bospaadjie volg. Ek wou haar nog vra presies waar die plek is, maar toe ek weer sien, was hulle al self weg om te gaan kyk.” Melody bly ’n rukkie stil en staar my afwagtend aan.
“Wat kyk jy so vir my?” vra ek benoud. Ek weet mos klaar hier kom ’n ding.
“Kom ons gaan kyk ook!”
“Wat? Nee, is jy mal?” vra ek fronsend.
“Bangbroek!”
Dít moes sy nie gesê het nie. Ek is seker die beste rugbyspeler in ons skool. Dapper Dawid, noem ons afrigter my altyd. Ek skrik vir geen speler nie, al is hy hoe groot.
Maar nou sal ek my dapperheid moet bewys en ’n spook gaan soek. Iets sê vir my ek is verniet bekommerd. Dalk is daar nie eens ’n waterval nie, wat nog te sê van ’n spook!
Na ’n lang gesukkel kry ek en Melody die toegegroeide paadjie.
“Dit kan net hy wees,” sê Melody opgewonde.
Ek kyk of daar ’n bordjie of iets is wat Melody se storie bevestig. Daar is niks.
“Hulle wil seker die mense daar weghou,” sê Melody.
“Oor die spook?” vra ek.
“Nee, die ongeluk!”
“Watse ongeluk? Het die meisie gesê daar was ’n ongeluk?”
“Nee.” Melody byt haar lip vas. “Ek het soort van aangeneem daar moes ’n ongeluk gewees het. Hoe anders word mens ’n spook? Eers is daar ’n ongeluk, jy gaan dood, en dan kom spook jy omdat jy te gou bokveld toe is. Draadjie geknip, emmer geskop!”
Ek klik net my tong. Melody kan tog so dramaties wees as sy wil. Ons volg die nou paadjie en moet plek-plek oor omgevalde bome klim. Een keer moet ons ook deur ’n stroompie water loop. Die bosse om ons begin nou ál hoe digter raak. Ek haal swaar asem. Dit is asof die spul plante al die suurstof om ons opsuig. Dit kan nie wees, hoor ek my wetenskapjuffrou se stem. Plante produseer suurstof, hulle verbruik dit nie.
Wat ook al dan, dink ek. Ek sukkel om hier asem te haal en klaar.
Skielik is daar ’n oopte voor ons. Asof ’n groot hand die bome en bosse wegdruk. En dan sien ons die waterval. Hoog. Helder water wat aftuimel teen skerp rotse en skuimend val in ’n diep poel. Mistige wolke styg op uit die poel.
“Dit lyk maar spokerig,” fluister Melody vir my.
Ek voel hoe sy haar lyf nader aan myne druk. Vir beskerming, weet ek. Wie is nou die bangbroek? wil ek haar vra. Maar ek weet sy sal my sommer ’n vet klap gee – bang of te nie.
“Wil jy teruggaan?” vra ek.
“Nee, ons is nou hier, kom ons kyk …”
Ons loop nader aan die poel. Die plante se blare streel oor ons bene soos dooie mense se hare. Ek vee oor my been. Gril.
Stadig loop ons om die poel. My voete sak effens weg in die modder. Ek lig my oë op na die plek waar die water oor die rand van die val tuimel. Ek wonder wat het hier gebeur …
Het ek dit net gedink? Of het ek dit hardop gesê?
“Ek wonder wat het hier gebeur …”
“Iemand het van daar bo af gespring,” sê ’n stem skielik agter my. Ek skrik my derms in ’n knoop. Melody ook. Agter ons staan die rooikopmeisie en haar blonde vriendin.
“O, dis julle!” sug Melody verlig. “Ek het nou so groot geskrik!”
“My naam is Christa, en dis Milla,” stel die rooikop hulle voor.
“Het julle ook die spook kom soek?” vra Milla misterieus.
Ons knik gelyk.
