Droomman aan boord
Elsa Hamersma
Satyn
1
Die telefoon lui net toe Victoria klaar aangetrek is. Sy kyk eers op die skermpie, maar toe sy sien wie dit is, besluit sy dat sy tog tyd het om ’n paar woorde te praat.
“Ja, Belle?”
“Is dit my vriendin, die brainbox, wat praat?” vra Belle tergend.
“Einste,” lag Victoria.
“En wat dra jy na die cocktail toe?”
Victoria kyk in die spieël voor haar. Die swart rokkie is eenvoudig en pas haar soos ’n handskoen, maar dit skree nie “kyk vir my!” nie. Sy voel tevrede. “My swart rok.”
Daar is ’n lang sug in haar oor. “Ek moes dit geweet het. Te bang jy vestig dalk aandag op jouself. Al het jy die … die whatchamacallit ontwikkel.”
“Die finansiële produk, Belle. Dink daaraan as iets soos sjampoe wat ook ’n produk is. ’n Haarproduk, in laasgenoemde geval. En ek het dit nie alleen ontwikkel nie. Ons werk in ’n span.”
“Hmm. Van hare gepraat, wat het jy met daai bos hare van jou gemaak?”
“In ’n bolla in my nek gedraai. Ek moet professioneel lyk, so moenie jou asem mors om met my daaroor te baklei nie.”
“Nee, ek sal nie. Maar jy het darem seker weer van daai prettige ondergoedjies aan wat jy so graag koop?”
Victoria kyk selfbewus af asof sy die ragfyn swart onderklere sal kan sien. “Ja. Dit gee my bietjie selfvertroue, want ek weet iets wat die kliënte nie weet of kan sien nie.”
“En watter skoene het jy aan?”
“Die Manolo’s.” Daar is genoegdoening in haar stem. Dis vrek mooi skoene en die naam aan die binnekant van die skoen gee haar gemoed sommer ’n hupstootjie.
“Om op daardie naam te trap behoort enige vrou genoeg oemf en vertroue te gee om die VN toe te spreek, sou ek dink. Uit eie ondervinding kan ek natuurlik nie praat nie, want sulke skoene kan ek nie bekostig nie.”
“Dis nie jou styl nie, Belle,” troos Victoria, want sy weet Belle begeer die skoene met ’n seer hart. “Jy hou van bling en krale, hartjies en valle. En meer selfvertroue het jy nie nodig nie.”
“Oukei, oukei! En jy sê die baas het een van die backroom boys aangesê om die praatwerk te doen? Hy gaan jou nie op die verhoog sit om te praat nie?”
“Nee, Belle. Jy weet mos ek doen nie toesprake van verhoë af nie. En hy’s nie ’n backroom boy nie. Hy is een van ons spanlede.”
“Well, you go, girl! Dink aan my wat hier by die huis sit in my gown en slippers, en geniet dit.”
“Asof dit nou moontlik is,” brom sy. Met dié hoor sy die interkom se klokkie lui wat aandui dat haar rygeleentheid in die voorportaal is. “Ek moet gaan. Willie is hier,” sê sy vinnig. “Baai!” Sy druk die telefoon dood voordat sy die gehoorstuk teen die muur optel.
“Ek kom,” roep sy net, vat haar aandhandsakkie in haar hand en gooi ’n stola oor haar skouers. Eintlik is sy dik die duiwel in omdat haar direkte baas gereël het dat sy opgelaai moet word. En dít omdat hy bang is sy daag nie vir die bekendstelling op nie. Dit is ’n mosie van wantroue, het sy vir hom gesê, maar Eric Verhoef was onversetlik. “Ry nou maar dié keer saam met Willie. Omdat ek jou vra,” het hy vriendelik, maar ferm gesê. “Dit sal baie stres van jou én my afhaal.”
“Eric, jy sal my nie laat praat nie, nè?” het sy net weer seker gemaak.
“Nee. Ek het mos belowe. Ek is goed vertroud met my personeel se sterk en swak punte en ek weet jy is die een wat in die agterkamer die ster is. Net soos wat Rynard weer van die kollig hou. Openbare optredes is sy kos.”
“Dan belowe ek dat ek daar sal wees.”
“Mooi, maar Willie kom jou oplaai.”
“Wow! Jy lyk mooi,” is Willie se eerste woorde toe sy uit die hysbak klim.
“Dankie.”
