blomakkers, en ’n geelgewaste messelkalkkerkie met ’n vierkantige Normandiese toring. Hier by Welford word die Avon ’n mooi, breë rivier. En aan die ander kant van die lang ou brug is daar ’n herberg.
“Tee?”
“Ja, altyd!” lag sy en hulle klim uit. Die herberg word genoem The Four Alls. Hulle sien spoedig waarom. Net onder die stoepafdakkie hang daar ’n naambordjie met vier verbleikte figuurtjies daarop en onder hulle staan geskrywe:
The king who rules over all
The parson who prays for all
The soldier who fights for all
The farmer who pays for all . . .
Hulle lag lekker en wil net instap toe Sylvia sê:
“Daar kort nog een . . .”
“O . . .?”
“Ja – The doctor who mends all,” sê sy en lag op na hom, sodat die kuiltjie in haar mondhoek dans.
Dai hou haar aan haar arm, trek haar tot teenaan hom en maak asof hy nie voel hoe sy verstyf nie. “En kán hy alles regmaak?”
Sy swaai behendig los en trek hom aan sy hand die duister teeplekkie binne.
“Dit hang alles af . . .” meen sy kripties. “Maar nóú is ek regtig baie dors!”
Op daardie noot begin hul lewe saam. Sy is beleef, vriendelik, selfs heeltemal gaaf, maar dis al. Tuis is sy die ideale eggenote vir ’n besige dokter. Sy luister met belangstelling na wat sy reeds saam met hom in die kliniek beleef het, en lewer stimulerende kommentaar. Daaroor is Dai werklik dankbaar, want dit beteken tog veel. Sy is bedagsaam, sy is korrek. Binne die eerste week is Dai verplig om vier besoekende dokters uit Amsterdam en Utrecht oor te nooi vir ete. Die Mounthallow-kliniek sal graag van hul dienste wil gebruik maak in die toekoms, en Dai druk dit op Sylvia se hart dat die onthaaltjie iets spesiaals moet wees. Hugo en Sanet word ook genooi. Dis ’n klinkende sukses. Sylvia vergas hulle op ’n deftige ete uit die boonste rakke, en die allerkeurigste eetservies. Op Hugo se aandrang, sing Dai vir hulle en Sylvia begelei hom. Dit word nie net ’n suksesvolle aand nie, maar ook ’n gemoedelike samesyn, en só word goeie betrekkinge gehandhaaf. Min mense, van watter geslag ook al, is bestand teen die bekoring van ’n oënskynlik gelukkige paartjie . . . veral as hulle soos Dai en Sylvia lyk en die man, wanneer hy maar ’n kansie kry, vlugtig in ’n gesprek, of langs die klavier, aan haar blink hare raak . . .
Maar by die kliniek is sy die onverstoorbare suster Saunders. Al wat die situasie enigsins onderskei van voorheen, is dat sy nou as suster Deetlefs aangespreek word. Hul huwelik het natuurlik grootskaalse reaksie uitgelok. Die verpleegsters was uit hulle velle van opgewondenheid, die susters was uitgelate-vriendelik, en selfs matrone Matthewson het vir dae lank almal met ’n milde moederlikheid behandel. Daar was van die langtermynpasiënte wat kalmeerpilletjies moes kry. Die ou tantetjie uit die Vrystaat is nog steeds in die kliniek, en eendag neem sy Sylvia vertroulik aan die hand en fluister:
“Ag hartjie, ek is só bly! Hy het juis vir my so hartgebroke gelyk daar op die vliegtuig! Die mans kry tog so maklik seer, veral sulke mooies soos hy! Maar nou het jy alles kom regmaak, nè?”
“O ja?” sê Sylvia met ’n geforseerde laggie en stryk oor die tannie se beddeken om dit glad te kry – ’n beweginkie oorgehou uit haar leerlingjare.
“Ja, hartjie! En laat ek nou vir jou sê, jy moenie terugsit nie! Bly op jou tone vir ’n man soos hy!”
Toe Sylvia haar by Dai en matrone Matthewson in haar kantoor voeg, is sy stroef, die mooi mond in ’n ergerlike plooi. Dai sit sy tee neer en kyk verbaas na haar. Sy ignoreer hom geheel en al, en wend haar na matrone. Sy, wat Sylvia is, sal die siek suster Dentmore se nagdiens vir die volgende twee maande doen, sê sy. Sy gee nie in die minste om nie. Dit sal natuurlik beteken dat mev. Thatcher ’n ruk lank alleen sal moet regkom; miskien kan ’n stafverpleegster haar uithelp . . . of hoe? Matrone se mond gaan oop in dankbare erkentlikheid, want dit was ’n groot probleem – en Dai voel hoe ’n ysige, doelgerigte woede in hom opstaan.