“Die beste plek om te sien, is glo van daar bo af.” Christa lig haar oë. Ek kyk ook weer op. Gladde rotse, plante en water – dis al wat daar is.
“Ons wou nou net opklim. Kom julle saam?” vra Milla.
“Ja,” besluit Melody sommer vir my.
Ek is die enigste seun tussen drie meisies. Ek kan nie dat hulle my nou in die skande steek nie. Ek tou maar agter hulle aan. Christa en Milla praat nie veel terwyl ons klim nie. Ek hoor hulle ook nie blaas soos ek en Melody nie. Hulle is seker fikser as ons twee.
Toe ons uiteindelik bo is, kyk ek af na die waterpoel. Van hier af lyk dit donker en onheilspellend. ’n Koue windjie waai. Ek vou my arms oor my bors. Verbeel ek my of het dit donkerder geword? Dalk is dit die onweerswolke wat weer begin saampak.
“Sien julle die rooi lelie wat daar op die wal groei?” vra Christa.
“Ja,” sê ek versigtig.
“Die rotse om die lelie was vol bloed. Die water ook. Rooi wolke bloed wat al groter en groter geword het.” Milla se stem raak byna weg in die wind wat nou al sterker waai.
Dit voel meteens of ons binne-in ’n dowwe wolk staan. Die poel los stadig op in die mistigheid.
“Dis waar hulle afgespring het,” sê ’n seunstem agter my.
Ek en Melody ruk albei om. My hart ruk in my bors, skop teen my ribbes. Die seun stap uit die mistigheid. Hy is ouer as ons. Die uitdrukking op sy gesig is spokerig, asof hy ’n hartseerdag onthou.
Die spook?
Ek kyk vreesbevange na Melody. Ek weet sommer sy dink dieselfde.
“Hulle het die twee meisies se liggame dáár onder gekry. Een daar by die rooi lelie, die ander in die middel van die poel. Sy het op haar maag gedryf. Haar blonde hare het om haar kop gedein.”
“Twee meisies?” frons Melody. “Een blond?”
“En die ander met vlamrooi hare, amper soos daardie lelie,” sê die seun.
Versigtig kyk ek en Melody oor ons skouers. Maar ek het amper geweet hulle sou nie meer daar wees nie. Christa en Milla.
“Dit was net ’n ongeluk. Hulle het van hier af gespring, maar hulle misgis met die poel se diepte. Dis vlakker as wat dit lyk, sien.”
Ek ril. Ek het ook gedink die water is baie diep.
Die seun se stem word dieper, donkerder. “Nou lok hulle gereeld vakansiegangers hierheen … om hulle ook af te stamp. Julle is gelukkig ek het julle betyds gekry. Ek het gesien hoe julle in die bospaadjie afdraai.”
Ek kyk verlig na Melody. Ons praat nie verder nie. En skielik is dit net die eggo van twee meisies se gille wat nog teen die water weerklink. Of verbeel ek my dit?
Woordverklarings
aangeneem (aanneem) – iets aanvaar sonder om seker te maak of dit reg is, byvoorbeeld jy neem aan die son kom elke oggend op
aftuimel – afval
dein – stadig op en af gaan soos kalm branders op die see of op ’n dam
klewerige (of klewerig) – iets wat aan jou vassit
misterieus – vol geheime
onheilspellend – dreigend of gevaarlik
produseer – maak
skande – iets wat jou skaam maak; dit laat jou sleg lyk voor ander mense
staar – kyk lank en met aandag
Gesels oor die volgende vrae in julle groepe:
1.Hoekom is Dawid en Melody verveeld? Hoekom gaan Dawid en Melody alleen af strand toe?
2.Wie of wat was die spook of spoke in die verhaal? Hoe weet julle dit?
3.As julle die storie weer lees, kom ’n mens vroeg al agter dat die skrywer leidrade gee oor wie die spoke is. Noem ’n paar.
4.Hoekom lok die meisies vakansiegangers na die waterval toe?