Luné Olivier

Liefde onbeperk


Скачать книгу

      

      Liefde onbeperk

      Luné Olivier

      Satyn

      Mam Connie, geen woorde sal die dankbaarheid in my hart kan beskryf nie.

      1

      Lelanie Ferris stap versigtig, op haar tone, al met die flou verligte stoep van die gastehuis in Clifton langs, kamer 109 se sleutels in haar hand. Sy het nie verwag om só laat van die jazz-uitvoering in die Kaapse middestad af terug te kom nie, maar Rozanne het haar op universiteit laas gesien en wou met alle geweld die aand om kuier. Dit moet al na twaalf wees. Sjoe, sy is nie meer gewoond aan sulke laat aande nie, maar Rozanne het blykbaar sedert universiteit nie veel verander nie. Dit is maar goed dat sy ’n Uber-taxi gevat het en nie self die gehuurde motor bestuur het nie, want die bottel wyn wat Rozanne bestel het, het haar so effens lighoofdig gemaak.

      Sy laat gly haar hand al langs die muur af soos sy na haar kamer vorder.

      Buite klots die branders liggies oor die rotse. Toe sy gister by mevrou Roets, die eienaar, ingeteken het, het sy eers oopmond na die pragtige uitsig oor die see gestaar en toe die interessante gebou beskou. Hier is ’n enorme stoep reg rondom. Swaar houtrelings, roomkleurige mure met ligblou insetsels. Skulpskilderye teen die tussenmure van die kamers.

      Sy asem die vars seelug diep in haar longe in.

      Die volgende deur moet haar kamer wees. Ja, die buitelyne van die kamernommer is net-net sigbaar: 109. Sy druk die sleutel in die slot, maar dit wil nie draai nie. Vreemd. Sy vat aan die handvatsel en die deur swaai oop. Oeps! Het sy dan sowaar vergeet om die kamer te sluit toe sy uit is? In die vervolg sal sy versigtiger moet wees.

      Lelanie gaan in en stoot die deur saggies agter haar toe, bang om die gaste in die kamers langsaan wakker te maak. As sy die lig nou gaan aanskakel, sal dit op die stoep skyn en dan pla dit iemand dalk. Nee, los dit liewer af. Sy weet darem nou al min of meer hoe die kamer uitgelê is. Dit is nie moeilik om haar pad bed toe te kry nie. En dis regtig al wat sy nou wil doen: gaan inkruip en slaap. Sy trek haar denimbroek doodmoeg uit en pluk haar bra behendig van onder haar hempie uit. Sy voel-voel haar weg tot by die koningsgrootte dubbelbed en skuif onder die duvet in.

      So ja, nou kan sy ontspan …

      Vroegoggend word Lelanie wakker uit ’n diep, droomlose slaap. Haar kop voel dof van die glasie wyn te veel wat sy gisteraand gedrink het. Rozanne het haar regtig g’n guns bewys nie.

      Lelanie druk haar kop weer in die snoesige kussing om verder te slaap. Die volgende oomblik slaan ’n sterk arm van agter oor haar lyf en word sy teen ’n harde borskas vasgetrek.

      Sy gil. Oombliklik helder wakker, ruk sy los en spring instinktief uit die bed. Haar hartklop weerklink soos donderweer en haar asem jaag.

      ’n Man! Hier is ’n man in die bed. Sy blonde kop het opgeruk en hy kyk verward rond. “Wat de joos?”

      “Wie de hel is jy? Gee pad hier uit!”

      “Huh?” Sy oë fokus op haar, rek dan wyer. Gestut op sy een elmboog, vee hy met sy ander hand oor sy gesig. Toe staar hy weer na haar. Geleidelik sprei ’n geamuseerde glimlag oor sy gesig.

      Sy oë gly oor haar waar sy in net haar stywe hempie en broekie staan.

      Haar oë volg syne na haar lang kaal bene. Met ’n klik van haar tong gryp sy haar denimbroek en pluk dit vinnig aan en vou haar arms beskermend voor haar bors.

      “Ek het gevra wat soek jy in my kamer? Jy beter nou loop voordat ek ’n klag van betasting teen jou lê.” Haar wange gloei, maar sy hou haar stemtoon laag en dreigend.

      Die blonde man kom stadig orent en glimlag tergerig vir haar, sy goed gevormde wenkbroue ietwat geboog. “Ek bly al twee nagte in hierdie kamer in dié gastehuis. Ek het niksvermoedend lê en droom van my droomvrou toe jy my wakker gegil het. Was jy sowaar in my bed? Ek sou eerder sê dit is jy wat my betas het.”