“Ek verbied dit ten strengste!” blaf hy sonder omhaal van woorde, neem Sylvia aan die arm en sê oor sy skouer: “Ek wil met suster Deetlefs praat!” Matrone se begrypende knik gaan by hulle verby. Hy stap so vinnig die gang af met Sylvia aan die arm dat sy moet trippel om by te bly.
“Los my arm!” sis sy nou behoorlik omgekrap. “Matrone sien ons, sy . . .” Sy loer verleë af in die gang. “. . . Sy kýk vir ons!”
“Mog sy ’n karkatjie kry!” sê Dai hard op Afrikaans, maar los eers haar arm toe hulle by die spreekkamergang indraai.
Hulle loop hulle feitlik trompop vas in dokter Radcliffe, ’n lang donker man, wat Sylvia met onverbloemde belangstelling aankyk.
“Hello, Sylvie . . .!” sê hy met ’n takserende laggie.
Voordat Sylvia ’n woord kan uiter, sê Dai bruusk:
“Ontmoet my vrou, Radcliffe!”
“Wát?”
Dis asof Sylvia uit ’n lang stilte ontwaak: sy staan ’n raps nader aan Dai en lig haar ken.
“Ons is twee weke gelede getroud, dokter Radcliffe . . .”
“’n Bietjie skielik, is dit nie . . .? sê-vra Radcliffe liefies, maar Dai sien dat hy witterig om die kiewe raak.
“Ja wat,” sê hy gemaklik, en slaan sy arm om Sylvia se smal skouers. “Dit was nie vir mý nodig om haar aan ’n lyntjie te hou nie!”
Sylvia snak effens na haar asem, en Dai het die onheilige satisfaksie om te sien hoe die man se gesig betrokke raak, hoe ’n pers woedegloed uit sy nek klim.
“Maar jy wou my seker gespreek het?” vra Dai druppend. “Kom, kom stap deur na my spreekkamer . . .” Byna onmiddellik slaan hy oor na ’n professionele toon: “Ek wil baie graag daardie verslag oor die Brentham-kind met jou bespreek!”
Henry Radcliffe kan nie anders nie as om agter Dai se breë rug aan te loop. Sylvia het haar gedurende hierdie onmoontlike gesprek uit die voete gemaak. En toe Dai haar ’n uur of wat later soek, deel ’n verpleegstertjie hom mee dat suster Deetlefs reeds weg is huis toe.
Toe Dai by die huis aanland en deur die vierkant aanstap na die sydeur, weet hy so seker as wat hy leef dat iets gebeur het. Byna al die ligte in die spitsdakhuisie brand. En toe hy instap, hoor hy Martine se helder lag in die sitkamer . . .
6
Martine is hier. In Londen. In sý huis. In sý sitkamer!
Dai gaan staan ontredderd in die paadjie van die vierkant, en sien hoe een van die vroue in die sitkamer se skaduwee voor die venster verbybeweeg. Dan nog een en nog een, soos hulle opstaan om hul koffiekoppies neer te sit, of op te tel. Anne en Martine . . . en Sylvia. En hulle gesels. Hy kan die deining en daling van hul stemme deur die dun glasvensters hoor. En Martine se lag, haar lag wat sy gebruik om oomblikke te oorbrug, om ’n bitterskerp woord suursoet te laat klink.
Hy het gewéét hulle sou kom. Sy ma en Martine. Toe hy die kabelgram die Maandag ná hul troue aan sy ma gestuur het, het hy tog geweet sy sou kom kyk of daar nie iets te redde is nie. Sy het immers nog altyd aan die teenvoorstel geglo. Toe klein Dai met sy vlasblonde koppie ’n teddiebeertjie wou hê, het sy hom ’n aitsarige seunjiepop gebring, met blink, swart haartjies en star, blou ogies. Glad, glad nie soos die vuilbruin teddie met die knopiesogies wat hy op ’n Kersboomparty in ’n ander kind se arms gesien het nie. Hy het die pop gevat en sy ma toegelaat om klaar om hom te kloek, gewag tot sy uit die kamer is, en die pop onder die bed ingesteek. Hy het nooit daarmee gespeel nie. En toe sy ma ontsteld probeer vis waarom hy nie van die pop hou nie, het hy bedremmeld geantwoord:
“Dis te mooi om mee te speel . . .”
Jare later wou hy ’n resiesfiets hê om mee skool toe te ry – ’n rietskraal geraamte van ’n ryding wat hy op een vinger kon balanseer. Toe hy aan sy ouers sê dat hy