Shéri
Nes ek is
Shéri Brynard en Susette Brynard
soos vertel aan Colleen Naudé
Lux Verbi
Ek dra hierdie boek op aan twee mense wat my só baie gehelp het, maar wat nie meer daar is om my lewe te deel nie:
My pa, Jerry Brynard, wat my dadelik aanvaar en liefgehad het. Hy het my geterg en met my gespeel en hy was so trots op my, nes ek is. Ek mis hom elke dag van my lewe, maar veral wanneer wonderlike goed met my gebeur. Ek wens ek kon my eerste boek vir hom gee, geteken natuurlik!
My ouma, Sarie Horak, wat gebid het dat my ma ’n regte hemelkindjie, wat liefde en geluk uitstraal, sal hê. Sy het later geglo sy het daardeur vir mý gebid, nes ek is. Sy het my met geduld geleer, my erg bederf, en ek het geweet dat sy enigiets vir my sal doen. Sy het vir my gebid ook. Daardie gebede is nog elke dag by my. Ek sal altyd vir my ouma lief wees.
Ek dank my Hemelse Vader vir dié twee wonderlike mense.
Shéri Brynard
Oktober 2017
Die skryf van die boek was ’n sprong in die duisternis. Dit was Maretha Maartens se voorstel, ná ure se geduldige gesprekke met my en Shéri met wyse insig sorgvuldig gemotiveer is, wat daartoe gelei het dat Lux Verbi die idee van so ’n boek aanvaar het. Daarsonder sou die boek nie die lig gesien het nie.
Sy het ook gesê dat die Here die skryf van hierdie boek in die hande van die regte persoon sal plaas – en Hy het.
Maretha, dankie vir jou aanvoerwerk vir die projek, en dat jy ons boonop deurgaans van opregte nederigheid en liefde vir jou Skepper en jou naaste geleer het, sonder om woorde te gebruik.
Susette Brynard
Oktober 2017
Voorwoord
S héri – Nes ek is is die verstommende verhaal van ’n merkwaardige jong vrou van Bloemfontein. Maar dit is ook die verhaal van ’n formidabele span: Shéri Brynard en haar ma, Susette.
Shéri het Trisomie-21-Downsindroom, wat beteken dat elke sel in haar lyf een ekstra chromosoom het: 47 in plaas van 46. Dit is die volledige vorm van die sindroom. Bloedtoetse kort ná haar geboorte het elke sprankie hoop verwyder dat dit dalk die mosaïek-tipe Downsindroom kon wees, die soort waar net sommige selle aangetas is. Desondanks het Shéri se ouers geweier dat Downsindroom haar ’n betekenisvolle lewe ontneem. En sy het al die kanse wat hulle haar gebied het, aangegryp.
Dit het gelei tot groter hoogtes as wat enigeen met Downsindroom nóg in Suid-Afrika bereik het en daarvoor is sy hier en ook internasionaal vereer. Elke mylpaal op haar pad van 35 jaar is die gevolg van baie harde werk, ’n ysere wil, deursettingsvermoë, en ’n diep afhanklikheid van, vertroue op en geloof in God, soms in baie moeilike, hartseer omstandighede. Dit is ook die gevolg van haar ouers se vasberadenheid om haar só groot te maak dat sy binne die normale gemeenskap haar plek kan vol staan en haar volle potensiaal kan bereik.
En nou het sy haar lewensverhaal geskryf, aangevul deur onderhoude met haar. Ondanks Shéri se bewese prestasies kan mense met vooropgestelde idees oor Downsindroom waarskynlik steeds skepties wees of dit inderdaad haar eie werk is. Ek het die dele wat Shéri geskryf het, geredigeer net soos dié van enigiemand anders wat ’n eie verhaal vertel. Om meer te doen was onnodig in die geval van hierdie jong vrou met ’n diploma in Educare, wat wêreldwyd as motiveringspreker optree. In die proses het ek wel daarna gestreef om haar stem behoue te laat bly; net soos ek daarna gestreef het om Susette se stem in Deel 2 te behou.
Shéri – Nes ek is is ’n inspirerende verhaal wat mense se persepsies oor Downsindoom gaan uitdaag.
Colleen Naudé
Oktober 2017
Deel 1
My lewe met Downsindroom
Aanhouer wen
“Wie is nou eintlik die ergste perfeksionis in ons huis?” het ek al vir my ma gevra. “Pappa!” sê sy dan.