“My motor is nou nie so grand soos joune nie,” beduie hy praat-praat tot in die straat waar ’n ou Mercedes geparkeer staan.
“Oud, maar lyk my goed opgepas.” In die namiddaglig kan sy sien dat die motor blink asof Willie dit pas gewas en spesiaal gepoleer het.
“Dit was nog my pa s’n,” lig hy haar in. “Ek het dit geërf toe hy laas jaar oorlede is.”
Hulle ry in relatiewe stilte tot by die hotel waar die bekendstelling van hulle nuwe finansiële produk gaan plaasvind. “Ek dink Die Welvaart-versneller gaan goed verkoop,” sê Willie wat met ’n wye draai geparkeer het. “Dis die soort ding wat gaan werk omdat die wisselkoers so opgeneuk is.”
“Ek hoop jy’s reg,” sê sy stram. Die versneller het maande se harde werk geverg. Aangesien dit haar breinkind is, is sy nogal senuweeagtig daaroor.
Die lokaal waar die skemerkelkpartytjie vir die bekendstelling gehou word, is feitlik reeds vol toe hulle instap. “Ken jy die finansiële adviseurs wat die baas genooi het?” vra Willie vir wie dié funksie die eerste van sy soort is.
“Die meeste. Hulle is almal baie goed opgelei en bekwaam, want hulle kliënte is oor die algemeen beter ingelig en kieskeuriger. Hierdie adviseurs is genooi omdat hulle kliënte in die hoër inkomstegroep val, en dit die groep is waarop ons produk gemik is. Die adviseurs moet vanaand oordeel of dit daardie kliënte se spesifieke portefeuljes sal pas.”
“Daar’s die baas,” sê Willie opgewonde. “Joe-hoe,” roep hy en toe Victoria opkyk, sien sy hoe Willie sy arm bokant haar kop in die lug waai. Sy is lus en skop hom op sy skeen omdat hy hulle aankoms met soveel fanfare aankondig. Ten minste die helfte van die mense wat reeds daar is, kyk belangstellend na haar. Of so voel dit vir haar.
“Hier’s julle,” sê hulle baas glimlaggend. “Dankie, Willie.” Hy draai na Victoria toe. “Ontspan, Victoria. Rynard is reg om die PowerPoint-aanbieding te doen en ek sal al die vrae, indien enige, behartig.”
Sy knik outomaties.
“Maar jy moet jou kant bring,” waarsku hy. “Die meeste van die groot banke se adviseurs en die pensioenfondsbestuurders is hier. Ons kan die aanvoorwerk doen, maar jy sal moet help om die produk te verkoop. Dit is per slot van rekening jou breinkind dié.”
In die verbygaan vat sy ’n glasie sjampanje by ’n kelner en teug daaraan. ’n Bietjie alkohol help wanneer sy op haar senuwees is en gee haar daardie ekstra koerasie wat sy nodig het. “It takes the edge off,” sê Belle altyd.
Willie vat haar aan haar elmboog en stuur haar nader aan die verhoog. Sy hou haar lyf eers stram, want hy is haar junior en nie haar date nie. Na ’n oomblik gee sy tog toe. Die man bedoel goed.
Die sjampanje help beslis, want sy is meer ontspanne toe die voorlegging begin. Rynard ken die produk net so goed soos sy en verduidelik in detail wat die voor- en nadele is. Sy is selfs beïndruk toe hy afsluit.
“Ons noem hierdie produk nie verniet Die Welvaart-versneller nie,” sê hy. “Dit is presies wat dit in die huidige mark sal wees.”
“En wat is die situasie as ons wel in dollar uitbetaal word, maar die wisselkoers het gunstig vir ons verander?” kom die eerste vraag uit die gehoor.
Eric neem die mikrofoon en antwoord dadelik glad en oortuigend.
“Strike one,” fluister Willie in Victoria se oor en amper proes sy van die lag. Die sjampanje het beslis haar senuwees doeltreffend gekalmeer.
“En hoe gaan skommelings in die mark dit affekteer?” vra ’n tweede persoon, en Eric antwoord gemaklik en gooi selfs ’n grappie in.
“Strike two,” fluister Willie.
“Kan juffrou Verbeek self vir ons verduidelik wat hierdie produk beter as ander soortgelyke produkte maak, aangesien sy eintlik die produkspesialis is?” vra ’n manstem uit die gehoor en Victoria gooi amper haar laaste druppels sjampanje uit