      “Ek het g’n niks van die aard gedoen nie! Ek bly al van eergister af in kamer 109 wat ek vir die week bespreek het.” Lelanie skep asem: “En hou op om vir my te lag! Jy kon my ten minste gisteraand van jou teenwoordigheid laat weet het. Jy kon gemaak het of jy snork of hoes of … Ek gaan die saak nou dadelik met mevrou Roets uitklaar.”

      “Dit is kamer 106 dié. Ek weet nie hoe laat jy gisteraand teruggekom het, ook nie hoeveel drankies jy ingehad het nie, maar toe ek elfuur gaan slaap het, was ek nog alleen. Buitendien is ek ’n vaste slaper wat gewoonlik van geen sout of water weet nie. So ek vra nederig om verskoning dat jy in dié omstandighede wakker moes word, maar jy is welkom om terug te klim in my bed en weer saam met my lepel te lê totdat die son behoorlik op is. Dan bestel ons sommer ’n koffietjie en ’n lekker ontbyt.” Met ’n tergende glimlag sak hy terug en bedek sy goed gevormde borskas.

      Ook maar goed, want haar oë wil die heeltyd soontoe dwaal.

      “Ek het nie te veel drankies gehad nie!” roep sy verontwaardig uit. “Ek het saam met ’n ou universiteitvriendin gekuier en … uhm … Dit is jý wat in my kamer is! Ek hét na die kamernommer gekyk.”

      Sy storm na die deur en pluk dit oop om die buffel reg te help.

      O, aarde! Hier staan die 1 en die 0, en langsaan ’n 6 wat onlangs een van sy skroewe moes verloor het, want dit hang skeef aan een skroefie. Sy moes dit laasnag vir ’n 9 aangesien het, maar die roesagtige buitemerke van waar die ses voorheen vasgespyker was, staan duidelik in die oggendson uit.

      In een beweging gryp sy haar sleutels wat op die tafeltjie langs die deur lê. “Sluit volgende keer jou kamer, mansmens!” slinger sy nog na hom voordat sy uitstorm.

      “Jammer, ou laai van my. Tannie Rosa berispe my gereeld daaroor.”

      Hy lag uitbundig.

      Vernederd, en sonder om terug te kyk, drafstap sy die stoep af om haar kamer te gaan soek. Drie kamers af in die stoepgang vind sy kamer 109, sluit die deur oop en slaan dit agter haar toe.

      Sy sak op die bed neer. Mansmense! Gryp sommer die geleentheid aan as ’n wildvreemde vrou in hul bed beland – tipies! Dalk het hy nog ’n meisie of ’n vrou ook, maar dit maak seker nie eens vir hom saak nie. Nes Geoffrey. En Geoffrey is nie so aantreklik soos hierdie man nie. Nee, die gas van kamer 106 het ’n harde, gespierde borskas waarteen enige vrou seker geliefkoos sou wou word.

      Maar nie sý wat Lelanie is nie. Ja, die man is droommooi en … maar hy het haar sowaar uitgelag en boonop geïnsinueer dat sy te veel drink.

      Niks kan verder van die waarheid wees nie. Die vernedering!

      Lusteloos kyk sy om haar rond. Die kamer is ingerig in wit en helderrooi. Hier en daar is daar iets blous, wat ’n mens aan die see laat dink. Teenaan die een muur is ’n donkerhoutlaaikas met ’n ketel, koppies en die nodige vir tee en koffie, asook tuisgebakte gesondheidsbeskuit.

      Laat sy maar vir haar ’n koppie koffie maak. Dalk voel sy ná die lafenis beter.

      Die koffie help inderdaad en ná ’n louwarm stort in die badkamer met sy see-tema, is sy gereed om die wêreld aan te durf. Meneer 106 se voet.

      Lelanie haal skoon klere uit haar tas, grimeer gou en wend rooskleurige lipstiffie aan. Nadat sy haar lang bruin hare in ’n poniestert vasgemaak het, gaan soek sy na mevrou Roets om die vermiste skroefie aan 106 se kamernommer aan te meld. Netnou maak nog iemand ’n fout en moet hulle met daardie aaklige man te doen kry.

      “Wat pla, hartjie? Het jy nog genoeg koffie en beskuit in jou kamer?” Die gryskopvrou lees die uitdrukking op haar gesig duidelik verkeerd.

      “Ek het genoeg, dankie, mevrou Roets,” sê Lelanie verleë. “Ek het net kom sê dat … uhm … die kamernommer van 106 hang skeef … en ek wil nie hê iemand moet dieselfde fout as ek maak en per ongeluk daar ingaan nie.” Sy dink ’n oomblik na. “En mevrou kan sommer vir die ongeskikte gas in daardie kamer sê hy moet sy deur sluit. Dit is onverantwoordelik en –”

      “Goeie genade! Het jy per ongeluk by Dian se kamer ingegaan? Wat het gebeur, hartjie?”

      Dian? Dan is dít sy naam.