Elsa Winckler

Ultrasatyn 2


Скачать книгу

      

      Ultrasatyn 2

      Ridderspoor en rose – Elsa Winckler

      Alfaman in Armani – Amelia Strydom

      Ultrasatyn

Ridderspoor en rose

      1

      Vandag is ’n dag vir lelies. En Jack Johnson. Corinne skuif haar dun, goue armbande op teen haar arm en druk die Convallaria majalis se stingel spierwit klokkies tussen die loof wat sy reeds in die groot glaspot gerangskik het. Die terugkeer van geluk – dis wat die lelie-der-dale sê.

      “Môre, môre!” Ella, Corinne se winkelassistent, kom in een van die gangetjies tussen die hoë rakke vol potte en blomme afgestap. “Ons sal ’n klokkie vir die deur moet kry. Jy is so ingedagte dat iemand op jou kan afsluip as daar nie ’n geklingel of iets is nie.”

      “Haai, ja, nie ’n slegte idee nie. Ek het jou nie eens hoor inkom nie.”

      Ella kantel haar kop en beduie na die ruiker. “Dis mooi. Is dit vir Rita?”

      Corinne glimlag. Ella weet al dat Rita elke Vrydag vir haarself ’n bos blomme by Corinne se winkel kom koop. Dit moet by haar bui van die dag pas, maar daar moet altyd ’n takkie roosmaryn in wees – vir die onthou.

      “Ja, maar vandag wil ek dit vir haar as ’n geskenk gee, om dankie te sê vir al haar ondersteuning deur die jare.” Rita word sestig, haar man is vroeër vanjaar dood, haar kinders almal oor die water. Sy verdien ’n bos lelies vanoggend. Lelies vir geluk.

      Ella knik. “Dis gaaf van jou.”

      Corinne bekyk die blompot van alle kante terwyl Jack agter haar sing oor die liefde.

      Nog ’n rooi Inkalelie is nodig. Die Alstroemeria is simbolies van rykdom, vooruitgang en voorspoed – alles wat sy vir Rita toewens.

      Ella hou haar skewekop dop. “So, ek hoor dis ’n Jack Johnson-dag.”

      “Dis ’n pragtige dag. Het jy gesien die jakarandas begin blom? Ek is mal oor dié tyd van die jaar op Stellenbosch.” Corinne druk versigtig ’n paar stele bloedrooi rose in haar rangskikking. Rose is vir liefde en Rita verdien baie liefde.

      Ella stap deur na die stoorkamer wat sommer ook as kombuisie aan die agterkant van die winkel dien. “Hm, die dag is mooi, ja, en die jakarandas ook, maar as Jack sing, beteken dit net een ding. Jy vergeet, ek is al langer as ’n jaar jou assistent,” roep sy oor haar skouer.

      Corinne staan terug en bekyk die rangskikking voor haar. Sy moet nog die takkie roosmaryn byvoeg, maar daar kort iets. Sy kyk rond en haar blik val op die emmer vol primula. Opgewonde druk sy ’n takkie in die bos. Dit sal Rita herinner hoe belangrik sy in hul lewe is. Tevrede draai sy die blompot in die rondte. Sy kan nie wag om Rita se gesig te sien nie.

      “Ek het die ketel aangesit,” onderbreek Ella haar gedagtes. “Ek sien jy het nog nie eens vir jou koffie gemaak nie.” Sy trek aan Corinne se arm. “Die stomme Tobie het toe ook nie uitgewerk nie?”

      Corinne sug. “Hy’s nice, oulik, ordentlik –”

      “Ja … en vervelig, heeltemal te vervelig vir jou,” knip Ella haar kort.

      “Ek wou sê hy’s te ernstig vir my. Hy’s so nice …”

      “Die lewe is heeltemal te kort vir net nice. ’n Mens het ’n man nodig wat jou sal laat dink aan swart satynlakens en soel nagte, een wat jou laat swymel. Lank, sexy, gespierd – dís die ware jakob.”

      Corinne lag terwyl sy agtertoe na die kombuisie stap. “En dan? Wat gebeur dan?” As sy nie nou koffie kry nie, val sy om.

      “Dan wag jy vir die sparks om hul werk te doen. En wie weet, as die vonke reg is, sal jy dalk van plan verander en dit selfs oorweeg om dalk te trou,” roep Ella agter haar aan.

      “Wel, ek is amper dertig en kan in alle eerlikheid sê geen man – en onthou, ek gaan baie uit – het nog my hart laat bons, my hande klam gemaak, my mond laat uitdroog, sterre laat verskiet of enigiets bowêrelds laat gebeur nie.”

