p>
Omdat jy jy is
Elsa Winckler
Satyn
Proloog
Kathleen is die eerste een wat haar asem terugkry. Die hartseer oor die onverwagse dood van hul geliefde ta’ Peet sit nog rou in haar keel, maar die verstommende inhoud van hul tante se testament is ’n groter skok.
“Maar hoekom sou ta’ Peet so iets doen?” kry sy uit.
Haar susters is egter net ’n asemteug agter haar en Livie praat bo-oor haar laaste woorde.
“Maar dis totaal absurd, Pa. Waar het jy al van iets so Middeleeus gehoor?” Livie vee nog oor haar rooigehuilde oë, maar is duidelik hoogs ontsteld oor wat hulle so pas gehoor het.
Bella se hartseer van minute gelede is ook vergete. “’n Maand? ’n Hele maand lank? Op Greyton? Daar is niks op Greyton nie! Ons het daar gaan kuier, maar net omdat ta’ Peet daar was. Wat doen ’n mens ’n maand lank op Greyton? Dis ’n gehuggie tussen niks en nêrens.”
Hul pa gee ’n kuggie wat hy agter sy hand wegsteek, ’n gebaar wat wys hy probeer sy lag inhou. O, hy is geamuseer? Kathleen gluur hom aan. Wat so snaaks is aan die situasie, sal net hy weet.
Hy slaan met die agterkant van sy hand op die testament wat die prokureur vroegoggend laat aflewer het.
“Dis wat my suster se testament sê. Om jul erfporsies te kan kry, moet julle elkeen ’n maand lank op Greyton gaan bly. En voordat julle beswaar aanteken: Julle erf darem elkeen vyf miljoen rand …”
Livie val terug in haar stoel. “Dit is so tipies groothartig van ta’ Peet, en natuurlik waardeer ek dit, maar … ek kan beslis nie nou iewers heen gaan nie. Ek het allerhande onderhandelings en kan nie nou wegkom nie.”
“En ek het so baie bestellings vir kaartjies, ek kan my regtig nie draai nie, wat nog te sê ’n maand lank Greyton toe gaan,” sê Isobel met ’n sug.
Kathleen maak haar mond oop om haar eiertjie ook te lê, maar hul pa lig sy hand.
“Jul tannie Peet was baie lief vir julle en sy wou die beste vir julle hê. Hoekom sy hierdie voorwaarde het, sal ek nie weet nie, maar ek dink nie dis te veel gevra nie.” Hy wys met sy vinger na Kathleen. “Leen, ná jou aanlyn-besigheid so ontplof het, kan jy mos die erfgeld gebruik om ’n nuwe gebou aan te koop vir die verpakking, of hoe?”
Kathleen knik ingedagte. “Ek moet ekstra mense ook aanstel.”
“Vyf miljoen kan baie help, of wat sê ek?”
Voor sy kan antwoord, kyk hy na Livie.
“En jy, Olivia, het mos gesê jy wil ’n kliniek vir mishandelde vroue begin, mense aanstel? Jy kan ook doen met vyf miljoen, nè?”
Livie hap na woorde.
“En Isobel, as jy ’n tyd lank nie nodig het om allerhande kaartjies vir mense te maak om aan die lewe te bly nie, kry jy dalk weer kans om te skilder. Dis jou liefde, dis waarvoor jy geswot het. ’n Maand op Greyton is dalk net wat jy nodig het vir die kreatiewe muse om jou weer opgewonde te maak.”
“Ek is opgewonde …” protesteer Bella halfhartig.
“O, ja? Hoekom het ek jou so lanklaas sien lag?” Hy staan op. “En vyf miljoen rand beteken jy hoef jou nie te bekommer oor waar elke maand se huur vandaan kom nie. Hoewel jy weet jy is altyd baie welkom om by my te bly.”
Bella pers haar lippe saam en kyk weg.
“Dink hieroor en besluit onder mekaar wie eerste sal gaan, ek steek solank die vuur aan.” Hy stap deur toe, maar voor hy uitstap, kyk hy terug oor sy skouer, sy oë vol duiweltjies. “Die Dierebeskermingsvereniging sal baie bly wees oor vyftien miljoen rand, as julle nou régtig nie kans sien om op Greyton te gaan bly nie, maar ek dink tog julle kan eerder daarby baat.”
Hy is uit by die deur voordat hulle ’n woord kan uitkry.
1
Kathleen draf die trappies op na die prokureur se kantoor waar sy die voordeursleutel van ta’ Peet se huis moet gaan haal. Die kantore, eens ’n ou huis wat in ’n werkplek omskep is, is in die hoofstraat van Greyton en sy het dit maklik gekry. Dis al vieruur en sy wil nog die nodige gaan koop voor die winkels toemaak. Sy het ’n supermarkie langs die pad gesien waar sy alles behoort te kry wat sy sal nodig hê, maar as sy reg onthou, maak besighede op Greyton vyfuur toe.
