Rina Lamprecht

Piekfyn Afrikaans Graad 5 Leerderboek vir Huistaal


Скачать книгу

die sinne deur met die skuinsgedrukte woorde te begin. Byvoorbeeld: ’n Produksiespan sorg vir die advertensies. Gister het ’n produksiespan vir die advertensies gesorg./Môre sal ’n produksiespan vir die advertensies sorg.

      a)Die wetenskaplike sal navorsing doen.

      Gister …

      b)’n Koeldrankfabriek maak ’n nuwe geur koeldrank.

      Verlede week …

      c)Die agentskap het kunstenaars.

      Verlede jaar …

      d)Hulle skakel met die agentskap en gee al die inligting.

      Volgende week …

      e)Agentskappe ontwikkel advertensies.

      Gister … Môre …

      f)Hulle het kunstenaars en skrywers wat hard kan werk.

      Verlede Dinsdag …

      Volgende week …

      Skryftekens

      Die kappie word gebruik om vokale (e, o, u, i) in ’n oop lettergreep ’n lang gerekte klank te gee, byvoorbeeld: êrens; brûe; môre; sê; wîe.

      Deeltekens word gebruik

      •wanneer daar ’n opeenhoping van klinkers is en

      •om aan te dui waar ’n nuwe lettergreep begin. Dit maak uitspraak makliker, byvoorbeeld: beïnvloed; ekonomieë; afgeleë; geïgnoreer; reën; seën; spieël; vlieë; knieë; reëlings.

      12.In die volgende paragraaf is skryftekens soos die kappie en deelteken óf foutief gebruik óf uitgelaat. Redigeer die paragraaf deur die skryftekens op die korrekte plekke in te vul. Skryf die paragraaf in jou boek oor.

      Mense wil gedurig nuwe produkte hë. Maatskappye moet dus gedurig se wat hulle beplan. Kliente word beinvloed deur goeie advertensies. As die advertensies nie aandag trek nie, word die produkte geignoreer. Die sukses van ’n produk lë dus in die advertensie. Daar moet erens gesoek word na mense wat goeie advertensies kan skryf. More is daar ’n beter produk op die mark, dan is jou kanse verby. Bere alle idees wat goed klink, anders word hulle nerens gebruik nie.

      Aktiwiteit 3: Kenmerke van ’n storie

      •Lees en kyk

      •Taalstrukture en -konvensies

      In hierdie aktiwiteit gaan jy

      •’n storie selfstandig lees en daarop reageer

      •’n teks soeklees vir spesifieke besonderhede

      •begrip toon van fiksie en die hoofidee, vertellersgesigspunt, karakters en tyd bespreek

      •vergelykings verstaan, bespreek en gepas gebruik.

      Elemente van ’n verhaal

      Die hoofidee van ’n verhaal is die hoofgedagte wat in die verhaal na vore kom.

      Die karakters is die persone wat in die verhaal optree. In die onderstaande verhaal is dit die oupa en sy kleinseun, Thabo.

      Tyd speel ’n belangrike rol in hierdie verhaal. Hoewel die verhaal in die hede afspeel, verwys die oupa die hele tyd na die verlede.

      Die verteller in ’n verhaal is belangrik omdat dit bepaal met watter perspektief na ’n verhaal gekyk word:

      •’n Eerstepersoonsverteller (ek-verteller) is wanneer een van die karakters die verhaal vertel. Hy of sy beskryf die gebeure vanuit sy of haar oogpunt en die leser sien gebeure dus deur die bril van die verteller.

      •Die derdpersoonsverteller (alomteenwoordige verteller) is nie emosioneel betrokke by gebeure nie. Hy of sy vertel het wat hy of sy sien.

      Wanneer die verteller aan die woord is, word daar nooit aanhalingstekens gebruik nie. Aanhalingstekens word net gebruik wanneer een karakter iets vir ’n ander karakter sê (dialoog).

