oor haar bewussyn span. Die uitputting het sy tol geëis, want dit voel asof sy nog in die woestyn is met die sand om haar. Miskien, dink sy vaag, is dit Jarad wat haar gehelp het, maar hy is nie hier by haar nie.
Sy kom half by uit die newels en sien die meisie oor haar buk.
“Waar is Xavier?” vorm haar lippe die woorde, maar daar kom geen geluid uit nie. “Xavier …”
Die ou vrou kyk fronsend op na die man wat by die tent inkom. “Sy probeer praat.”
“Wat sê sy?” wil hy weet en hurk langs die vrou.
“Ek weet nie.”
Nog koel water drup oor Isabelle se tong.
“Ek is Shahira …” Sy maak haar oë oop. Vreemde gesigte kyk af na haar.
Die man en vrou kyk verskrik na mekaar.
“Ons moet die sjeik hiervan sê,” sê die vrou. “Kyk, die swaard wat sy by haar het, het sy embleem op.”
“Sjeik Khidr hoef nie te weet nie,” sê die man.
“Jy is een van sy rasjids, Yussuf!” roep die vrou uit. “Hy sal jou onthoof as hy uitvind, maar as jy hom vertel, sal hy jou beloon.”
Yussuf snork minagtend. “Hy sal my beloon met ’n klop op die skouer en ’n mooi kompliment. Dis al wat ek sal kry, Alya.”
Hulle beweeg ’n paar treë weg en sit die gesprek dringend voort. Isabelle kan nie hoor wat hulle sê nie, maar hul eerste reaksie was genoeg. Dis tog onmoontlik! Sy kon nie van Aran af tot by die wadi Jekka geloop het nie, en tog … Sy is deur Jarad se grondgebied. Waarom het niemand haar dan opgemerk nie?
“Ek verbied jou om ’n woord te sê, Alya!” hoor sy Yussuf uitroep en draai haar kop na hulle.
“En wat gaan jy doen as ek na sjeik Khidr gaan?”
Daar volg ’n kort, gespanne stilte en dan sê Yussuf: “Ek sal jou terugstuur na Shurma.”
Alya snak na haar asem. “Jy sal dit nie doen nie!” sê sy verskrik. “Jy het my belowe dat jy my nooit weer daarheen sal terugstuur nie!”
“Solank jy my gehoorsaam, mag jy hier woon – ek is immers die mukhtar van hierdie stam. Ek weet wat ek doen, Alya. Shahira bly hier en sjeik Khidr hoef nie daarvan te weet nie!”
Yussuf kom hurk by Isabelle.
“Ons het jou kameel gekry, saïda. Hy sal herstel. Ons sal julle saamneem na Ibb. Ons is op pad na Aden met ’n vrag sy wat ons daar van die hand wil sit.”
Isabelle glimlag deur haar gebarste lippe. Yussuf tel die bakkie water op en drup ’n bietjie in haar mond. Hy herhaal die proses geduldig ’n paar keer voor sy hom kan antwoord.
“Jy is ’n … goeie man, Yussuf …”
“Ek doen wat ek dink reg is, saïda.”
“In Aden … sal ek op ’n skip kan klim en na my vaderland terugkeer.”
Yussuf skud sy kop. “Nee, saïda. U kom saam met ons terug. Ons het u nodig.”
Sy frons liggies en kom half orent. “Nodig? Waarvoor?”
Hy aarsel voordat hy sê: “In hierdie land is die man alles, saïda, en die vrou is niks. Maar jou naam is oral bekend omdat jy sterk is … en omdat jy die woestyn alleen aandurf. Daar is baie dapper mans wat dit nie sal doen nie.”
Isabelle antwoord nie, omdat sy nie die krag het om met hom te stry nie. Sy is nie belangrik nie, sy was nie dapper nie, eintlik was sy besonder dom en onverantwoordelik … en baie gelukkig om lewend uit die Rub’al Khali te kom.
Eers ’n week later pak Yussuf se groep nomades op. Alya bring vir Isabelle haar skoongewaste klere om aan te trek. Daar is ’n stille vyandigheid by Alya, en Isabelle wantrou haar. Wie weet wat die ou vrou sal doen sodra hulle op pad is?
“Hoekom haat jy my, Alya?” vra Isabelle net voor die vrou die tent verlaat.
