T.T. Cloete

Jukstaposisie


Скачать книгу

weet nog was dit nou weer

      al die opwinding en gehaarklowery waaroor

      al die geminagte romanhelde en -heldinne swyg

      al die voos gedigte geen patetiese teaterheld kan hardop

      meer kla nie die verbeelding en idees en erns is ingeryg

      in letters en reëls bo- en onderkas recto en verso weggestop

      in katerne en rakke wie wil terugkeer

      na prosaïese karkaskarakters na krukhelde teaterloos

      nagelaat na rolstoelessays na weleer

      se versgevoelighede uit de oude doos

      Leipoldt 100

      Beste Leipoldt die mense is nog soos altyd op geld

      gesteld die hekseseks is nog net so volop en lekker maar meer

      openbaar en sonder nawee daar is vandag nog steeds geweld

      soos in jou tyd die mens bly degenereer

      sonder dat daar egter ’n einde kom

      aan sy degenerasie Slegs enkele malles laat hulle moveer

      soos altyd om onder miljoene dowes versies te maak te dom

      bly die meeste om te leer

      van Boggom en Voertsek Nog steeds kneusbaar

      is die plant nog altyd welriekend

      is die grond en die blaar

      die krieke deurentyd ongehoor kriekend

      nog steeds is daar die warm klip en die bossies

      wat songeur die insek en die voël

      nog steeds die varing en katdoring die klossies

      bibber nog spokige aaklighede bly goël

      op verlate plase Maar nog altyd die grootste wonder

      is dat die liefste plekke waar jy eenmaal was

      steeds oos bly lê van waar die son onder

      gaan ver anderkant jou as

      Tiener toneelliefhebber

      Teuns Botha

      Op die prosessiedag om my te stig

      het my Moeder my na die toneel

      waarin Mariken die mooi meisie speel

      geneem op die woelige Mark in Maastricht.

      Emmie en al die emme, die Josie

      Moenen, Maria, Modikak, snoeshane

      en hoere, die grootbek courtisane

      van die hertog, by die Goue Boom Maledevosie

      halfnaak dansend, van onder af gille en rook,

      ’n boeremeisie op krukke, donder, dore

      en dorpers, God gekroon op sy goue troon, kore

      hemels en satans, die Pous se klere, die biskop, begyne, gekook

      uit die hel het my grondeloos beïndruk,

      die vrolikheid op die Mark,

      die blinde se hond, hoenders, die snuggerige vark,

      die duiwels wat koppelaars kaalboud afruk

      na Lucifer, tót hoe roerend déúr God Maskeroen

      boetedoenend in ’n soet stemmetjie

      na haar sewe roekelose sondes mooi Emmetjie

      met Hom weer laat versoen . . .

      . . . o O na Moenen die toneel

      verlaat het, vir my te vroeg na die hel

      natstert terug, het die Mirakel van die spel

      my grondig verveel . . .

      Hommage à CM vd Heever

      – al is dit vir min

      beste CM ek weet alte goed min mense lees

      nog jou gedigte in die lig van die sekel- en volmaan

      van die literêre modes het die angswekkende mooi hees

      geskreeu van jou wildeganse inderdaad verlore gegaan

      hier waar jy en jou eerder ontslape

      mooi Indoena lank gelede eenmaal was

      hier wei nou snotneuslammerskape

      ’n hele kudde in die kortgras

      N.a.v. FvdH WEGL en JFEC

      Soggens as die boere

      diklywig lande toe ry

      met hulle Fords, verby

      is die tyd van die toom

      en saal vir goed, stroom

      die motors in sierlike snoere

      na die polsende gasvrye middestad.

      Baie lankal genees is tering

      en hoes. Die Vrystaatse stoftorings

      het my van die lekker boerwees

      van W.E.G. Louw wel deeglik genees.

      Ons wat aan die wolke vingerpunt vat

      en mynend in die ryk kern vroetel is afkerig

      van Jan F.E. Celliers se opgeskroefde geseur

      en geteem by ’n vroegaandvuurtjie. Die stad gebeur

      onverpoos etmalig, die digte dromme daar reageer

      op die aarde se trillings en op die hemelse weer

      miljoenemenigvuldig eendragtig, vervoerd gevoelig.

      Impasse

      Ik weet het niet?

      Ons staan in die kombuis, ’n vrou en ek.

      “Waaroor, Kokkie, wil jy dat ek moet skryf,

      Voorsitster van die Reg van Vrou en Wyf,

      kom sê so ongeveer in die bestek

      van veertien verse, slim Doktor Ciclopia,

      kom sê wat wíl jy hê?” “’n Strak sonnet,

      metries, vol leestekens, en ek belet

      dat jy swaar woorde kies, skryf dom, ek vra

      dat jy my nié moet irriteer nie – vir my

      ook géén Latyn nie, net wat moeiteloos

      kan lees terwyl ek afval voorberei.

      Streel my, maak my plesierig, my ou bielie,

      en geen erns, net teer emosies soos

      ’n veer wat prettig oppervlakkig kielie.”

      Stories

      . . . vangt de fluitketel te fluiten aan

      1 001 wintersaande klein voor

      die stoof, die ketel sing

      bestendig en laag, is daar getoor,

      is stories gestoom van Vereeniging

      en transportry, van steel

      en roof, van konsentrasiekamp

      en rebellie, is leuens verbeel.

      Dit is verdamp.

      Die mond wat ons gevoer

      het is nou ongetuit oorgegee

      aan die koue klei.