      Preleesaktiwiteite

      Voordat jy hierdie storie op jou eie deurlees, moet jy eers kyk watter afleidings jy uit die titel en die prente kan maak:

      •Wie sê gewoonlik: Dit was die goeie ou dae … ?

      •Wat bedoel mense gewoonlik wanneer hulle dit sê?

      •Kyk na die advertensie wat saam met die storie gaan – wat kan jy aflei uit die vorm en die pryse van die motors?

      Lees die storie aandagtig deur voordat jy die vrae beantwoord:

      Die goeie ou dae ...

      “Ja, ek onthou nog die dag toe ek my eerste taxi splinternuut gekoop het. Uit die boks!” vertel Oupa. “En hy het ba-a-aie gekos. ’n Hele R5 190,00!”

      “Wat?” roep Thabo uit. “Dit kon nie so min gewees het nie. Ek is seker Oupa jok vir my.”

      “Nee, liewe kind, dit wás soveel, maar onthou dat dit in 1978 was en my salaris was toe maar R200,00 p.m. Ek het lank gespaar om die deposito vir die bussie bymekaar te kry. En ek moes nog R82,00 p.m. afbetaal ook. Vier-en-twintig maande lank!”

      “Kyk, hier is ’n advertensie uit ’n koerant van daai jaar,” sê Oupa en haal dit uit ’n kissie onder sy bed.

      “Maar Oupa, hoekom kos ’n nuwe taxi dan vandag ’n hele R250 000,00?”

      “Dit, my seun, is wat inflasie aan produkte doen. Jy sien, dit werk so: Soos almal, het ek ook gevoel my salaris was te min en wou ek meer hê. My werkgewer gee toe vir my ’n verhoging van 10% en ek verdien R220,00 p.m. Maar hulle moes dit tog vir al 100 hulle werkers gee. Dus sou dit hulle 100 mense vermenigvuldig met R20,00 gekos het om almal te kan betaal. Maar waar het hulle sommer net so ’n ekstra R2 000,00 gekry?”

      “Ek weet!” sê Sipho. “Hulle het die prys van die brode wat hulle bak, met 10% opgeskuif.”

      “Dis reg. Die bakkery het pryse verhoog om die ekstra geld van die verbruikers te kry.”

      “Oupa, as almal hulle produkte se pryse gedurig verhoog, gaan dinge nie dan te duur word nie?”

      “Nee, solank dit met ’n vasgestelde persentasie verhoog word en almal dit nie oorskry nie, sal salarisse bybly.”

      Oupa verduidelik verder dat sy salaris van R2 400 p.j. net mooi 46.2% van die bussie se prys was en dat vandag se salaris van R9 500 p.m. oftewel R114 000,00 p.j. steeds omtrent 46% van die bussie se huidige R250 000 is.

      “Ja, en verder het ons as familie ’n hele maaltyd gehad vir R5,45!” lag Oupa en wys vir Thabo nog ’n ou advertensie.

       (Eugene Groenewaldt, ongepubliseer.)

      Gee terugvoering oor die storie wat jy gelees het

      1.Hoeveel karakters het hierdie verhaal? Noem hulle. (2)

      2.Hoe lank het Oupa aan sy taxi afbetaal? (1)

      3.Watter motorhandelaar se advertensie het Oupa vir Thabo gewys? (1)

      4.Waar het die motorhandelaar in die advertensie orals takke gehad? Noem twee plekke. (2)

      5.Wat is die hoofidee van hierdie verhaal? (1)

      6.Lees die voorlaaste paragraaf. Wie is hier aan die woord: die verteller of die oupa? Hoekom sê jy so? (2)

      7.Die tyd waarin hierdie verhaal afspeel, is die hede. Het die verlede enige rol hier te speel? Hoekom/hoekom nie? (1)

      8.Wat dink jy sal gebeur as winkels hulle pryse baie hoër opskuif as die prysverhogings wat hulle vir die ware moes betaal? (1)

      9.As jy kon kies, sou jy Oupa se tyd of vandag se tyd wou