenaars, die Sandveld se Loubsers en Besters, die Koue Bokkeveld se Witkop van der Merwes en die Engelbreghts en Nieuwoudts by die Olifantsrivier, en het al die rustige Steyns, Mullers en Lourense by Breederivier bereik. Ses ure, van Soutrivier af tot Swellendam. Nog vannag behoort sersant Abue by Mosselbaai daarvan te weet, môremiddag hoor poshouer Meeding in Plettenbergsbaai van die Kaap se nood. Die eerste gewapende boere uit die Swartland en Agter-Paarl sal vroemôre die dorp binnery. Die Burgerraad is verantwoordelik vir inkwartiering; voorsitter Van Breda en sy Raad sal sorg dat dit volgens voorskrif geskied: Stalling en voer vir perde, serviesgeld om daarvoor te betaal, diensroosters vir die stadspatrollies, ekstra meel aan bakhuise vrygestel vir daaglikse vars en hardbrood vir duisend nuwe siele in die dorp. Die Kaap gaan daarvan weet.

      Hy dink, met spyt: Wie nie gaan opdaag nie, is die Swellendammers en Graaff-Reinetters, wat moedig, en volgens sy begrip met goeie reg, hul rug op Jan Kompanjie gedraai het. Graaff-Reinet se boere het die VOC se landdros weggejaag en sy vlag neergehaal om te verbrand, omdat hulle belasting aan hul regering betaal maar geen hulp teen die rowende Makosa kry nie. Vroeër vandeesmaand het Swellendam dit ook gedoen, die gesant verjaag, die vlag verbrand. Daar was lankal waarskuwende tekens, soos weiering om plakkate te gehoorsaam, die optrek by te woon, die weerhou van belasting, maar die Kaapse regering was te stompsinnig om die simptome te herken of daarop te reageer.

      Hoë Kommissarisse