Ettie Bierman

Ettie Bierman Keur 12


Скачать книгу

verby en laat ’n ry spoortjies in die sand agter, maar sy sien dit nie. ’n Duif se gekoer klink in die stilte op sonder dat Mynie dit hoor. Sy krap ’n paar strepies in die sand, kruis hulle met ’n oneweredige patroon en vee dan alles weer uit. Skielik gooi sy die stokkie eenkant en kyk op na Conrad.

      “Ek het genoeg geld.”

      “Mynie, my liefste …” Sy stem is teer, maar hy neem nie haar hand nie en die skewe glimlaggie om sy mond is hartseer. “Ek waardeer jou aanbod. Ek is nie ondankbaar nie. Maar weet jy wat diamantverloofringe en oorsese vakansies kos?”

      “Min of meer.”

      “Jy is die allerliefste nooientjie, maar ek is jammer om te sê ook naïef en ooroptimisties. Dink jy dertig rand in ’n poskantoor-spaarbankboekie sal ons ver bring?”

      Mynie lyk verbaas. “Jy weet mos dis nie net dertig rand nie.”

      “Hoeveel is dit? Een-en-dertig rand? Jammer, my skat, maar dis nog steeds nie genoeg nie. Lewenskoste het gestyg.”

      “Conrad, ek het mos vir jou geskryf dat my ouers my goed nagelaat het. In jou tweede brief het jy gevra hoeveel my erfporsie bedra het en ek het jou gesê hoeveel dit was. Ek het bygevoeg dat daar nog baie daarvan oor is, waarmee ek eendag vir my ’n droom wil koop. Onthou jy nie?”

      Conrad se gesig is ’n studie van skok en ongeloof.

      “Nee, ek onthou nie. Ek onthou ook glad nie dat ek so onmanierlik was om na jou privaat sake uit te vra nie. Ek herinner my wel dat jy geskryf het van jou ideaal om eendag op te hou met skoolhou en voltyds te skilder, maar ek het gedink dis ’n droom ver in die verskiet, ’n ideaal wat nie gou verwesenlik sal word nie. Mynie, ek is seker jy het nie vir my geskryf dat jy ’n skatryk jong meisie is nie.”

      “Het jy nie my briewe so oor en oor gelees soos ek joune gelees het nie?”

      Dit lyk eers of Conrad vir haar wil jok, dan grinnik hy verleë.

      “Nee, ek het nie.” Toe Mynie seergemaak lyk, voeg hy gou by: “Dis nie omdat jou briewe vervelig was nie. Dis net … Ag, ek is sommer net nie ’n ou vir briewe lees nie. Ek verkies die produk in lewende lywe. Ek het jou briewe verslind, maar dit was lekkerder om te wonder hoe jy lyk en of ek jou ooit sal ontmoet. Dié het ek net so oor en oor bedink as wat jy my briewe gelees het.”

      “Kon jy onthou dat ek geskryf het ek weeg net ses-en-vyftig kilogram?”

      Conrad lyk baie skaam. Hy bly stil, dog Mynie weet wat sy antwoord sou gewees het.

      “Dus was dit nie eens nodig om daarna vir jou te sê dat ek gejok het en in werklikheid swaarder weeg nie?”

      “Ek is jammer, Mynie. Ek is wreed en onbedagsaam. Pleks dat ek oor jou briewe gejok het. Maar ek was nog nooit ’n goeie leuenaar nie. Ek bloos, stamel en stotter altyd en almal kan met ’n stok voel ek jok. Ek is opreg jammer dat ek jou gevoelens seergemaak het, veral omdat jy seker baie moeite met jou briewe gedoen het. Dit was gemeen van my. Jy het dit nie verdien nie. Miskien is dit ook maar goed dat ons nie meer gaan trou nie. Jy verdien ’n beter man as ek.”

      “Wie sê ons gaan nie meer trou nie?”

      “Skatlief, ek waardeer jou aanbod om daardie geld vir my te leen, maar ek kan dit nie aanvaar nie. Ek sou nie eens jou dertig rand in die posspaarbank geleen het nie. Ek is te trots om ooit by ’n dame geld te leen.”

      “Ek is nie ’n dame nie. Ek is jou aanstaande vrou.”

      Conrad glimlag, maar hy skud nog steeds sy kop.

      “Jou geld is seker ook op vaste belegging. Al sou ek ingestem het, sou jy dit nie vir my kon leen nie.”