Sy is nog altyd vies vir haar twee susters wat dinge so bewimpel het dat sy wat Leen is eerste haar maand lange ballingskap, soos Livie daarna verwys, op Greyton kom deurbring. Sy het probeer keer, maar uiteindelik was dit duidelik dis doodeenvoudig vir haar makliker om nou weg te kom as vir Livie en Bella.
Maar sy hanteer alle moeilike situasies op dieselfde manier – sy maak ’n plan en sy hou by die plan. Dinge val gewoonlik dan in plek. Sy moes in elk geval tyd hê om haar besigheidsplan vir haar aanlyn-onderneming op te stel en hoewel dit makliker sou wees as sy in Johannesburg gebly het, maak tegnologie dit moontlik om ’n besigheidsplan op enige plek op te stel.
En hier is sy nou. ’n Maand weg van alles, het sy redeneer, is eintlik net wat sy in hierdie stadium in haar lewe nodig het.
Omdat haar aanlyn-onderneming so half uit nood ontstaan het, het sy nooit kon droom dat dit so sou floreer nie. Sy wou net iets doen om haar pa en susters te ondersteun nadat sy klaar geswot het, en ta’ Peet teruggetrek het Greyton toe. Dit moes iets wees wat sy van die huis af kon doen sodat sy seker kon maak haar pa eet gereeld en dat daar vakansies ’n tuiste vir Livie en Bella sou wees om na terug te keer.
Kathleen glimlag toe sy onthou hoe sy op soek was na kombuisware wat moeilik bekombaar is en dit haar getref het – sy gaan ’n aanlyn-besigheid begin om sulke ware te verkoop. Oor die afgelope drie jaar het die besigheid sowaar ’n lewe van sy eie gekry.
Dis lankal nie meer uit nood dat sy ’n aanlyn-onderneming bedryf nie. Livie en Bella het klaar geswot en hul eie blyplekke gekry. Haar pa het aangekondig hy gaan ’n kleiner plek koop en sy hoef hom nie meer te “babysit” nie en sy het ’n plek naby Livie en Bella gekoop. Nou moet sy ’n duidelike sakeplan vir die toekoms van die besigheid opstel.
Nee wat, dis eintlik nie so sleg om die eerste een te wees wat in ta’ Peet se huis kom bly nie. Sy frons. Buitendien, Livie se lewe is stadig maar seker besig om na normaal terug te keer ná ’n verhouding wat verbrokkel het, sy wil nie die een wees wat haar dwing om iets te doen waarvoor sy nie nou kans sien nie. Haar sus praat nooit oor wat presies gebeur het nie, maar hulle almal het bekommerd toegekyk hoe die man in haar lewe haar so gemanipuleer en afgekraak het dat daar baie min van hul sorgelose, vrolike sus oorgebly het. Dis ’n jaar later en ’n mens kry gelukkig al hier en daar glimpe van die ou Livie.
Kathleen sug. Sy is ’n bietjie bekommerd oor Bella, maar miskien sal haar kleinsus een van die dae gereed wees om te praat oor die rede hoekom sy alle mans op ’n afstand hou. Dis nie asof sy nie met mans uitgaan nie, inteendeel.
Oor hul pa is sy baie gerus, hy is baie gelukkig in sy kleiner huis en het iemand aangestel wat kos maak en die huis aan die kant hou.
So, hier is sy nou, op Greyton. Hoekom hul geliefde tante wou hê hulle moet elkeen vir ’n maand hier kom bly, is nog vir niemand duidelik nie. Dalk is daar tog ’n brief vir hulle in haar huis of by die prokureur wat lig op haar voorwaarde kan werp.
Die deur na die prokureur se kantoor staan oop en Kathleen stap in. Die sleutel vir ta’ Peet se huis is hopelik by die ontvangsdame, vir lang geselse met die prokureur het sy nie nou lus nie. Waarskynlik is hy besig, want haar haastige oproep vanoggend van die lughawe af het hulle nie juis baie tyd gegee om vir haar koms voor te berei nie. Gewoonlik is sy meer georganiseer, maar nadat sy binne ’n week besluit het om af te kom, moes sy so baie dinge gereed kry vir haar besigheid dat sy eers vanoggend onthou het sy moet reël vir die sleutel vir ta’ Peet se huis.
Agter die toonbank sit ’n jong meisie met ’n groot glimlag.
“Middag, jy is seker Kathleen Mulder?” vra sy vriendelik.
Kathleen glimlag vir die