My pa se super-perfeksionisme was in sy liasseerkabinet te sien toe ons die begrafnis- en ander polisse ná sy dood daaruit moes haal. My ma het so gehuil dat sy byna niks kon sien nie, maar toe sy die laai ooptrek, het alles daar gelê, asof my pa geweet het iets vreesliks gaan by die Augrabies-waterval gebeur en dat selfs my ma wat alles raaksien, in haar hartseer bo-oor goed sou kyk.
Ek is érg gesteld op roetine en ek floreer as daar orde is.
By my ma sien ’n mens die strewe na orde aan al die albums en lêers wat sy op datum hou. En in haar kantoor by die universiteit. Sy hou van skóón gordyne en geraamde foto’s. Sy hou nie daarvan wanneer die wind in die droogte die gordyne vol stof waai nie. Elke ding het sy plek in haar lewe en kantoor, selfs my kussing en kombers vir die tye wanneer ek iets soos griep onder lede het en dan sommer agter of voor haar lessenaar op die mat lê terwyl sy klas gee of vraestelle nasien.
Wanneer ek nou na my ouma Sarie op foto’s kyk, sien ek haar ingesteldheid om altyd netjies te wees. Toe sy nie meer jonk was nie, was haar grys hare so netjies gewave soos dié van die vroue in die skilderye van die ou meesters in oorsese museums. Ons dogters het graag foto’s van Ouma geneem. Of haar tussen ons laat sit vir nog ’n foto.
Foto’s vertel van oomblikke, sê my ma. Ons ouma Sarie-foto’s vertel van al ons mooi oomblikke. Ek onthou my ouma se sagtheid, haar skoon geur. Ek het gewoonlik gesorg dat ek styf teen haar sit. Maar my ouma het dikwels ná so ’n fotosessie suurstof gaan gebruik. Sy het dertig jaar lank emfiseem gehad. In die tien jaar voor haar dood het sy pal suurstof gebruik.
My ouma het haar siekte met waardigheid gedra. Sy het nooit gekla nie.
So was my ouma Sarie. Altyd vol moed, al kan ’n mens op die foto’s wat kort voor haar dood geneem is, sien hoe bleek sy is en hoe min lug daar waarskynlik in haar longe is.
Selfs tóé het my ouma altyd gevra: “Lyk my hare netjies?” En: “Ag, kyk die vlekke op my hande!”
Ek dink ek het eenders oor my pa en ouma Sarie gedink. Ander mense gaan dood en word begrawe. Nie my pa of ouma Sarie nie. Hulle, het ek gedink, sal nooit doodgaan nie.
Baie mense én mense met Downsindroom hou van roetine en orde, dan voel nuwe plekke en dinge vir hulle nie so erg vreemd nie. Mense hou van beloftes wat gehou word, dit is ordelik en laat mens veilig voel. Maar ek soek méér as orde.
In ons huis was my pa die middelvinger, want hy was lank en (partykeer) skraal en as handsome as can be. Eintlik het hy nog aantrekliker geword toe hy in sy veertigs was, want hy het sy snorretjie afgeskeer en ’n baie classy bril gekry. In ons gesin van vyf was Pappa dus die middelvinger, Mamma die wysvinger, Zettie die fyn pinkie, Marisa die langerige vinger tussen die pinkie en die middelvinger en ek die duim wat nooit grond onder die duimnael wou hê nie.
Ek hou daarvan as my naels netjies versorg is en ek probeer altyd goed lyk.
By die skool vee ek krummels van die kinders se monde af. En ek vee hulle neuse ook af, as hulle dit nie self kan doen nie, maar die meeste kan darem.
Ek is eintlik baie soos my ma. Sy leer my nog elke dag om alles wat rondlê, op te tel en te bêre. Nou leer ek dit vir die kinders by die skool. Maar partykeer maak ek of ek nie my eie deurmekaar kamer sien nie.
Party kinders noem my sommer Shéri, maar baie van hulle praat met my soos wat hulle met mnr Hugo, die skoolhoof, of met juffrou Lindie en die ander onderwysers praat. Baie kinders kan nie praat nie, hulle maak net geluide of hou aan my arm vas en kyk tot binne-in my hart, verby my oë.
Ek ken mnr Dawie Hugo, ons skoolhoof by Lettie Fouché, al jare en jare lank. Dit was hý wat toestemming gegee het dat my pa-hulle my