      “Uhm, Corinne –”

      O nee, Ella gaan haar nie nou onderbreek nie. Sy het ’n punt om te bewys. “Liefdesverhale en flieks wil ons laat glo daar is ’n soulmate vir ons elkeen daar buite, maar my stomme ma het pas van haar sesde kamstige ‘soulmate’ ontslae geraak. Ek kon dit natuurlik lankal vir haar gesê het en haar op die koop toe baie hartseer gespaar het.”

      Corinne tel die bekers op en stap uit die kombuisie terug na die toonbank, waar sy staan en blomme insteek. Haar oë bly op die koffiebekers, sy wil nie hier mors nie. “Trou is nie vir ’n vrye gees soos ek nie. En die man wat my liggies aanskakel, moet nog …”

      “Ja? Dit wil ek baie graag hoor,” sê ’n diep manstem van iewers voor haar net toe sy by die toonbank aankom.

      Sy kyk vinnig op, die verdekselse koffie mors oor haar vingers. Met ’n gedempte uitroep sit sy die bekers vinnig op die toonbank neer en vou haar hande oor mekaar. Haar vingers brand soos vuur.

      Sy knip haar oë, maar daar staan hulle nog: vyf mans. Vyf dodelik aantreklike mans. Vyf baie lang, gespierde, sexy mans. In haar blommewinkel. Almal het ligte rooi hare met blou oë wat ’n mens herinner aan landerye boordensvol laventel. Seker broers, of dan ten minste neefs. Die testosteroonvlakke in die winkel skiet die hoogte in, al die haartjies op haar arms rys en die aarde kantel ’n paar oomblikke gevaarlik om haar.

      Vier adonisse glimlag, vier paar kuiltjies verskyn en verdwyn, maar een staan so ’n ent agter die ander, hande in die broeksakke. Hoewel hy ook na haar kyk, is daar geen teken van ’n glimlag op sy gesig nie.

      Sy kyk vinnig na Ella wat grootoog na haar terugstaar. Kon sy nie ’n beter poging aangewend het om ’n mens te waarsku dat daar iemand – vyf sexy iemande – in die winkel is nie? Maar sies tog, Ella lyk kompleet asof sy met ’n voorhamer teen die kop geslaan is. Dis min of meer soos Corinne ook voel, maar dis háár winkel. Hierdie manne is moontlike kliënte, maak nie saak hoe aantreklik hulle is nie. Sy sal iets moet probeer sê.

      “Menere,” kry sy uiteindelik met ’n swaar tong uit, “kan ek help?”

      Langs haar kry Ella ook uiteindelik lewe en beweeg nader. Sy gooi haar lang, donker hare oor haar skouer. “Ons het die mooiste blomme in die hele Stellenbosch, julle is op die regte plek,” koer sy en fladder haar wimpers.

      Vier paar blou oë verskuif na Ella, maar die een paar brand op Corinne. O, liewe aarde. Haar knieë wil-wil knak, haar hart slaan bollemakiesie, haar handpalms word klam, haar asem jaag asof sy kilometers ver gedraf het.

      “Ek … my hande …” beduie sy en draai in haar spore om, terug na die kombuisie. Sy moet net eers haar deurmekaar geskommelde breinselle regkry voor sy besigheid met enigiemand kan doen, wat nog te sê vyf sexy mans wat haar winkel toestaan.

      Sy draai die kraan oop en druk haar brandende vingers onder die koue lopende water in. Dalk help dit haar hele lyf om ook af te koel. Wat op aarde gaan met haar aan? Dis nie asof sy nog nooit ’n aantreklike man gesien het nie. En daar is nie net een van die spesie in haar blommewinkel nie, maar vyf. Almal is ewe aanskoulik, hoekom sal net een van hulle …?

      “Laat ek sien,” sê ’n stem en haar kop ruk in daardie rigting van die stem.

      Dis hy. Die een sonder ’n glimlag wat haar soos ’n outydse heldin voor ’n ridder wil laat swymel. Dit was mos Ella se woord. Nie dat sy weet presies hoe ’n mens swymel nie, maar sy begin ’n idee kry. Vlinders op die maag, knakkende knieë, droë mond – om net ’n paar dinge te noem. Swart satynlakens en soel nagte – Ella se beskrywing van netnou flits deur haar wankelende gedagtes. Help. My. Tog. Asseblief.

      Haar asem ruk in en saam daarmee asem sy hom in – ’n mengsel van hout, woud, kruisement en man. Haar knieë dreig weer om te knak en sy loer vinnig af na haar hande.

      “Ek is oukei,” keer sy. Hoekom op aarde klink sy so hees?

      “Laat ek sien,” sê hy weer en vat haar hande onder die lopende kraan uit.

      Willoos staar sy na sy bruingebrande hande wat haar nat vingers een vir