Deon Maas

Melk die heilige koeie


Скачать книгу

gemaak dat Afrikaners eerste geholpe raak.

      Kultuurorganisasies wat die Afrikaanse saak bevorder het, het staatsteun gekry en is ook deur die regering gebruik as platform om sy politieke idees te bevorder. Banke is gestig wat goedkoop lenings aan boere gegee het. Die taal is vereenselwig met apartheidspolitiek en terwyl Afrikaanssprekendes voordeel daaruit getrek het, het die taal internasionaal ’n vloekwoord geword.

      Met die koms van die nuwe Suid-Afrika het talle mense gedink die doodsklok lui vir Afrikaans.

      Presies die teenoorgestelde het gebeur. Afrikaans, as onbeskermde taal, het gegroei danksy sy vermoë om hom te herskep as ’n kommersiële entiteit. Sonder die tradisionele beskerming van kultuurorganisasies het Afrikaans ook vir die eerste keer verder ontwikkel. Bevry van alle beperkinge het die saadjie ontkiem wat in 1988 deur die Voëlvrybeweging geplant is.

      Vir die eerste keer is popkultuur toegelaat om ’n invloed te hê op die ontwikkeling van Afrikaans. Kunstenaars soos Fokofpolisiekar en Jack Parow het die taal vir ’n nuwe geslag Afrikaners herskep. Hulle het die taal by die politieke meesters weggegryp en dit weer cool gemaak om Afrikaans te wees.

      Die beste en suksesvolste Suid-Afrikaanse rolprente, sepies en boeke is in Afrikaans. Kunstefeeste soos die KKNK en die Woordfees hou Afrikaanse teater lewend. Daar was MK en daar is steeds Huisgenoot. Daar is ook 7de Laan en Deon Meyer. Die meeste advertensiegeld word steeds in Afrikaans bestee.

      En nou is Kaaps ook terug. En die HAT spog met woorde soos “gattas”, “gabba”, “laaitie” en “sharp”. Die taal het beslis gevorder – van “dis ons erns” tot “kyk hoe lyk ons nou”!

      2 Kunstefeeste

      Een van die propagandawapens wat die Nasionale Party van ouds gebruik het om die volk te oortuig dat ons niks met Afrika te doen het nie maar dat ons rêrig Europees is, was die kunste.

      Toe die Natte in 1948 oorgeneem het, het hulle gou seker gemaak dat die Afrika-invloede in ons kunste onderdruk word. Nico Carstens se multikulturele “Zambezi”, wat ’n internasionale treffer was, het nie juis in die plaaslike mark aandag gekry nie. Dit was eerder Eurosentriese komponiste soos Danie Bosman wat die ondersteuning van die regering gekry het. Ongelukkig het Danie toe selfmoord gepleeg. So, dit was die einde van daai plan.

      Onder dr. Anton Hartman, oor wie se seksualiteit daar druk bespiegel is, het die SAUK beheer oor alle radiostasies gehad en die musieksmaak van die volk beheer.

      Dolly Parton en Jim Reeves was gewild in die swart mark, want Radio Bantu het dit gespeel.

      Om seker te maak dat veral die Afrikaanse luisteraar voortdurend blootgestel word aan sy Europese invloede, is plaaslike liedjieskrywers soos die Briels uitgeskuif en gewilde oorsese liedjies (veral van Europa af) ingevoer, Afrikaanse lirieke gegee en dan deur plaaslike sangers opgeneem en gewild gemaak.

      As jy op ou plate gaan kyk na wie die liedjies geskryf het, sal daar altyd twee vanne wees. Die een sal gewoonlik Afrikaans wees. Dis die ou wat die lirieke vertaal het. Die ander sal ’n eksotiese Europese naam wees. Dis die persoon wat die musiek van die oorspronklike treffer geskryf het.

      Omtrent elke groot liedjie uit die sestiger- en sewentigerjare is ’n vertaalde liedjie wat deur die groot name van die dag soos Min Shaw opgeneem is. Anton Goosen en Koos du Plessis was twee van die min uitsonderings uit daai tyd.

      Die beheer van die kunste is verder versterk deur die stig van kunsterade. Elke provinsie het een gehad: Kruik, Truk en dies meer. Ná 1994 het die ANC-regering besluit om nie meer hierdie rade te ondersteun nie. Hoewel die rade veeltalig was, was die algemene gevoel dat die afskaffing van die rade veral die bevordering van Afrikaans negatief sou beïnvloed.

      Dit is toe Afrikaanse kunstefeeste gebore is. Geskep met geld van Naspers om die Afrikaanse kultuur te stimuleer en seker te maak dat die taal kommersieel genoeg is sodat daar ’n toekomstige mark sou wees.

      Daar is in die vroeë negentigerjare baie mooi na die nasionale kunstefees in Grahamstad gekyk wat toe reeds vyftien jaar oud was.