      “Ek weet nie veel van finansiële transaksies, van beleggings en vaste deposito’s en sulke dinge af nie. Ek het mos vir jou geskryf ek het my geld by ’n bougenootskap gedeponeer. Ek kan dit enige tyd trek.”

      “Jou dom meisiekind. Besef jy hoeveel rente jy verloor?”

      “Ek het mos gesê ek weet nie veel van finansies af nie. Ek het ook nie ’n pa of ’n broer of iemand wat my raad kan gee nie.”

      “Jy het tog seker ’n goeie vriend gehad wat jou kon aanraai om jou geld te belê waar jy meer rente sou kry?”

      Dit was ’n klip wat Conrad in die bos gegooi het. Hy wou uitvind of daar nie dalk ’n kêrel was nie. ’n Kêrel wat dalk nog belangstel en dalk probleme kan veroorsaak. Dog daar kom niks insiggewend uit die bos nie.

      “Daar was eenmaal ’n ou, ja, maar hy het gesê hy stel nie in my geld belang nie. Hy het gesê hy sal sy vrou eendag self onderhou. Intussen is sy nooi se geld hare om mee te maak wat sy wil.”

      “Hierdie ou … Was jy lief vir hom?”

      Mynie haal haar skouers op. Sy weet nie wat om te antwoord nie. Wat was – en is – haar gevoel vir Heinz? Sy het self nie sekerheid nie en sy verkies om die onderwerp te verander.

      “So, ek kan daardie geld môremiddag gaan trek as ek wil.”

      “Mynie, ek het nog nooit in my lewe geld by ’n meisie geleen nie …”

      “Daar is altyd ’n eerste keer, en ek het mos gesê ek is nie ’n vreemdeling nie. Ons sal seker in gemeenskap van goedere trou. Dan is alles wat ek besit in elk geval joune.”

      “En van al my besittings is die helfte joune. Ek sal net vir jou jou eie motor koop, Mynie. Die ou Mercedes is te lomp vir ’n fyn meisietjie soos jy om te bestuur. En ek sal natuurlik nuwe meubels koop. Jy sal nie daarvan hou om Liza se meubels te sien nie. As jy voel die huis het dalk ook te veel herinneringe, sal ek ’n ander een koop. As my dekselse geld net nie op lang termyn belê was nie … Ek kan myself skop dat ek so onnosel was.”

      “Jy het nie geweet jy gaan binnekort trouplanne kry nie. Sal ons môremiddag daardie geld gaan trek en … en vir my ’n verloofring koop?”

      Daar is ’n tinteling in die blou oë, dog Conrad se gesig bly ongelukkig.

      “’n Verloofring waarvoor jy self moet betaal?”

      “As dit jou beter sal laat voel, sal ek jou rente laat betaal op die geld wat ek jou leen. Ek sal jou met ’n volle vier en ’n half persent rente ruk. Sal dit jou troos, Conrad?”

      “Tien persent.”

      “Goed, vyf persent.”

      “Nee, tien persent, anders leen ek dit nie.”

      “Ons is nog nie eens getroud nie, en reeds boelie jy my!”

      “As jy parmantig is, gaan ons nie daardie diamantring uitsoek nie!”

      Mynie lag. Sy skrik nie vir Conrad se speelse dreigement nie. Die wêreld om haar is skielik weer blink en die toekoms rooskleurig. Die voorval met die arme kriek bly egter nog ’n bietjie krap en sy besluit dis beter om die lug te suiwer.

      “Conrad, my skat, hoe kon jy netnou so wreed gewees het? Daardie arme kriek het jou mos niks gedoen nie …”

      “Watter kriek?”

      “Die een wat jy … wat jy in die vuur gegooi het.”

      Conrad frons onbegrypend. Hy kyk na die vuurtjie en dan weer na Mynie.

      “Ek onthou daar niks van nie. Het ek ’n gogga in die vuur gegooi?”

      “Sy … sy hele lyf het opgekrul en … en sy dop het met ’n klapgeluid ge …” Sy ril. Sy kan nie die res van die woorde uitkry nie.

      Conrad kom vinnig na haar toe. Hy kom hurk voor haar en neem die hande weg wat in afgryse voor haar mond gehou word.

      “My engel, ek onthou nie dat ek so ’n wrede ding gedoen het nie, maar ek is jammer. Ek was ingedagte. Ek het nie geweet wat ek doen nie. Moenie so geskok lyk nie. Ek belowe jou ek sal nooit weer so iets doen nie. Ek sal môremiddag vir jou die mooiste verloofring in die hele wêreld gaan koop. Sal jy my dan vergewe?”

      Mynie