Alya steek vas. “Ek weet wie jy is. Jy is Shahira, die slavin wat met sjeik Jarad sou trou. Maar jy is nie een van ons nie. Beryl is op die oomblik by die sultan en sy word gereed gemaak vir haar huwelik met sjeik Xavier Jarad. Wanneer hulle weer na Helu gaan, sal Beryl se ouers ook kom. Beryl is nie ’n infidel nie, sy is een van ons, en jy is ’n indringer, Shahira.”
“Hoe goed ken jy sjeik Khidr?” Isabelle voel die spanning in haar oplaai. “En hoe weet jy hoe dit voel om van jou vaderland weggevoer te word na ’n land wat jy nie ken nie en wat jy nooit weer mag verlaat nie?”
Sy gaan voor Alya staan. “Ek verlang na my land en my mense, Alya. My land is groen so ver as die oog kan sien. Daar is wingerde langs die rivier, met groen woude wat dit omsoom. In die lente is die lug swaar met die geur van blomme. Daar is voëls wat sing en die herte hardloop vry in die veld.” Haar oë skiet vol trane. “Hier is net sand en hitte. Dis net die oases wat groen is.”
“Daar is nie so ’n land soos die een wat jy beskryf nie. Ons almal droom van so ’n paradys. Die mans rook hasjisj sodat hulle net vir ’n rukkie lank daar kan wees. Wat het jy gerook dat jy daarvan weet?”
Alya wag nie op ’n antwoord nie, maar draai om en stap vinnig van Isabelle af weg.
’n Gevoel van eensaamheid oorval haar en sy stry teen die oorweldigende verlatenheid. As sy uit Jemen wil kom, moet sy sterk word soos die Bedoeïene. Sy moet kan terugbaklei en nie vir ’n oomblik haar waaksaamheid verslap nie. In die agt maande wat sy in hierdie land is, het sy baie geleer, maar nog nie genoeg nie.
Ongeveer elfuur die aand verlaat hulle die waterputte waar Yussuf sy karavaan laat oorstaan het. Isabelle is bly om haar kameel weer te sien. Hy het haar lewe gered toe hy die water in die berge gekry het en hy het onafskeidbaar deel van haar bestaan geword.
Ibb is ’n groot, florerende dorp. Yussuf laat sy mense buite die mure by die oog van die fontein om hulself te verfris en gaan soek na ’n man wat hy moet spreek.
Isabelle is in die tent besig om haar klere op te vou toe sy bewus raak daarvan dat sy nie meer alleen is nie. Sy verstyf. Dan draai sy stadig om en die bloed dreineer uit haar gesig toe sy die man in die tentopening sien staan.
“Ek groet jou, saïda.” Hy behou ’n eerbiedige afstand.
Isabelle aarsel en staan dan op. Sy gaan na hom en kyk op in sy donker oë. Daar is geen verwyt daarin nie, net verligting dat hy haar eindelik opgespoor het.
“Ek kon nie meer so doelloos rondswerf nie, Kamal,” sê sy sag. “Ek wil ten minste probeer teruggaan na my vaderland.”
“Sjeik Jarad weet dat jy gevlug het. Hy het my opdrag gegee om jou te vind en terug te bring na Helu.”
“Ek kan nie, Kamal, jy weet dit.”
“Die sultan weet dat die dogter van die sjeik van Oman ’n man na jou gestuur het om jou dood te maak.”
Dan was dit Beryl …
“Beryl word gereed gemaak vir haar huwelik met sjeik Jarad, Kamal. Ek wil nie na Helu teruggaan nie.”
“U lewe is nie veilig saam met Yussuf en Alya nie, saïda. Khidr weet dat u in die karavaan is en hy is op pad hierheen om u te kom haal.”
Isabelle draai van hom af weg. Sy probeer naarstig aan ’n oplossing vir die probleem dink. Sy was so seker dat sy na Aden kan gaan en daar ’n skip kan haal. Nou lyk dit asof haar droom nog verder uitgestel gaan word. Sy was so naby daaraan om te ontsnap …
“Alya het my dan tog verraai,” sê sy eindelik hees. “Yussuf gaan woedend wees.”
“Sal u nou saam met my kom, saïda?”
Sy kyk op na hom. “Wat wil sjeik Jarad van my hê? Hoekom los hy my nie uit nie?”
Sy draai van hom af weg, hewig ontsteld. Wil Jarad haar dan terugdwing in slawerny ná alles wat gebeur het?