      Deur dié resep met die kunsterade van ouds en ’n kerkbasaar te meng, is daar toe vorendag gekom met die resep wat vandag ons kunstefeeste is.

      Daar is min plekke waar jy die diversiteit van onse volkie so mooi kan sien as by die kunstefeeste. Wit Afrikaners met hulle Fortuners wat gaan vertonings kyk waar kaartjies R100 plus kos. Die kaartjies word geskeur deur minder ryk Afrikaners wat R100 ’n dag verdien vir die voorreg om dit te doen. Daarna tel bruin Afrikaners die gemors op wat deur die ryk mense agtergelaat word. Teen minder as R100 per skof. (Net om regverdig te wees: By Aardklop en Inniebos is dit nie bruin Afrikaners wat die gemors optel nie, dis swart mense wat die meeste van die tyd nie Afrikaans praat nie.)

      Oor die afgelope paar jaar, met die ontluiking van ’n bruin middelklas en ’n sterk poging van die organiseerders om die feeste meer “inklusief” te maak (hulle woord, nie myne nie), het die feesgangers effens verander, maar dis oor die algemeen steeds ’n wit Christenfees.

      Soos kunstenaars soos Miriam Makeba by die KKNK in 1998 en MaJozi by Inniebos in 2016 ervaar het, is baie Afrikaners nog nie reg om die deur oop te maak vir mense wat nie soos hulle lyk en praat nie.

      Boere wat speel, is ’n interessante toeskouersport. Elke fees het sy eie karakter.

      Die Woordfees is vir ernstige Kapenaars wat netjies praat en hulself as intellektueel verhewe sien bo die res van die gepeupel. Die gepeupel sluit natuurlik ander tale en rasse ook in. Die Woordfees is vir mense wat lees en na musiek luister waarop jy nie kan dans nie.

      Daar is ook ernstige gesprekke waar Dan Roodt opdaag met lyfwagte omdat hy bang is vir die mense wat nie kaalvoet oor die Drakenberge getrek het nie. Of dalk wou hy maar net afshow dat hy met sy Euro-playboy-hare en Franse serpe ook kan uithang met groot rowwe manne. Dieselfde rowwe manne het natuurlik later teen hom gedraai nadat iemand hulle aandag gevestig het op die boeke wat die dissident Roodt in die jare tagtig geskryf het, maar dis weer ’n storie vir ’n ander dag, daai …

      So, net om op te som en seker te maak dat ons almal op dieselfde bladsy is:

      Woordfees = snobs. Erger nog, Kaapse snobs. Nog erger, Kaapse snobs wat van wyn hou en groot Afrikaanse woorde gebruik.

      Jy sal spoedig opmerk dat, soos die feeste noordwaarts neig, daar ’n sigbare verandering is in die soort vermaak en mense wat dit bywoon. Of dit te doen het met die feit dat Nelspruit se mense minder gekunsteld is as die mense in Stellenbosch, is nie my plek om te oordeel nie. Die leser moet maar self besluit en daarvolgens ’n oordeel vel.

      Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (of “Kakka en Kie” soos Breyten dit op ’n keer genoem het) se inhoud wys van die begin af dat daar nie ’n universiteit op die dorp is nie.

      Hierdie fees is redelik skisofrenies in sy aanslag. Dit kombineer regte zef-klugte soos My pa se ma se boetie se tannie se moer met die ernstige teater van gesalfde kunsprofete soos Christiaan Olwagen. Die klugte kom van die noorde, Christiaan van die suide. Ons weet baie gou waar die kern van die ernstige Afrikaner lê.

      Wat die KKNK so uniek maak, is dat Oudtshoorn in die middel van nêrens is. Die plaaslike ANC-regering is al jare gelede uitgestem, maar weier om die munisipale kantore te ontruim, hofbevel ofte not. Die dorp het sy bestaan te danke aan die bloeiende volstruisbedryf uit die dae toe die Charleston nog gewild was. So, daar’s ’n klomp ryk (grotendeels wit) boere wat die reëls maak en dan die massa wat hulle daarin verlustig om hulle te ignoreer.

      Oudtshoorn het nie eens ’n lughawe nie. PW Botha het dit van hulle gesteel en George toe geskuif nadat hy vir hom ’n huis daar gekoop het. Om daar uit te kom vat ’n dag. Behalwe as jy Clive Smith met sy 1400-Nissanbakkie is, dan vat dit twee dae. Of dalk meer.

      As Oudtshoorn ’n mens was, sou dit as bipolêr geklassifiseer word.

      Die fees lok groot groepe ouer vroue wie se mans by die huis bly. Hierdie vroue jag in troppe en het duidelik alle reëls en moraliteit in die kombuis op die plaas gelos. Dis asof hulle jare lank in ’n hok gehou is en alles ontneem is en nou gedra hulle hulle soos kleindorpse eerstejaars